Woensdag 10 Augustus 2016

TERWYL HY NOG TE VINDE IS…

Die dood van ‘n geliefde onderstreep maar net die feit dat tyd en kanse op aarde verbygaan, wat ons wil doen moet ons nou doen… Die dood naby aan ons bevestig net die werklikheid dat ons aardse bestaan kort is en dat ons nie mag uitstel om vrede met God en ons medemens te maak nie. Die dood verleen vandag weereens dringendheid aan die profeet Jesaja se opdrag : “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jesaja 55:6)

Geliefde, die Woord van die Here kom tot ons wat lewe. (Ek praat dus ook met julle en nie met of van die oorledene nie) Moenie uitstel om met God vrede te maak nie. Die konteks van hierdie dringende oproep is juis die heerlike belofte en uitnodiging in vers 1 wat lees : “o, Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!”

Die implikasie is dat daar nie altyd tyd en geleentheid gaan wees om op hierdie genade uitnodiging van vergifnis en ‘n nuwe lewe te reageer nie. Ja, die Here rig ‘n ruim uitnodiging. Dis aan “almal” Die Here rig ‘n genadige uitnodiging : “koop sonder geld en sonder prys” Die verlossing is verniet. Heeltemal gratis, sonder enige verdienste betrokke. Maar die tyd om dit te aanvaar gaan verby. Genadetyd gaan verby!

Die Here is nou nog te vinde, maar die implikasie is dat Hy nie altyd te vinde sal wees nie! Hy is nou nog naby, die bedoeling is duidelik dat Hy nie altyd naby is nie. Daarom moet jy Hom nou soek.

Wat beteken dit om die Here te soek? Wat sal iemand doen wat die Here soek?

  • Wel dis in die eerste plek om God se Woord ernstig op te neem en daarna te verlang. Iemand wat die Here soek, luister na sy Woord en doen moeite om die Here se Woord te hoor. Mense wat Sondae oggende in hulle beddens lê (en net die kinders Sondagskool toe stuur), soek nie God nie! Die Woord is ‘n genademiddel en diegene wat verlang na God se genade sal elke geleentheid aangryp om dit te hoor. Maak jy erns met die Woord?

  • Wie die Here soek, sal sy Naam aanroep in die gebed. Gebed is nog ‘n genademiddel. ‘n Kosbare geskenk wat God ons gee. Ons het die heerlike belofte : “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word.” (Romeine 10:13) Maar jy moet Hom aanroep terwyl daar nog die kans is...

  • Om die Here te soek sal noodwendig behels dat ek my verkeerde gedrag en gedagtes die rug sal toekeer. Ek sal omdraai. Ek sal my tot God bekeer. Vers 7 “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Ek kan nie tegelykertyd die Here soek en nog steeds die sonde najaag nie. Dan is ek mos nie ernstig nie. Ja, die ware soeker weet ek kan myself nie red nie, maar ek het ‘n honger en dors na geregtigheid. Ek smag na bevryding van sondeskuld en sondemag.

  • Om die Here te soek sal uiteindelik beteken om gelowig op sy uitnodiging te reageer as eerste prioriteit. Om my geloof op Jesus te stel. Dis om na Jesus self te kom en by Hom die lewe te vind. Om by Hom genade te kry. “Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.” (2) Die Here maak dit duidelik dat hulle eie pogings en eie prestasies nie vrede en lewe sal oplewer nie. Julle kan nie julleself versadig en julle eie nood oplos nie. Nee, net Jesus self, die Seun van Dawid kan ware herstel en uitkoms gee! “Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid”. (3) Los julle tevergeefse pogings en eie prestasies, kom na My toe, sê die Here!
Dis ‘n hartseer dag. Mag God ons elkeen vertroosting skenk. Hy wil egter nog meer doen. Hy wil die ewige lewe skenk aan elkeen wat op sy uitnodiging reageer. Doen dit nou, terwyl die geleentheid daar is.


Jesaja 55:1-6 o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! 

Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. 

Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid. 

Kyk, Ek het hom tot 'n getuie van die volke gemaak, tot 'n vors en 'n gebieder van die nasies. 

Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die HERE jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het. 

Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.