Vrydag 17 April 2026

BEVRY VAN DIE VREES VIR DIE DOOD

 [Troosdiens van Reinhard Friederich, bekende boer van Namibië en kenner van die natuur en die Hei//om Boesmans]



 Hebreërs 2:10-15 LEES*

Ons het nou onlangs Paasfees gevier – Jesus se oorwinning oor sonde, Satan, dood en hel. Maar ek wil nou eers begin met ‘n Kersverhaaltjie. Kersfees en Paasfees gaan eintlik mos baie nou saam. Op 'n koue winternag in die Noordelike halfrond, het 'n eenvoudige boer bewus geword van die voëltjies buite wat so ontsettend koud gekry het. Hy dink toe hy aan 'n goeie plan en maak die deur van sy skuur oop. Dit was 'n heerlike warm skuur waar die voëltjies sou kon skuil teen die biuttere koue. Gou vind hy uit daar is 'n probleem, hulle wil nie in die skuur inkom nie. Miskien was hulle bang of net vreemd. En toe dink hy, "Ag as ek ook maar net gou 'n voëltjie kon word, soos hulle en hulle veilig na die skuur toe lei." En skielik verstaan hy die betekenis van Kersfees. Dis presies wat Jesus kom doen het - Hy het een van ons geword, waarlik mens juis om ons te red en na die heerlikheid van God te lei.

God se groot doel met sy mense, sy kinders is om ons tot heerlikheid te lei. (10) Ons dink dikwels te negatief oor God se verlossingsplan – asof Hy net wil sorg dat ons nie hel toe gaan nie. Ja, natuurlik, Hy red ons van die hel, maar sy doel is soveel groter. Hy wil ons laat deel in sy heerlikheid, sy volmaakte glorie, sondeloosheid, vrede en vreugde! God het ons gemaak om sy heerlikheid te aanskou, te bewonder en te geniet. (Man's chief end is to glorify God and enjoy Him forever.)**

Maar nou weet ons almal, ook uit eie bittere ondervinding, daar is hindernisse,  dinge wat keer dat ons hierdie heerlikheid kan bereik of deelagtig word – ons is sondaars en ons is daarom juis ook sterflik! Sonde en dood keer ons...

God het egter besluit om vanweë sy groot liefde ons nie in ons ellende te los, maar Iemand te stuur om ons uit ons ellende en verslawing uit te lei na heerlikheid. Hiervoor moes Hy een van ons word (dink weer aan die voëltjies) en moes Hyself juis ook ly om ons Leidsman te word.

Die meegevoel en solidariteit van Jesus met ons het logiese, praktiese implikasies. Ons, sy broers/kinders is gewone mense, mense van vlees en bloed, sterflike mense en om dus waarlik ons Verlosser en Hoëpriester te wees moes Hy ook ‘n mens van vlees en bloed word. Onthou Johannes 1:14 – Die Woord (Jesus) vlees geword”. Belangrikheid van ons belydenis is baie duidelik – Jesus is waarlik mens, waarlik God! Hoekom is dit belangrik? Hy moes waarlik sterf! Hoekom sterf? 

Om die mag van die duiwel, wat mag het oor die dood te verbreek.

Wat beteken die mag van die duiwel oor die dood? In watter opsig? Hier moet ons nou versigtig trap. Dit beteken nie die duiwel kan links en regs mense doodmaak soos hy sou wou nie – Net God se self beskik in absolute sin oor lewe en dood.  Jesus herinner ons immers in Openbaring “Ek het die sleutels van die dood en die doderyk”

Die duiwel se mag in terme van die dood beteken dat Hy ons laat sondig en aankla omdat ons gesondig het.(Openb. 12:10). Die duiwel het dus ‘n greep op ons as sondaars omdat ons gesondig het.   Hy kan ons afpers – Hy beskuldig en teister jou : "Jy is ‘n sondaar en daarom bring die dood vir jou oordeel en verskrikking." 

