Wys tans plasings met die etiket Filippense 1. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Filippense 1. Wys alle plasings

Saterdag 27 Augustus 2022

KAN DIT WAAR WEES? JA, BESLIS!


[Vooraf - Besef ons wat ’n voorreg dit is om op ’n oomblik soos hierdie God se Woord te hê? As dit oor die dood gaan staan ons as mense maar sprakeloos - wat sal ons nou kan sê? Ons staan ook magteloos - wat kan die slimste of sterkste van ons daaraan doen? Niemand van ons kan regtig iets sinvols sê of doen nie, maar nou is ons bevoorreg om te hoor wat God die lewende God self vir ons in ’n situasie soos hierdie sê.] 

Maak assbelief die Woord oop by Filippense hoofstuk 1. Ons lees van vers 20 tot 24.

Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,
want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie.
Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;
maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.

Ons is vandag hier bymekaar omdat die werklikheid van die dood van ’n geliefde ons bymekaar gebring het. Ek sê werklikheid van die dood - want al hou ons nie van die dood nie, al praat ons nie graag daaroor nie - dit bly ’n feit. Dis die een poort waardeur ons almal moet gaan. (tensy ons sou leef by die  wederkoms) Die dood is onlosmaaklik deel van ons verganklike wêreld en ons brose bestaan. Ons praat so maklik van die “land van die lewendes” - iemand het gesê “this world is the world of the dying - the next is the land of the living.” Ons almal hier bymekaar is inderdaad sterflinge - ons is sterwend ons weet nog net nie wanneer die proses voltooi sal word nie.

Vir Paulus was die dood ook ’n werklikheid. Hy het voortdurend in die skaduwee van die dood geleef: sy lewe is juis bedreig is as gevolg van sy evangelieverkondiging. As hy hierdie brief aan die Filippense skryf is hy juis weer in die tronk en hy hou rekening met die feit dat hy dalk kan sterf. En dis nou juis so merkwaardig - in hierdie situasie maak hy ’n baie radikale uitspraak oor die dood ; “om te sterwe is vir my wins!” Kom ons kyk net kortliks na hierdie uitspraak vanuit twee hoeke: Wat bedoel hy hiermee? En hoekom kan hy so ’n radikale ding sê?

1) Wat bedoel Paulus?

Sterwe is wins! Die dood is tot my voordeel! Ek wen op hierdie transaksie. Met respek wil mens tog vra : "Paulus is jy regtig eerlik? Is dit nie dalk sommer nou net sedige predikantspraatjies nie? Aangeplakte vroomheid?"  Wees verseker, Paulus bedoel wel wat hy sê. Dis nie ’n wilde halsoorkop stelling nie. Ons sal sien wat hy hier sê is weldeurdag en hy het grondige redes daarvoor. Dis ook nie ’n vroom stuk teorie, wat by ’n lessenaar in ’n gerieflike kantoor uitgedink word nie. Nee, dis ’n glashelder oortuigde waarheid wat hom verbly daar binne in sy tronksel!

So wat bedoel hy met die sterwe is wins? Hy bedoel inderdaad dat die baie voordelig sal wees as hy doodgaan. Hoekom sou die dood vir hom voordelig wees? Mens sou ’n hele paar redes uit sy geskrifte kon aflei:

~ die dood bring vir Paulus ’n einde aan lyding en stryd. Ja, vir elke opregte Christen beteken dit die einde van gespot en uitstoting, van lyding op baie maniere - vir Paulus ook einde aan fisiese lyding ter wille van die evangelie.

~ die dood bring ook vir die kind van God die einde van die stryd teen sonde en onvolmaaktheid. Dis immers die daaglikse stryd waarvan elke kind van God goed weet - ek moet stry teen versoekings en sonde! Teen die lsite en aanvegtinge van Satan. En dis 'n uitputtende stryd!

