- want God is almagtig en Sy Woord is waar!
[lees Markus 12:18-27]
Mense spot deesdae baie graag met die hiernamaals, dis amper asof sommige ‘n lewe anderkant die graf minag. “Ag, glo jy regtig in ‘n pie in the sky when you die?”, koggel hulle. By ander mense hoor mens amper ‘n fatalistiese houding :”Jong, ons moet maar net nou vir mekaar goed wees, laat ons maar nou ‘n dop saam drink, daar is nie ‘n eendag nie, daar is nie ‘n ewigheid nie! Kyk maar wat jy uit die lewe kan kry en vergeet van ‘n lewe na die dood.” Dis die tipe van houding waarna Paulus verwys : “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons!”
Natuurlik is dit inderdaad ‘n Bybelse boodskap dat hierdie lewe belangrik is, dat ons nou ten volle moet leef, dat ons nou moet liefde bewys, nou iets moet doen aan armes en hongeriges... Goeie werke is immers iets wat nou op hierdie aarde gedoen moet word! Maar spesifiek op 'n dag soos vandag moet ons nooit vergeet dat die heerlike opstanding uit die dood nog altyd deel was van die kern van die Christelike boodskap van hoop nie. DAAR IS 'N OPSTANDING UIT DIE DOOD! As jy die opstanding wegvat, vat jy die hart van die evangelie weg en bly daar niks evangelie oor nie! Hieroor is die apostel baie duidelik : “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” (1 Kor. 15:19)
‘n Spottery met die hiernamaals en met die opstanding is eintlik ‘n aanval op die almag van God en die evangelie van Jesus Christus.
Sulke aanvalle is ook niks nuuts nie. Dis presies wat die Sadduseërs doen in Markus 12. Die Sadduseërs was destyds een van die twee hoof Joodse groeperinge (die ander groep was die Fariseërs). Hulle het net die eerste vyf boeke van Moses as bron van gesag erken en volgens hulle het daar niks gestaan van ‘n opstanding nie en het hulle nie aan ‘n opstanding en ook nie aan engele geglo nie. Die Sadduseërs kom nou met ‘n strikvraag na Jesus toe en dink hulle gaan hom uitboul en in die verleentheid stel. Die agtergrond van hulle vraag is die Mosaïese bepaling oor die leviraatshuwelik. Dit was ‘n wet wat voorsiening gemaak het dat ‘n man ‘n verantwoordelikheid het as sy broer kinderloos sou sterwe om met die gestorwe broer se vrou te trou en so ‘n nageslag vir die broer te verseker. (Deut 25:5) Nou gebruik die vraagstellers hierdie wet in ‘n hipotetiese verhaal van ‘n vrou wie se man kinderloos gesterf het, die proses het homself herhaal en so was sy uiteindelik met sewe broers getroud. Nou in die tyd van die opstanding, in die hiernamaals, wie se vrou gaan sy nou wees? Dis die dilemma wat hulle voorhou. So probeer die Sadduseërs die waarheid van die opstanding belaglik maak. Gaan sy dan nou dalk sewe mans gelyk moet hê is die implikasie van hulle vraag? Mensekan vandag nog allerhande hipotetiese probleme uitdink om die opstanding en die lewe hierna te probeer belaglik en onmoontlik voorstel. Wat van iemand wat as baba gesterf het, sal hy in die opstanding ook ‘n baba wees en vir altyd ‘n baba bly? Wat as ‘n haai jou opgeëet het, hoe gaan jou liggaam weer bymekaargevoeg word?
Jesus reageer baie skerp en duidelik. “Julle dwaal! En die rede hoekom julle dwaal is tweeledig : Julle ken nie die Bybel nie en julle ken ook nie die krag van God nie!”
Dan lyk dit of Jesus eers iets sê oor God se krag. God se krag en sy werkinge is nie aan ons aardse begrip gebonde nie. Ons moet dit nie probeer beperk met ons aardse verstaan nie. Die huwelik is ‘n tydelike aardse instelling en gaan nie ewig voortbestaan of ‘n funksie hê nie. In die opstanding gaan ons soos engele wees wat nie trou nie, maar dit sal niks van ons volheid en vreugde wegneem nie. Die doel en funksie van die aardse huwelik (hoe kosbaar nou ook al) gaan uitgedien wees! Omdat God se almag onbeperk is, gaan die opstandingslewe ook groter en heerliker wees as wat ons onsself ooit kan indink.
En dan val Jesus die Sadduseërs voluit aan uit die Skrif. Opvallend, Hy kies juis ‘n gedeelte uit die Pentateug wat hulle beweer om te glo. En bewys hulle daaruit verkeerd. Jesus haal aan uit Eksodus 3:6 waar God Homself aan Moses bekend maak as “Ek is die God van ju voorvaders, die God van Abram,die God van Isak, die God van Jakob.” God sê daardeur omdat Hy die God van hulle voorvaders is, Hy nog steeds vir Moses en die Israeliete sal lei en beskerm soos Hy hulle gelei en beskerm het. Dit gaan dus oor God se verbondsgetrouheid. Jesus impliseer dat as Gód getrou is, die dood nie die laaste sê kan hê nie. God se verbondsgetrouheid is sterker as selfs die dood en daarom is daar beslis iets soos ‘n opstanding. God IS hulle God, nog steeds en dit impliseer dat hulle leef in sy teenwoordigheid. Nou is dit Jesus wat die Sadduseërs skoonboul, hulle middelpen spat en hulle kan Hom nie antwoord nie.
Ons het natuurlik nog minder verskoning om die opstanding te betwyfel as die Sadduseërs. (Inderdaad praat die Ou Testament nie so duidelik daaroor nie)
Maar intussen het Jesus self uit die dood opgestaan, liggaamlik! Sy opstanding met 'n verheerlikte liggaam is die waarborg dat almal wat aan Hom behoort ook sal opstaan met 'n nuwe verheerlikte liggaam! (Kliek op
SPOKE EET NIE VIS NIE)
Geliefdes, weet dit vandag hier, daar is ‘n opstanding om na uit te sien, daar is ‘n heerlike hiernamaals wat sal aanbreek vir God se kinders. Ons glo dit omdat die Bybel so sê, ons glo dit omdat God se skeppings en herskeppingskrag onbeperk is. Dis nou ons troos!