Verder - Deur te sondig het ons aan die Satan ‘n wettige gesag oor ons gegee. Hy is nou ‘n tiran in hierdie wêreld wat ons met vrees oorheers. HY voer ‘n skrikbewind deur sy vervalsings en verdraaiing van die waarheid. Ons lewens word beïnvloed deur vrees en angs. Hierdie vrees is so erg – dit maak van ons slawe, dit beroof ons van vreugde en vryheid en hoop. 

Jesus sterf nou in ons plek, Hy vat ons straf vir ONS sonde en verbreek die duiwel se houvas en greep op ons! Dis die paradoks – Jesus vernietig die dood deur self te sterf. Jesus se uniekheid word weereens duidelik – ander helde se dood bring einde aan hulle oorwinnings en loopbaan, Jesus se dood is juis Sy oorwinning! 

Die wapen van die duiwel is ons sonde – maar Jesus vat die wapen weg. So bevry Hy ons dus uit die slawerny van vrees. (15) Onthou nou - Vrees vir die dood en oordeel, kom voort uit die besef ons is skuldig voor God! As Jesus ons skuld wegneem en ons glo dit, verdwyn die vrees.

Ons sterf nog steeds – die finale heerlikheid moet nog kom, maar die dood het nou sy angel verloor. Die skerpkant, die verskrikking van die dood is nou weg. Dis nie ons goedheid nie, maar die sterwe en opstanding van Jesus maak die verskil. Die dood is deur Jesus getransformeer, heeltemal omgekeer en verander.

Die dood is nou nie meer ‘n bestemming van vrees en

 ewige skeiding nie, maar die deurgang na 'n vreugdevolle

 gemeenskap met Jesus self.

Daarom kan Paulus sê – vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.

Die dood van ‘n geliefde is altyd hartseer vir ons as mense. Ons treur, maar nie soos mense sonder hoop nie. Dis Jesus se oorwinning oor Satan en dood wat ons hierdie hoop gee.

Ons elkeen moet ook sterf. Maar dis nie nodig om te vrees nie. Die evangelie bevry ons van die slawerny van vrees. Die evangelie moet aanvaar word deur bekering en geloof. Jesus word hier genoem die Leidsman. Jesus wil jou ook na heerlikheid lei – volg Hom, Hy het voor gestap! AMEN

10God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog:
“Ek sal u Naam aan my broers bekend maak,
in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.”
13Ook sê Hy:
“Ek sal altyd op Hom vertrou.”
En verder:
“Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.”
14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. 
** Westminster Shorter Cathechism

 

Vrydag 02 Januarie 2026

ONVERSTAANBARE DOOD VAN KIND/JONGMENS

 TREUR, maar onthou ons treur anders as die wêreld!

Ons lees uit Romeine 12:9-15 (15) 

Ons fokusvers is vers15! 



Ons treur saam met almal wat geraak word deur ........ se dood! Ons kan nie daarvan wegkom of dit ontken nie – die dood en veral die dood van ‘n jong kind of jeugdige in die fleur van sy/haar lewe bring onbeskryflike pyn en droefheid. En dis baie duidelik ‘n Bybelse opdrag om saam te treur, saam hartseer te wees met die wat gepynig word deur hierdie groot verlies. As ons kyk na die konteks – is hierdie opdrag ‘n opdrag aan God se kinders as deel van ons dankbaarheidslewe vir God se genade! (Rom. 12:1-2)

Ons mag dus maar treur. Ons hoef nie skaam te voel daaroor of te dink dis onvanpas vir God se kinders nie! Dwarsdeur die eeue het die grootste geloofshelde, mense wat na aan God gewandel het, droefheid beleef en getreur. Uit ons eie geskiedenis ken ons ‘n aangrypende voorbeeld. Dis die voorbeeld van die bekende Totius (Prof. JD du Toit) – bekend as pionier Afrikaanse Bybelvertaler, maar ook ‘n digter van formaat. ‘n Onbeskryflike ramp en hartseer het hulle gesin getref toe hulle eers in Novenber1920 hulle babaseuntjie deur breinvliesontsteking verloor het en kort daarna in Desember nog ‘n ramp hulle tref toe die oudste dogtertjie deur ‘n weerligstraal binne in hulle huis doodgeslaan is. Totius het diep en pynlike rou beleef – hy het ‘n aangrypende gedig daaroor geskryf: 

O die Pyn-gedagte






Totius was ‘n man van God, maar hy was eerlik oor sy pyn. Hy het die geloof behou, maar dit het nie die pyn weggevat nie.