~ die dood is nie ’n verskrikking vir die kind van God wat getrou gebly het nie. Daar wag ’n heerlike beloning by die wederkoms! *

~ daar is egter nog iets wat Paulus kan mens amper sê opgewonde maak oor die dood - hy weet hy gaan nou by Christus wees (23) Terloops, hieruit kan ons duidelik aflei dat Christene wat sterwe onmiddellik in Christus se teenwoordigheid is - al sal ons liggame eers by die wederkoms opgewek word. Paulus is vas oortuig, hy gaan sy lewende Verlosser persoonlik sien sodra hy sterf! Die Jesus wat in sy plek al sy skuld gedra het en daarvoor gestraf het. Hy gaan kyk in die oë van Jesus wat hom oneindig liefgehad het, hy gaan die spykermerke in sy hande en voete sien wat Jesus moes ontbeer vir sy aaklige sonde! Kan jy dit insien? Om hierdie rede is Paulus nie meer net nie bang nie, nee hy sien selfs uit na die dood, hy verlang daarna. (daarom praat hy van ’n tweestryd - weet hy het nog werk twv die Christene, maar eintlik wil hy eerder by Christus wees)

2) Waarom kon Paulus so seker wees dat die dood al hierdie genoemde voordele vir hom sou bring? 

Dis tog duidelik dat nie alle mense rede het om uit te sien na die dood nie. trouens vir baie mense is die dood ’n verskrikking, ’n angswekkende maar onvermydelike ontmoeting. So waarom kan Paulus so positief wees? Ons kry die antwoord in die eerste helfte van die vers. "om te lewe is vir my Christus". Nou in die vorige vers sê hy wat hy hiermee bedoel. Sy lewe draai daarom om Christus te verheerlik. (20) Wat beteken dit om Christus te verheerlik? Hoekom en hoe verheerlik mens Christus? Ons kry die leidrade in Paulus se lewe en sy briewe.

Alles het begin daar op pad na Damaskus. Jy ken mos die verhaal in Handelinge 9. Jesus self het daar beslag gelê op Paulus lewe, hom geroep en Paulus het met nederige onderwerping geantwoord. Almal van ons hoor nie ’n stem nie, almal sien nie ’n lig nie - maar ek is seker almal van ons hier is al gekonfronteer met Jesus! Jy weet wie Hy is, jy het al baie van Hom gehoor. Het jy al in oorgawe gebuig? 

Die punt is maar net dit : slegs mense wat persoonlik Jesus se heerskappy aanvaar het en aan Hom behoort sal eendag die dood as voordelig beleef. Ons sien Paulus het ’n verlange en sekerheid  - die twee sake hou verband met mekaar. 

Dis tog net logies. Dis net as ek seker is dat my sonde vergewe is, dat ek sal kan uitsien om Christus te sien. As my sonde en skuld nog aan my kleef sal ek nie Christus wil sien nie. As my gewete belas en my siel nog met boosheid besmet is, sal die wete om voor die heilige Jesus te verskyn my verskrik. Nou kan mens verstaan waarom Paulus met vreugde uitsien om Christus te ontmoet - Hy het vergifnis ontvang, hy is vrygespreek van al sy sondeskuld. Hoe het dit gebeur? Ons vind die antwoord in dieselfde brief - “en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (3:9) Hy het persoonlik in Jesus sy vertroue gestel. U sien dis die basis van Paulus se sekerheid en verlange - hy het ’n persoonlike vertroue op die gekruisigde Jesus. Hy roem in die kruis!

Paulus het verlossing en vergifnis, ja lewe in Jesus gevind. Dit gaan egter nog verder. Dit beteken dat Jesus die einddoel en die sin van sy lewe was. Die middelpunt van sy bestaan. Sy lewe het gesentreer rondom Jesus. Sy lewe was ’n offer aan Christus. Dit word so pragtig uitgespel in 3:10. (NAB -1983) “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,”

Hy sê hierdie woorde natuurlik as iemand wat Christus reeds geken en ontmoet het. Dis ‘n beskrywing van sy ideaal as Christen, dis sy lewensmoto. Vriend kan jy sê - “om te lewe is vir my Christus?” Ken jy Hom as Verlosser of spartel jy nog in die duisternis? Is dit jou ideaal om vir Hom te leef of leef jy net vir jou selfsugtige materialistiese belange? Wat is jou eerlike antwoord? Vandag is miskien ’n baie gepaste tyd om hieroor te dink? 

Onthou - net as jy kan sê “om te lewe is vir my Christus” sal jy ook in die aangesig van die dood kan sê “om te sterwe is vir my wins.”

AMEN

*Sien 2 Timoteus 4:6-8 “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.”

En verder - beleef jy tans depressie, ongemak of selfs vrees en paniek oor die dinge wat jy rondom jou sien? Kliek op DIE HEERLIKE ONSIGBARE WERKLIKHEID!

