Maandag 01 Junie 2015

DIE SKERPIOEN SE ANGEL IS AF

- die dood het sy verskrikking vir God se kinders verloor!


[AS JY AAN JESUS BEHOORT HOEF JY NIE MEER VIR DIE DOOD BANG TE WEES NIE!]

Ons almal moet sterwe. Daar kom vir elkeen 'n dag vir doodgaan.  So seker elkeen ‘n geboortedatum het, so seker het jy ‘n (onbekende) sterfdatum!

Die dood is nie ‘n lekker ding nie - dis vir ons pynlik, onbekend, grusaam, bitter hartseer en van nature maak dit ons bang. Dit bring afskeid, dit maak diep seer, dit voel so finaal.

Ons kan sê die dood is soos ‘n skerpioen. (Is jy al gesteek deur ‘n skerpioen? Wel, dan sal jy weet dis vrek seer! Bitter pynlik!) Geen wonder dat ‘n skerpioen by die meeste mense vrees en afgryse wek nie! 

Maar nou sê Paulus iets wonderliks in 1 Korintiërs 15:55-57.  (lees dit) "Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? "Hy spot amper met die dood!

Dit kom daarop neer, die dood is nou soos ‘n skerpioen sonder angel!

In hierdie hoofstuk gaan dit oor die feit en sekerheid van Jesus se opstanding. Dit gaan hier oor die verskil wat die opstanding van Jesus uit die dood gebring het :

Jesus se opstanding sê vir ons minstens twee dinge :

· God het Jesus se offer aan die kruis aanvaar, ons sondeskuld is betaal, daarom hoef God se kinders nie meer bang te wees vir die dood, oordeel en hel nie. As ek weet my sonde is klaar gestraf, dan hoef ek mos nie bang te wees dat dit weer gestraf sal word nie. Dan hou die oordeel geen vrees meer in nie.

· Jesus het fisies uit die dood opgestaan met ‘n nuwe liggaam. God se kinders sal ook by die wederkoms nuwe liggame kry en so vir altyd op die nuwe aarde woon. Die dood is dus nie die einde van ons bestaan nie. God se kinders kan uitsien na ‘n nuwe verheerlikte liggaam, ‘n liggaam sonder gebreke, pyne en hartseer!

Dis duidelik dat dit juis die feit van ons sonde is, en die straf op sonde naamlik die ewige hel wat die dood ‘n verskrikking maak. Die sonde is by wyse van spreke die angel van die doodskerpioen! Maar as ek nou weet dat my sonde vergewe is, weens die feit van Jesus se kruisdood en die opstanding as bewys dat sy kruisdood ‘n genoegsame betaling was vir my sonde, dan verloor die dood mos sy angel. Die ding wat dood erg gemaak het, naamlik sonde en oordeel, is mos nou deur Jesus se kruis en opstanding weggeneem! Die skerpioen is nou sonder ‘n angel en dit maak ‘n heerlike verskil!

Die betekenis en heerlike gevolg van Jesus se opstanding uit die dood, laat ons dus anders na die dood kyk. Die dood is nog steeds hartseer (ons mag maar huil), grillerig en grusaam (as jy dit so wil stel), maar onthou dis soos ‘n skerpioen wat sy angel verloor het. Dit hou nie meer ‘n werklike bedreiging in nie! Maak seker dat jy aan Jesus behoort, dan hoef jy nie die dood te vrees nie!