Ons moet realisties wees en rou!

Maasr realisme vir God se kinders bring ook 'n ander waarheid en werklikheid na vore...

Daar is ook vandag vir God se mense blydskap en dankbaarheid saam met die rou.

 Miskien skok dit jou! Kan sterwe en blydskap in een asem genoem word? Ja, die kind van God kan dit doen, nie die onbekeerde wêreldling nie! (Onthou Rom. 12:2 gee die duidelik opdrag om nie aan die wêreld gelykvormig te word nie- anders gestel : God se kinders moet anders dink en doen as die ongelowige wêreld!) 

Ja, as gelowiges kan ons t.s.v. van ons pyn en trane, steeds troos en blydskap ervaar! Paulus doen dit so treffend  in die  Filippense brief (onthou hy sit in die tronk en skryf in die aangesig van die dood – maar sy tema is blydskap) –

Ja, ek sal voortdurend bly wees, want ek weet dat dit alles tot my verlossing sal lei, omdat julle vir my bid, en die Gees van Jesus Christus my ondersteun. Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. (Filippense 1:18c-20)

Vir die kind van God is die lewe – ‘n blye geleentheid om Jesus te verheerlik deur ons liggame, maar ook ons sterwe is ‘n geleentheid om Jesus te verHEERLIK! – m.a.w. vir almal te wys Jesus is die HERE!  (Ons weet ........ het dit gedoen...en hy doen dit vandag!) In hierdie opsig kan ons ook die Here loof en prys – Hy word vandag verheerlik. Ons loof Hom al is dit met ‘n bewende stem en ‘n traan in die oog!

Ons treur, maar dis nie ‘n wanhopige en uitsiglose treur nie.

Ons ervaar troos en vreugde, want Jesus word verheerlik.

Maar daar is nog ‘n rede tot troos. Jesus het die dood oorwin, Hy het liggaamlik opgestaan en almal wat aan Hom behoort sal ook met verheerlikte liggame opstaan. Ons weet die gees van ‘n gelowige is onmiddellik na die dood by die Here Jesus, maar die Bybelse boodskap is so duidelik –  Jesus se liggaamlike opstanding waarborg ons wat aan Hom behoort se liggaamlike opstanding. Daarom bely ons elke Sondag – Ek glo aan die opstanding van die vlees!

Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het – God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem.  (1 Tessalonisense 4:13,14)

Ons is getroos en bly reeds vandag, maar ons is veral opgewonde van vreugde oor die eendag! Ons het vreugde met 'n traan in die oog, eendag sal al die trane afgevee word!




Donderdag 31 Julie 2025

Dinsdag 17 Junie 2025

DIE DOOD HET NIE DIE LAASTE WOORD NIE!

 - want ek glo in die EWIGE LEWE!

[Ons lees Johannes 17:1-4]

Ons word vandag gekonfronteer met die harde werklikheid van sonde en dood. (Net weer ‘n herinnering, dood het in die wêreld gekom vanweë Adam se sonde.) Maar gelukkig het sonde en dood nie die laaste sê nie, want Jesus het gekom om vir ons redding te bring. Dit kom so kragtig en treffend na vore in Jesus se gebed vir sy dissipels kort voor die kruisiging.  Ek gaan net ‘n paar elemente rakende hierdie redding uitlig vanuit die eerste vier verse.