Maandag 23 September 2019

FEITE VIR 'N DAG SOOS VANDAG...

'N NUWE SIENING OOR DIE DOOD, NIE GEBOU OP GEVOELENS NIE, MAAR OP FEITE!


Feite oor die dood en wat daarna gebeur is skaars; fiksie is volop! Ons lees uit God se Woord (die enigste bron van ware feite oor die DOOD) en wel uit Filippense 1:20-26.

Soos almal seker weet is Paulus in die tronk en dis nie heeltemal seker dat hy wel lewend daar sal uitkom nie. Wat egter opvallend is, is sy positiewe houding en gesindheid. Hy kla nie, hy vrees nie, inteendeel hy skryf 'n brief aan die gemeentelede van Filippi en sy hooftema is : BLYDSKAP!

Nie eers die moontlikheid van 'n naderende dood kon hom neerslagtig maak nie! Binne hierdie konteks maak hy 'n radikale stelling: "om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is wins!" (vers 21)

Dis 'n uiters bevrydende en positiewe siening oor die die dood. Wat is JOU siening vandag by hierdie geleentheid oor die dood? Daar bestaan mos verskeie opinies en gesindhede rondom die dood:


VERSKEIE SIENINGS

VREES. Dis die groot vyand, die donker, onbekende, skrikwekkende einde, waaraan ek liewers nie eens wil dink nie. Ek weier om eers daaroor te dink dat ek die volgende een gaan wees wie se roudiens ons sal bywoon... Dit kan mos nie regtig met my gebeur nie!

GELATE AANVAARDING. “Ag, almal moet maar doodgaan... Wat kan mens daaraan doen? Wie gee om...?” 

DAPPER HOUDING. Ek sal nie bang wees nie en sal nie wys ek is bang nie. Amper ‘n uitdagende minagtingtende houding. Mens hoor dit soms: “My ou toppie het mos die emmer geskop. Fanie het die lepel in die dak gesteek...”

SENTIMENTELE NAÏWITEIT. Mens hoor dit deesdae baie algemeen by roudienste en huldeblyke... (veral by die sogenaamde beroemdes) “John speel nou rugby in die hemel vir die eerste span, James jaag nou “rally” in die goue strate, Jakes is seker stout soos altyd en die engele moet maar net aanpas en probeer byhou...” Sentimentele snert, uitgespreek deur mense wat totaal onkundig is oor die Bybel se boodskap!

Die evangeliese siening oor die dood:

DIS WAARLIK WINS!

Die Christen se siening, soos Paulus dit in die werklike lewe verwoord het, is iets heel anders : Die sterwe is wins! Nie net die afwesigheid van vrees nie, maar ‘n positiewe uitsien. Maar dis ook ‘n nugtere berekende uitsien, gebou op feite! Bybelse feite, Goddelike waarheidsfeite. Wat beteken hierdie wins nou prakties?

Paulus verklaar : “...ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;” (Fil.1:23)

Twee sleutelbegrippe is belangrik in vers 23: “heengaan, by Christus”

Wat sou hy bedoel met heengaan? 2 Kor. 5:1 gee vir ons ‘n leidraad. “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.” Die dood is nie meer ‘n verskrikking nie, dis nie ‘n donker einde nie, dis ‘n verhuising van ‘n tydelike woning na ‘n ewige woning. Dis net ‘n oppak en vertrek na my finale blyplek. As jy vanuit die Woord weet wat is jou bestemming, behoort die verhuising geen verskrikking te wees nie!


Die kernrede vir Paulus se blydskap is dat hy by Christus sal wees. Van aangesig tot aangesig sal ek Hom sien wat my liefgehad en sy lewe vir my gegee het. Onbelemmerde en onverstoorde gemeenskap met die volmaak liefdevolle Jesus Christus. Geen pyn, geen sonde, geen twyfel, geen stryd, net die volmaakte teenwoordigheid van onbeskryflike liefde! ‘n Tuiskoms by my ware vaderland en my ware Redder-Koning! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Fil. 3:20)

Let Wel : Paulus se positiewe siening oor die dood beteken allermins dat hy swartgallig oor die lewe was! Inteendeel, hy straal 'n positiewe gees uit selfs hier binne die tronk. Hy sien die lewe as 'n geleentheid vir "vrugbare arbeid" en 'n kans om "Christus te verheerlik." Hy het nie 'n selfbejammerende houding van, "ag, dit gaan so sleg, ek wil maar liewers doodgaan," nie! Paulus leef positief voluit, maar hy besef, as hy moet sterwe is dit ook positief. Weereens, 'n wen-wen situasie.

