Maandag 23 September 2019

FEITE VIR 'N DAG SOOS VANDAG...

'N NUWE SIENING OOR DIE DOOD, NIE GEBOU OP GEVOELENS NIE, MAAR OP FEITE!


Feite oor die dood en wat daarna gebeur is skaars; fiksie is volop! Ons lees uit God se Woord (die enigste bron van ware feite oor die DOOD) en wel uit Filippense 1:20-26.

Soos almal seker weet is Paulus in die tronk en dis nie heeltemal seker dat hy wel lewend daar sal uitkom nie. Wat egter opvallend is, is sy positiewe houding en gesindheid. Hy kla nie, hy vrees nie, inteendeel hy skryf 'n brief aan die gemeentelede van Filippi en sy hooftema is : BLYDSKAP!

Nie eers die moontlikheid van 'n naderende dood kon hom neerslagtig maak nie! Binne hierdie konteks maak hy 'n radikale stelling: "om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is wins!" (vers 21)

Dis 'n uiters bevrydende en positiewe siening oor die die dood. Wat is JOU siening vandag by hierdie geleentheid oor die dood? Daar bestaan mos verskeie opinies en gesindhede rondom die dood:


VERSKEIE SIENINGS

VREES. Dis die groot vyand, die donker, onbekende, skrikwekkende einde, waaraan ek liewers nie eens wil dink nie. Ek weier om eers daaroor te dink dat ek die volgende een gaan wees wie se roudiens ons sal bywoon... Dit kan mos nie regtig met my gebeur nie!

GELATE AANVAARDING. “Ag, almal moet maar doodgaan... Wat kan mens daaraan doen? Wie gee om...?” 

DAPPER HOUDING. Ek sal nie bang wees nie en sal nie wys ek is bang nie. Amper ‘n uitdagende minagtingtende houding. Mens hoor dit soms: “My ou toppie het mos die emmer geskop. Fanie het die lepel in die dak gesteek...”

SENTIMENTELE NAÏWITEIT. Mens hoor dit deesdae baie algemeen by roudienste en huldeblyke... (veral by die sogenaamde beroemdes) “John speel nou rugby in die hemel vir die eerste span, James jaag nou “rally” in die goue strate, Jakes is seker stout soos altyd en die engele moet maar net aanpas en probeer byhou...” Sentimentele snert, uitgespreek deur mense wat totaal onkundig is oor die Bybel se boodskap!

Die evangeliese siening oor die dood:

DIS WAARLIK WINS!

Die Christen se siening, soos Paulus dit in die werklike lewe verwoord het, is iets heel anders : Die sterwe is wins! Nie net die afwesigheid van vrees nie, maar ‘n positiewe uitsien. Maar dis ook ‘n nugtere berekende uitsien, gebou op feite! Bybelse feite, Goddelike waarheidsfeite. Wat beteken hierdie wins nou prakties?

Paulus verklaar : “...ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;” (Fil.1:23)

Twee sleutelbegrippe is belangrik in vers 23: “heengaan, by Christus”

Wat sou hy bedoel met heengaan? 2 Kor. 5:1 gee vir ons ‘n leidraad. “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.” Die dood is nie meer ‘n verskrikking nie, dis nie ‘n donker einde nie, dis ‘n verhuising van ‘n tydelike woning na ‘n ewige woning. Dis net ‘n oppak en vertrek na my finale blyplek. As jy vanuit die Woord weet wat is jou bestemming, behoort die verhuising geen verskrikking te wees nie!


Die kernrede vir Paulus se blydskap is dat hy by Christus sal wees. Van aangesig tot aangesig sal ek Hom sien wat my liefgehad en sy lewe vir my gegee het. Onbelemmerde en onverstoorde gemeenskap met die volmaak liefdevolle Jesus Christus. Geen pyn, geen sonde, geen twyfel, geen stryd, net die volmaakte teenwoordigheid van onbeskryflike liefde! ‘n Tuiskoms by my ware vaderland en my ware Redder-Koning! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Fil. 3:20)

Let Wel : Paulus se positiewe siening oor die dood beteken allermins dat hy swartgallig oor die lewe was! Inteendeel, hy straal 'n positiewe gees uit selfs hier binne die tronk. Hy sien die lewe as 'n geleentheid vir "vrugbare arbeid" en 'n kans om "Christus te verheerlik." Hy het nie 'n selfbejammerende houding van, "ag, dit gaan so sleg, ek wil maar liewers doodgaan," nie! Paulus leef positief voluit, maar hy besef, as hy moet sterwe is dit ook positief. Weereens, 'n wen-wen situasie.

Die kind van God het ‘n unieke beskouing van die lewe en van die dood! 

“Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Die “en” is baie belangrik. Dit koppel die twee helftes aanmekaar. NET mense wat kan verklaar “Vir my is die lewe Christus”, kan ook met vertroue sê : “die sterwe is wins.” Kan jy dit sê?


Dinsdag 27 Augustus 2019

HY HET DIE MAG VAN DIE DOOD GEBREEK…

God kom troos ons met evangelietroos uit Sy Woord vanuit 2 Timoteus 1:8-11* 



Vir elke hartseer en ongerief het die mens mos ‘n plan, maar nie vir die dood nie… Dis waar alle menslike planne ophou en menslike troos en raad opdroog. ** Kom ons gaan dus na die WOORD!

Paulus skryf hier as iemand wat die dood in die gesig staar. Hy weet dit en is eerlik daaroor. “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.” (4:6) Hy skryf hierdie brief juis as ‘n boodskap van troos en hoop aan die jongman Timoteus. 