1. Ons redding gaan alles oor die verheerliking en eer van God.  “Die uur het aangebreek”. (1) Dis die voorafbepaalde tyd vir Jesus se sterwe en opstanding – sy lyding maar ook sy verheerliking. Jesus weet hierdie uur gaan vir Hom bittere lyding kos, maar dis God se wil en dit gaan lei tot God se verheerliking! Die verheerliking van God is al wat vir Jesus saak maak.  In die hele Bybelse drama en God se wonderlike plan in Jesus gaan dit nie oor die mens as die middelpunt nie, maar oor God! Jesus se gebed dat die Vader Hom moet verheerlik, is ‘n bewys en uitdrukking van sy gewilligheid om Homself te onderwerp aan die Vader se plan van verheerliking nl. die kruis.  Jesus se gesindheid hier het ook vir ons ‘n duidelike boodskap : God het ons gemaak tot sy eer, God het beplan om ons te red tot sy eer! Daar kan nie ‘n groter doelwit wees as God  self nie, want God is die hoogste en absolute goedheid en heerlikheid. Ons as mense kan net vervulling vind as God verheerlik word. Die boodskap van die hele Bybel is GODGESENTREERD! God is in die middelpunt. Die skepping bestaan om God te eer. Die mens as die kroon van die skepping is spesifiek geskep om doelbewus God te eer deur in gemeenskap net hom te leef. Die redding van die gevalle mens gaan oor die eer van God. Die eer van God is die hoogste doelwit, maar juis ook ons grootste diepste vreugde! (God se eer en ons vreugde en vervulling bots nie. Ons is die gelukkigste as ons God eer. En God word juis die meeste geëer as ons ware geluk in Hom beleef! Kinders van God kan Hom ook juis op ‘n dag soos hierdie eer, in die skadu van die dood, ook langs ‘n oop graf!!

2.Ons redding is moontlik en gebeur omdat Jesus se mag so groot is.  Die Vader het aan Jesus gesag/outoriteit oor die “hele mensdom” gegee! (2) Alle mag en gesag!    Ons redding is gelukkig dus nie afhanklik van ons krag en vermoëns nie  Jesus is die kragtige Verlosser.  Vgl. Johannes 10:28  Die duiwel en bose magte en die DOOD het nie die laaste sê nie, die duiwel (en sy meelopers soos Judas en die Jode) kan nie Jesus se Verlossingswerk ongedaan maak of belemmer nie. Ja, dit lyk soms so… die kruis het bewys dat wat soos ‘n oorwinning lyk vir Satan juis sy nederlaag is!

3. Ons redding is gegrond op God se ewige plan en wil van voor die skepping af. “sodat Hy aan elkeen wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.” (2)   Dit sluit treffend aan by dit wat Jesus reeds in Johannes 6:37! “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie;” Voor die grondlegging van die wêreld het God ‘n bruid gekies vir sy Seun en aan sy Seun gegee. Die verlostes. Dis nie ‘n plan B of ‘n laat nagedagte nie, dit was nie ‘n skielike noodplan nie.  Dis God se volmaakte en enigste plan tot sy verheerliking! Die heerlike waarheid is dat Jesus God se ewige plan volledig en volmaak foutloos uitgevoer het – “Dis volbring.”

4.Ons redding beteken die ontvangs van die ewige lewe. Ons bely elke Sondag – “Ek glo in ‘n ewige lewe.” Wat beteken dit? Wie het dit?  Jesus “gee” die ewige lewe. (2)   Ons ontvang dit as geskenk.  Wat is dit? Dit behels nie bloot ‘n lang lewe nie of aardse bestaan nie.  (3) Dis om die ware God en sy seun Jesus te ken. LW – nie net van te weet nie!  Daarom is die hoofdoel van ons lewe hier op aarde om God en sy Seun Jesus te leer ken – dit moet ons fokus wees! Ewige lewe is ‘n lewe saam met God. Dit begin nou reeds, die oomblik wanneer ek Jesus aanvaar as Here en so met die Vader versoen word. Lewe sonder God, sonder Jesus is nou reeds die dood, dis ‘n doodsbestaan, dis sinneloos.

5.Ons redding word gewaarborg deur Jesus se volmaakte werk aan die kruis. Sonde is my probleem, sonde is dit wat maak dat ek nie voor God kan verskyn nie, nie ‘n heilige God kan aanbid nie, maak dat ek die regverdige wraak van God moet vrees. Jesus bid hierdie gebed kort voor sy kruisiging. Dis die fokus en klimaks van sy aardse werk. Sy kruisdood, is die genoegsame offer wat vir my vrede en gemoedsrus bring! Om Jesus te ken as Verlosser is my enigste troos in lewe en sterwe.