Die kind van God het ‘n unieke beskouing van die lewe en van die dood! 

“Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Die “en” is baie belangrik. Dit koppel die twee helftes aanmekaar. NET mense wat kan verklaar “Vir my is die lewe Christus”, kan ook met vertroue sê : “die sterwe is wins.” Kan jy dit sê?


Dinsdag 21 Junie 2016

KYK NUUT NA DIE DOOD

Die apostel Paulus maak ‘n ingrypend radikale stelling as hy in Filippense 1:21 verklaar : “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” ‘n Christen kyk anders kyk na die lewe*, ‘n Christen kyk ook anders na die dood. Dis so radikaal anders, dat die gemiddelde normale beskaafde mens dink jy is mal as jy verklaar : “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Inderdaad klink dit mal om te sê : “Vir my is die lewe Christus” en nog maller (veral op ‘n dag soos vandag) om te sê : “die sterwe is wins.”

Geliefdes, hoe sien ons die dood? Mense hou nie daarvan om hieroor te praat nie en probeer dit ten alle koste vermy. Mense hou nie daarvan as jy vir hulle vra : Is jy gereed om te sterwe nie? Vir baie voel dit soos ‘n belediging of sommer net swartgallig en morbied om oor die dood te praat. Vandag hier by die afskeid van ‘n geliefde word ons as’t ware gedwing om hieroor na te dink. (en mag die Here dit positief in elkeen van ons se lewens gebruik) 


Die ware rede vir ons ongemak met die dood is vrees. Die mens het ‘n vrees vir die dood, want diep in ons harte weet ons dat ons dan oop en bloot voor God sal staan wat dwarsdeur ons sal kyk. 

Hierdie algemene vrees en ongemak wat ons oor die dood het, maak Paulus se stelling juis te meer radikaal, anders, heerlik, bevrydend! Waarom kan hy so iets kwytraak? (en onthou net weer hy skryf dit nie in ‘n akademiese omgewing soos ‘n studeerkamer nie, hy sê dit in ‘n tronk waar hyself die dood in die gesig staar) Hoe kry Paulus dit reg om so positief te wees? Die evangeliegebeure, die kruis en opstanding het vir altyd ‘n nuwe wending gebring oor hoe ons die dood moet beoordeel. In die Ou Testament was daar nog baie vaagheid oor die lewe na die dood (selfs vir die vrome koning Hiskia was die dood ‘n verskrikking) In die Nuwe Testament is daar ‘n positiewe siening oor die lewe na die dood en verloor die dood sy verskrikking. Daarom kan Paulus uitroep : “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor. 15:55) Hierdie nuwe positiewe siening van die dood is die direkte gevolg van Jesus uitwissing van ons sondeskuld aan die kruis (want ons sonde is die rede hoekom ons bang is vir die dood) en sy liggaamlike opstanding uit die graf. Hy het die dood oorwin en die lewe vir ewig ‘n werklikheid gemaak. Het die evangelie al jou siening oor die dood verander?

Soos daar verskillende houdings is oor die lewe is daar vandag verskillende houdings oor die dood. Toets jouself, hoe dink ek oor die dood? Wat is my eintlike gevoel oor die dood?

VREES vir die dood. Dis die groot vyand, die donker, skrikwekkende einde, waaraan ek liewers nie eens wil dink nie.

GELATE AANVAARDING van die dood. Ag, almal moet maar doodgaan... Ons trek maar skouers op...

DAPPER HOUDING teenoor die dood. Ek sal nie bang wees nie en sal nie wys ek is bang nie. Amper ‘n uitdagende houding. Ek sal nie huil nie, nie eers vandag nie...

SENTIMENTELE NAÏWITEIT rondom die dood. Mens hoor dit deesdae baie by roudienste en huldeblyke... “John speel nou rugby in die hemel vir die eerste span, Kobus jaag nou “rally” in die goue strate, Gert is seker stout soos altyd en die engele moet maar net aanpas en verlief neem...” Sentimentele snert, uitgespreek deur mense wat totaal onkundig is oor die Bybel se boodskap!

Die Woord van God daag ons vandag uit tot 'n nuwe siening:

DOOD IS WINS! 