Ons kan aflei daar was dinge wat Timoteus mismoedig en wankelrig gemaak het. Waarskynlik juis die feit dat sy geestelike vader en mentor Paulus nou magteloos in die tronk gesit het. Timoteus besef Paulus gaan nie weer lewend daaruit kom nie Timoteus sou maklik hierdeur in twyfel gebring kon word : "Is dit nou hoe God sy getroue knegte behandel, is dit hoe God sorg? Is God so kragteloos, hoekom verlos Hy Paulus nie uit die tronk nie? Is gevangenskap, lyding en dood nou dan die beloning wat die evangelie jou in die sak bring? Is dit die moeite werd om ‘n Christen te wees? Maak dit nog sin om die evangelie te verkondig?"  Timoteus sou kon dink : “Ek voel eintlik skaam om te sê ek is ‘n Christen, want mense kan my koggel en vra is dit dan nou hoe ‘n goeie God sy dienaars behandel…” 

Miskien het juis van ons ook ook op hierdie oomblik sulke vrae oor 'n geliefde wat van ons weggeneem is... Hoekom? Hoekom nou? Hoekom op so 'n tragiese wyse?

Paulus weet klaarblyklik van die wroegings wat in sy jong vriend se hart broei en daarom bemoedig hy hom… (8) En dan gaan hy verder en herinner Timoteus weer net aan die basiese waarhede van die evangelie. Dis die beste manier om ‘n kind van God moed in te praat en te TROOS- gaan weer terug na die “basics”. Die kernwaarhede van die evangelie! Dis wat enige ware kind van God sal bly maak…dis kosbaar bo als! Die evangelie is ‘n blye boodskap van oorwinning, sterker as swaarkry, sterker as tronkmure en sterker as die dood en doodsangs! 

Hoe so, wat is hierdie evangelie dan? 

Dis die boodskap dat God ons red (‘n Goddelike magsdaad!) En Hy doen dit nie op grond van ons dade en prestasies nie, maar op grond van wat Jesus gedoen het. Ja, in ‘n wêreld waar alles oor prestasies gaan, waar ek gemeet meet word aan die hoeveelheid “likes” wat ek kry is dit baie goeie nuus. God red sondaars, slegte mense, goddelose mense uit genade en nie volgens wat hulle bereik of reg gekry het nie. (Rom 4:4) Die lang lys sondaars wat God gered het bevestig hierdie feit…Saggeus, die Samaritaanse vrou, die duiwelbesetene van Gadara, die Fariseër Paulus… dit getuig alles van redding deur genade! 

Dit gaan egter nog verder. Dis ‘n Goddelike inisiatief, Goddelike besluit! Ons redding is nie eens die beloning van ons goeie keuses nie, maar van God se keuse om in te gryp! Dit word beklemtoon dat hierdie geskenk al van ewigheid aan ons gegee is! Verbysterend! Alle menslike verdienste word uitgesluit. “Voordat ek kon kies, kon vra het U Seun  my vloek gedra…” (Lied 190:2)

Hierdie genade van God is nou deur Jesus aan ons geopenbaar. Ons kry daaraan deel deur die vertroue op Jesus. Hierdie genade is nie iets wat ons doen of verdien nie, ons leer dit net ken, dit word aan ons bekendgestel deur Jesus. Dit gaan oor wat Jesus gedoen het! (1 Kor. 15:1-4)*** 

Wat is die praktiese effek? 

Jesus het die mag van die dood gebreek. Die tirannie van die dood bestaan nie meer nie. Ja, die dood is nog daar maar die angel van die dood is weg. Ons word bevry van die vrees en verskrikking wat die dood meebring. Paulus se bedoeling is duidelik : "Timoteus, as ek moet sterwe in die tronk is dit nie ‘n verlies of ‘n verleentheid nie. Ek is nie meer bang vir die dood nie!" 

Nie net is die angswekkende mag van die dood gebreek nie, Jesus het deur sy opstande die onverganklike lewe bekend gestel. God se kinders, die wat waarlik deur Hom gered is, deel in ‘n onverganklike lewe. Dis ‘n lewe wat nooit oud kan word, vernietig kan word of kan vergaan nie. Die vloek op die sondeval word omgekeer. Dood is skeiding, lewe is gemeenskap. Deur die evangelie kry ons deel aan ewige onvernietigbare gemeenskap met God. En dit begin nou reeds, die oomblik as ek gered word! Dis nou reeds sigbaar! Hierdie redding en roeping het ten doel dat ons aan God toegewy sal wees. (9a) Letterlik – “heilige roeping”! (Vgl. OAV) Genade lei en dring tot heiligheid! (Vgl. Titus 2:11-14) Wie aanhou met onheiligheid wys dat hulle die genadige redding en roeping van God verwerp! 

Miskien bly daar een vraag in jou hart. Wonderlik, maar hoe word dit ons s’n, hoe het dit alles Timoteus s’n geword? (5) Opregte geloof! Dis om my vertroue op Jesus alleen te stel! Om te sê : “Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas!”  Dis waartoe die evangelie jou oproep! NOU! Kinderlike vertroue.

DIE ENIGSTE SINVOLLE TROOS IN DIE AANGESIG VAN DIE DOOD IS DIE EVANGELIE TROOS! 


* 2 Timoteus 1:8 Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ‘n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 

9 Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 

10 Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 

11 Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar. 

**Ons is nou weer op Sondag 25 Augustus 2019 wreed daaraan herinner met die tragiese busongeluk waarin twee leerlinge van Windhoek Gymnasium, Jacques Venter en Angela Maiba naby Mariental dood is. My persoonlike meegevoel aan hulle geliefdes! 

*** 1 Korintiërs 15:1 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 

2 Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. 

3 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 

4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.