Ons kan bietjie wegkyk van onsself en ons hartseer en ons verheug oor God se wonderlike verlossingswerk in Jesus! Dit vul ons harte met vastigheid en sekerheid en blydskap ook in die aangesig van die dood. Ja, al huil ons trane kan ons tussen deur die trane juig oor die ewige lewe. Die dood het nie die finale sê nie!


Vrydag 10 Januarie 2025

DIE STERRETOEKOMS

 - wat wag vir God se kinders!



 [Ons lees saam uit God se Woord - Daniël 12:1-3] 

Die Bybel is ‘n boek van sterk teenoorgesteldes en kontraste. Een deurlopende algemene kontras is die verskil tussen regverdiges en die onregverdiges, die wat God gehoorsaam en die wat God nie gehoorsaam nie, diegene wat IN Jesus is en diegene wat BUITE Jesus is! God maak onderskeid tussen mense! Baie algemeen hoor mens as iemand tot sterwe kom : “Hy/sy is nou op ‘n beter plek.” Dis baie waar dat God se kinders wat gesterf het, reeds op ‘n beter plek is, maar dis nie waar van alle mense nie.

God is nie maar OK met alle mense nie. Kom ons blaai so bietjie deur die Bybelse geskiedenis : Kain en Abel (een se offer word verwerp, die ander een s'n aangeneem), Noag en sy familie word gered teenoor die res van die mensdom wat verdrink, die Israeliete in Egipte wat die Paaslam geslag het teenoor die Egiptenare wat nie 'n paaslam geslag het nie,

In die Nuwe Testament word die skeiding al hoe duideliker -  reeds by Jesus se geboorte word die skeiding duidelik – Herodes wil Jesus doodmaak, die herders en wyse manne bring eer aan Hom. Opvallend in die Nuwe Testament is dat baie mense wat godsdienstig was en die Bybel (OT Geskrifte) geken het, Jesus verwerp het, maar dat sondaars en gebroke mense Jesus se boodskap van bekering en vergifnis aangegryp het – Saggeus en Levi – skelm tollenaars, die gebroke Samaritaanse vrou word volgelinge van Jesus. Johannes berei ons in sy evangelie voor vir hierdie skeidng en onderskeid:



Die boek Openbaring is natuurlik ook vol van hierdie kontraste – die prostituut Babilon wat geoordeel word, en die bruid , die nuwe Jerusalem wat gered word. Die onreines en leuenaars moet buite die heerlike stad bly en net diegene met wit klere wat gewas is in die bloed van die Lam mag binnegaan.  Jesus waarsku in  Matteus 25 oor die finale oordeel  en beskryf dit i.t.v. die skeiding tussen die skape en die bokke. En dan verwys Jesus spesifiek na die woorde van Daniël 12 in ons gelese gedeelte. “Hierdie mense (onregverdiges) sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na die ewige lewe.” (Matteus 25:46) Die volmaak liefdevolle Jesus het nooit gesê alle mense sal eendag op ‘n beter plek wees nie!

Terug by Daniël... Jesus het die boek Daniel baie goed geken. Net so terloops – Jesus se titel wat Hy vir Homself gebruik het “Seun van die mens” kom ook uit Daniel (hoofstuk 7) Kom ons gaan net so kortliks deur hierdie drie verse. 

Daniël 12:1-3


1“ ‘ En in dié tyd sal Migael opstaan,
die groot vors, wat die mense
van jou volk bystaan.
Dit sal 'n tyd van verdrukking wees,
soos daar nog nie was
sedert 'n nasie ontstaan het,
en tot in hierdie tyd nie.
Maar in hierdie tyd
sal jou volk gered word,
elkeen wie se naam
gevind word waar dit
in die boekrol opgeskryf is.
2 Baie van hulle wat slaap
in die stof van die aarde,
sal wakker word –
sommige vir die ewige lewe,
en ander tot skande, tot ewige afsku.
3 Die verstandiges sal skyn
soos die glans van die hemelkoepel,
en hulle wat baie gelei het
tot regverdige optrede,
sal skyn soos die sterre –
vir altyd en altyd.