Die Christen se siening is iets heel anders : Die sterwe is wins! Nie net die afwesigheid van vrees nie, maar ‘n positiewe uitsien daarna. Maar ook ‘n nugtere berekende uitsien, gebou op feite! Bybelse feite, Goddelike waarheidsfeite. Dis met ander woorde nie 'n futiele wensdenkery nie.

Wat beteken hierdie wins nou prakties? Twee sleutelbegrippe wat ons in Fil. 1:23 kry is belangrik : “heengaan, met Christus” 

"...ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;" (vers 23) 

Wat sou hy bedoel met heengaan? 2 Kor. 5:1 gee vir ons ‘n leidraad. “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.” Die dood is nie meer ‘n verskrikking nie, dis nie ‘n donker einde nie, dis ‘n verhuising van ‘n tydelike woning na ‘n ewige woning. Dis net ‘n oppak en vertrek na my finale blyplek.

Die kernrede vir Paulus se blydskap (en positiewe velrange) is dat hy met (by) Christus sal wees. Van aangesig tot aangesig sal ek Hom sien wat my liefgehad het en sy lewe vir my gegee het. Onbelemmerde en onverstoorde gemeenskap met die volmaak liefdevolle Jesus Christus. Geen pyn, geen sonde, geen twyfel, geen stryd, net die volmaakte teenwoordigheid van onbeskryflike liefde! Tuiskoms by my ware vaderland en my ware Redder-Koning! Paulus stel dit so : “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus," (Fil. 3:20)

Die kind van God het ‘n unieke beskouing van die lewe en van die dood! “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Die “en” is baie belangrik. Dit koppel die twee helftes aanmekaar. NET mense wat kan verklaar “Vir my is die lewe Christus”, kan ook met vertroue sê : “die sterwe is wins.” Kan jy dit sê? Dit maak die verskil...AMEN

Om beter te verstaan wat beteken, “vir my is die lewe Christus”, kliek op LEWE

Saterdag 21 November 2015

DIE GROOT FEIT WAT 'N VERSKIL MAAK...

op 'n hartseer dag soos vandag!


(Ons is hier bymekaar omdat die werklikheid van die dood ons hier byeengebring het. Ons kan dit nie wegwens of ignoreer nie; tog is ons ook juis hier voor ’n oop Bybel bymekaar omdat ons glo in die werklikheid van die opgestane Jesus en ’n heerlike finale opstanding )

Ons lees kortliks van twee Bybelfigure wat self voor die werklikheid van die dood gestaan het:

- van koning Hiskia uit Jesaja 38:1-3*
- van die apostel Paulus uit Filippense 1:20-24**

Geliefdes, ek het niks snaaks en buitengewoon om julle te vertel nie, maar ek is oortuig as ons stil word en luister het die Woord baie te sê. Die Woord alleen kan rus en perspektief, kalmte en vertroosting bied. Meer nog as jy die Woord regtig glo sal dit nie net ’n bietjie verligting bring nie, maar ’n vaste en sekere hoop ook vir jou eie sterfdag wat een of ander tyd sal aanbreek.

Ons het nou gelees van twee bekende Bybelfigure wat met die werklikheid van die dood gekonfronteer is : koning Hiskia en die apostel Paulus.

Beide is gelowiges, beide is dienaars van God en tog is daar 'n GROOT VERSKIL oor hoe hulle oor die naderende  dood dink.

Hiskia het bitterlik gehuil en met alle mag probeer vasklou aan die lewe. (die Here was hom toe wel genadig en het sy lewe met 15 jaar verleng)

In skrille kontras kon Paulus sê dat hy eintlik verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees. Hy sien so uit daarna, hy weet eintlik nie wat om te kies nie.

Wat maak die verskil? 

~ In Hiskia se tyd was daar nog geen duidelike verwagting van ’n opstanding nie. Die dood het gelei tot ’n uitsiglose bestaan. (Ps 6:6 sê immers : "Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?"

Jesus het toe nog nie opstaan nie. Die dood was 'n byna onoorkomentlike versperring om die teenwoordigheid van God te beleef.

DIE OPSTANDING VAN JESUS MAAK DIE VERSKIL!

Paulus leef in die tyd na die sterwe en opstanding van Jesus! Hy het dus ’n lewe realistiese hoop op 'n lewe vir ewig saam met die lewende Jesus!

