Saterdag 26 Mei 2018

JESUS SE OPSTANDINGSHEERLIKHEID

Is ons troos, maar rig ook ‘n vraag aan elkeen… 

"Toe sê Jesus vir haar: "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?" Johannes 11:25-26 

Die dood is soos ‘n swart kol op die wit papier van ons bestaan. Ons kan dit nie uitvee of wegwens nie. Dis die groot verskrikking, skeiding en smart. Dis onvermydelik, daar is geen menslike oplossing of kuur nie. 

En tog.... Jesus in sy heerlikheid het wel ‘n antwoord vir die dood. Die klimaks van Jesus se heerlikheid is juis Sy opstandingsheerlikheid! Hy het die groot vyand van die dood verslaan. Hier in Johannes 11 lees ons hoe hy Lasarus uit die dood opgewek het, maar meer nog Hyself is die opstanding en die lewe. Daar bestaan nie lewe en opstanding buite Hom nie. Hy het later self uit die graf opgestaan en vir altyd die donker kettings van die dood afgeskud! En so vir al sy kinders ‘n nuwe heerlike bestaan geopen! Die Heilige Gees gee deur die Woord sekerheid in ons harte dat Jesus waarlik opgestaan het! 

Die opstanding is die fondasie waarop ons geloof rus! Vir die eerste dissipels was die opstanding van Jesus die klimaks wonderwerk, die “gamechanger”...Onthou hulle het met hulle eie oë gesien Jesus sterf... 

Almal het geweet Jesus was dood; van die goewerneur tot die soldate wat Hom tereggestel het tot die vroue wat Hom begrawe het tot sy teenstanders wat ’n sameswering rondom ’n opstandings gerug gevrees het. Hulle het almal geweet Hy was dood. Geen twyfel daaroor nie. Dit is waarom die storie wat opgedis is om die leë graf te verklaar, nie beweer het dat Hy nie regtig dood was nie, maar dat sy dissipels die liggaam gesteel het. Maar hierdie plan het nie gewerk nie. Die dissipels was so oortuig van die opstanding dat hulle bereid was om hulle lewens daarvoor te verloor (Mense sal eerder lieg om hulle lewens te beskerm, nooit om hulle lewens te verloor nie!) Hulle het dus duidelik geweet hulle het nie die lyk gesteel nie!

Hoe het hulle oortuig geword? Vir veertig dae het Jesus aan enkelinge sowel as groepe verskyn, sommige so groot as 500. (1 Korintiërs 15:6) Die meeste van hierdie persone was nie liggelowig nie, maar taai om oortuig te word. Soos Thomas... Die evangelies is baie eerlik... Toe die skeptiese dissipels begin besef dat die opstanding dalk waar sou kon wees, het hulle eers gespekuleer dat die Jesus wat hulle gesien het dalk ’n spook was. Jesus het korte mette met hierdie spekulasie gemaak en dit konkreet uit die weg geruim. So het Hy vir die twyfelende Tomas gesê : “Bring jou vinger hier en kyk na My hande; en bring jou hand en steek hom in My sy.” By ’n ander geleentheid het Jesus voor die verbaasde dissipels daarop aangedring om ’n stuk vis te eet om aan hulle te wys dat Hy nie ’n gees was nie. (Lukas 24:39-43) Geen twyfel oor die leë graf en die opstanding nie! 

Jesus se liggaam was beslis nie meer in die graf nie, want dan sou die vyand maar slegs Jesus se oorskot te voorskyn moes bring om die hele Christelike beweging stop te sit. Die graf was leeg. Jesus het liggaamlik opgestaan. (Nie net in mense se harte soos dikwels beweer word nie) Jesus se opstandingsliggaam was egter meer as net ’n sterflike liggaam wat weer lewendig geword het. Dit was dieselfde en tog ook nie dieselfde nie. Hy kon herken word, as die een wat Hy altyd was. Sy liggaam was ’n fisiese liggaam. Maar dit was ook ’n getransformeerde verheerlikte liggaam. Wanneer die apostel Paulus die toekomstige opstandingsliggaam van Christene beskryf, geld dit ook vir Jesus se liggaam, omdat Christus opgewek is as die “eersteling” van die res van die dooies wat aan Hom behoort. (1 Korintiërs 15:20) Met ander woorde die liggaam van die opgestane Christus is deel van dieselfde oes van al die ander liggame wat Hy sal opwek in heerlikheid op die laaste dag. Christus. Ons kry ‘n belangrike leidraad in Filippense 3:21. “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” Dis dieselfde en tog op ’n heerlike manier baie beter. ‘n Liggaam sonder enige beperkings! 

Die opstanding van Jesus bevry ons van vrees en gee vir ons hoop en blydskap. Dis ook die troos wat ons het by die afskeid van ‘n geliefde wat aan Jesus behoort! Onthou Jesus self is die opstanding en die lewe, buite Hom is daar geen opstanding en geen lewe nie! Het jy al die opgestane Jesus vertrou as jou Verlosser? As Jesus hier vir Marta vra : “Glo jy dit?”, dan vra Hy nie net of sy glo dat Hy Lasarus uit die dood kan opwek nie, Hy vra haar :”Glo jy in My as die Enigste Een wat ewige lewe en volkome nuutmaking gee?” Hierdie selfde vraag kom vandag ook nou na jou...