Vers 1 “In dié tyd” verwys na die konflik in die vorige hoofstuk.  Dis die tyd van verdrukking, geweld, martelaarskap. Dis ook die tyd waarin baie van God se mense afvallig sal word. Maar diegene wat waarlik vir God ken sal weerstand bied teen die misleiding en versoekings. Aan die einde van hierdie tyd van verdrukking sal God uitkoms bring. Ons lees van Migael wat ‘n rol sal speel. Migael is die aartsengel wat teen die bose oorlog voer (Openbaring 12:7) Sy taak is die beskerming van God se mense. Die finale verlossing van God se kinders is verseker – elkeen wie se naam in die boekrol opgeskryf is –  die boek van die lewe waarvan ons in Openbaring lees.

Vers 2. Dis na hierdie vers wat Jesus verwys in sy beskrywing van die oordeel (tussen die skape en die bokke)  Kom ons kyk mooi hierna :

In die konflik  wat die finale oordeel voorafgaan (dis nou in hierdie tyd waarin ek en jy ook leef...) sterf beide Godvresendes en goddeloses. Opmerklik. Hulle “slaap”. Dis ‘n metafoor vir die dood en suggereer dat die dood hier op aarde net ‘n tydelike situasie is.  AL die dooies sal opstaan -  Vanuit die Nuwe Testament weet ons Daniëll verwys na die algemene opstanding voor die finale oordeel. “Baie” het hier die betekenis van almal. In die Nuwe Testament leer ons duidelik alle mense van alle tye sal uit die grafte opstaan om geoordeel te word.

Almal wat uit die dood sal opstaan gaan egter nie na dieselfde bestemming nie.  Daar is twee absoluut kontrasterende en uiteenlopende bestemmings vir die mens in die lewe hierna. 

EWIGE LEWE en EWIGE AFGRYSLIKE SKANDE! 

Dis ‘n basiese Bybelse lering – ons vind dit beide in die Ou en die Nuwe Testament. Ons vind dit voor Jesus (soos hier) en na Jesus se koms – Hy leer dit op baie plekke. Die tragedie is dat die algemene publiek, en ook baie kerkmense nie meer hierdie waarheid van die oordeel en skeiding glo nie! En daarom word daar so ligtelik van almal wat sterf gesê – “HY/SY is nou op ‘n beter plek”

Vers 3 Dis opvallend dat Daniel nie verder uitbrei oor die ellende van die goddeloses nie, maar wel die heerlikheid van die verstandiges beklemtoon.  Die verstandiges is diegene wat insig het in God se wil. Die verstandiges (in Nuwe Testamentiese konteks) is diegene wat aan Jesus behoort. Die verstandiges is die wat gereed is om die Bruidegom Jesus te ontmoet (Dink sommer aan die Gelykenis van die tien meisies) 

Vir die getroues wag 'n heerlike toekoms! Daniël vergelyk die heerlikheid wat vir God se kinders wag met die sterreglans van die hemelkoepel. Skitterend, helder en heerlik!

Opmerklik - Die verstandiges hou nie die waarheid vir hulleself nie, maar deel dit met ander. Hulle lei ander om die regte dinge te doen. Geliefde, hoe klink jou woorde en hoe lyk jou voorbeeld – spoor dit ander mense aan om Jesus te volg en Hom te gehoorsaam deur regverdige dade te doen?

 DIE GROOT BOODSKAP

Wat is die hoof boodskap vir ons? Daniel (net soos die boek Openbaring) is in hoofsaak ‘n boodskap van troos en aanmoediging vir God se kinders om te volhard in moeilike tye! Dis om vir jou wat volhard te bemoedig en te sê – moenie moed verloor nie, daar wag vir jou ‘n ewige sterretoekoms in die teenwoordigheid van God. JUIG! 

Tog is hier ook ‘n duidelike boodskap vir die onbekeerdes, die Here waarsku jou om jou nog ‘n kans te gee. Gebruik dit anders wag daar vir jou ‘n afgryslike einde. Amen.

LUISTER GERUS BY STERREHEMEL 

op YouTube.