Die kruisiging en die opstanding was die sentrale feite van die evangelie wat Paulus verkondig het. (1 Kor 15 :1-4) Dit handel oor die kruisiging, die begrafnis en die opstanding van Jesus. Die opstanding is die hoogtepunt, maar ook die deurslaggewende van die drie kern evangelie feite. Dis die bevestiging dat Jesus se offer aan die kruis vir ons genoeg was, dat ons sondes inderdaad uitgewis is, maar ook dat daar vir ons 'n nuwe lewe wag. Ja, dat net soos Jesus se liggaam opgewek is, ons liggaame ook opgewek sal word.

Geliefdes mooi trooswoorde het op ’n dag soos hierdie min krag, dit kan so hol en leeg klink. Sentimentele praatjies word deur die wind weggewaai. Daarom wil ek jou opnuut uitdaag om die eenvoudige maar oneindig kosbare evangelie feite te glo. Die feit van die genoegsame kruisdood, maar ook die feit van die heerlike opstanding!

Glo jy hierdie feite? Vind jy troos daarin? Maak dit ’n praktiese verskil? Het God deur die werking van die Heilige Gees dit al ’n werklikheid vir jou gemaak? Is hierdie feite persoonlik vir jou kosbaar?

As die plaasvervangende sterwe en opstanding van Jesus ’n vir jou 'n werklikheid is,  sal daar twee positiewe duidelike effekte in jou lewe wees. Jy sal anders dink oor die lewe en anders dink oor die dood. 

1.Anders dink oor die lewe. Wat bedoel ek? Die gemiddelde mens leef vir homself. Slegs vir die hier en die nou. Sy lewe gaan oor bymekaarmaak en versamel - partykeer baie subtiel - partykeer onder die dekmantel van “dis die Here wat ons seën” Die normale gemiddelde mens redeneer soos die ryk dwaas in Lukas 12 (vers 18-19). Ek wil vir myself 'n lewe skep tot my voordeel en dis waar alles eindig. Ek wil maar net eet, drink en vrolik wees en dis al... Maar as Jesus se opstanding vir jou 'n werklikheid geword het en jy besef Hy is MY ENIGSTE HOOP dan sê mens soos Paulus : "vir my is die lewe Christus!" My lewe begin rondom Jesus draai. Jesus en om Hom te dien gee sin aan my lewe. Hy word my eerste prioriteit.  Kan jy dit al sê? Of moet jy sê (eerlik) vir my is die lewe plesier, sukses, prestasie...? 

2.Anders dink oor die dood. Wat jy oor die lewe dink, gaan ook bepaal wat jy oor die dood dink. Paulus het anders gedink oor dood. Juis en net omdat Paulus kon sê "vir my is die lewe Christus", kon hy ook sê - "is die sterwe vir my wins." Sterwe wins? Was die dood dan vir hom voordelig? Het ons reg gehoor? Paulus is jy ernstig, bedoel jy dit? Of is jy dalk ’n freak wat met jou kop in die wolke gesweef het? 

Oor die algemeen is die dood iets waaraan mense nie wil dink nie. En tog, Paulus was ernstig. Hy was regtig positief oor die dood.

Maar nou hoekom kon Paulus so iets radikaal sê? Jy sien daar was 'n dag in Paulus se lewe toe hy die lewende Jesus ontmoet het en dit het alles verander. Van toe af het hy 'n nuwe visie gehad op die toekoms. Hy het geweet dat sy sonde vergewe is en dat hy kon uitsien na 'n lewe saam met sy Verlosser. Die dood was nie meer 'n verskrikking nie. Dit was nou net 'n deurgang na heerlikheid!

Maak seker dat jy ook kan sê : "Die lewe draai vir my om Jesus" Dan sal jy ook met vertroue die dood tegemoet kan gaan en dit eintlik as 'n wins beskou! AMEN

(Terloops, ons glo dat wanneer 'n kind van God sterf sy gees onmiddellik by Jesus is. Dis duidelik Paulus se verwagting hier. Maar met Jesus se wederkoms sal ons sterflike liggame ook vernuwe word en sal ons 'n verheerlikte liggaam soos Jesus kry. Lees Filippense 3:21)

*JESAJA 38:1 In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: "So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie."
2 Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here:
3 "Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë." Hiskia het bitterlik gehuil.

**FILIPPENSE 1:20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,
21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie.
23 Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;
24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe

BELANGRIK : As jy twyfel oor Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood of net meer daaroor wou weet, kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)