Maandag 31 Julie 2023

Ek sien uit hierna!

 DIE GROOT VERWAGTING – deel jy ook hierin?

Die dood van ‘n geliefde dwing ons elkeen om weer na te dink oor ons menslike bestaan. Ons bestaan nou hier, maar ook hierna... Dis goed om bietjie tot stilstand te kom in hierdie gejaagde lewe en ‘n slag deeglik te dink oor ons bestaan nou en natuurlik ons ewige bestemming...

Dis baie duidelik dat ons bestaan tydelik is. Ons leef nie vir altyd nie. Maak nie saak hoe gesond, fiks, sterk of taai jy is nie. Die jare haal ons almal in. Die uurglas loop en niemand kan dit eers vir een sekonde keer nie. Maar al weet ons dit vang die dood ons telkens maar weer onverwags. Ja, ons weet die dood moet kom, maar ai net nie nou nie... Ons moes nog eers dit of dat gedoen het, ons moes dalk nog iets uitgepraat het, vrede gemaak het, iets reggestel het en nou is dit vir ewig te laat! Die dood onderstreep elke keer as ons daarvan hoor, as ons dit sien... die belangrikheid van NOU.  Hieraan herinner Jesaja 55:6 ons so treffend - Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is.”





Maar die werklikheid van die dood fokus ons weer ook en veral op die bestaan hierna en ons ewige bestemming. Ek wil twee aspekte onderstreep vanuit 2 Petrus 3:13.


Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en 'n nuwe aarde, waar geregtigheid woon.

God se kinders het iets ontsagwekkend heerlik om na uit te sien en dit word genoem die nuwe hemel en die nuwe aarde. God gaan sy hele skepping nuut maak. Ons moet onthou die hele skepping ly onder die gevolge van die sondeval. Die sonde van die mens het skrikwekkende gevolge vir die hele skepping... voortgaande sonde, swaarkry, siekte en sterflikheid. Die hele skepping is aan verganklikheid onderworpe. Alles word oud en stukkend en als sterf en gaan tot niet. God laat vaar egter nie die werke van sy hande nie. Deur Jesus het God redding en bevryding vir die hele skepping gebring. Hy maak sondaars wat in Hom glo nuut. Geestelik nuut, maar ook liggaamlik nuut! Die totale mens in sy geheel sal gered word... verlos van sonde en straf, maar ook verlos van verganklikheid. Die opstanding van Jesus waarborg ons vergifnis, maar dit waarborg ook ons fisiese opstanding. As nuwe mense gaan ons in ‘n nuwe skepping woon. Hierdie belofte word reeds in die Ou Testament gemaak. Jesaja 65:17 - “Ja, Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep. Aan die vroeëres sal nie meer gedink word nie; dit sal nie in mense se gedagtes opkom nie.”

Die nuwe skepping het reeds begin met Jesus se opstanding. Ons vier die werklikheid daarvan elke Sondag, sy opstandingsdag. Die volmaakte aanbreek daarvan sal plaasvind by die wederkoms van Jesus en God se kinders sien uit daarna. Ja dan sal ons liggame ook verlos word! Ons bely immers die “opstanding van die vlees.”

Die heerlike feit oor God se nuwe skepping is dat geregtigheid daar sal woon. Reg en geregtigheid sal daar heers. Daar sal geen onreg en sonde meer wees nie. Daarom sal daar ook geen onreg en sonde toegelaat word in die nuwe Jerusalem nie. Dis ‘n heerlike verwagting, want dis juis sonde en onreg wat soveel hartseer, smart, skade en ellende hier op aarde veroorsaak. Dink maar aan die hartseer wat gierigheid, leuens, haat en onmin veroorsaak... In God se nuwe skepping sal daar niks hiervan wees nie, ons sal nie eens meer daaraan dink nie, dit sal nie in “ons gedagtes opkom nie,” het ons gelees.

Hierdie verwagting van ‘n nuwe skepping sonder sonde en hartseer, waar ons gefokus sal wees op die heerlikheid van God en die Lam wat vir ons geslag is, is ons troos in hierdie wêreld, nou, hier... Maar hier is ook ‘n duidelike waarskuwing opgesluit. Elkeen wat nie deur bekering tot Jesus en ware geloof in Jesus vergifnis en reiniging van sonde ontvang nie, sal vir ewig uitgesluit word van die nuwe hemel en aarde. Vir ewig in die duisternis, weg van God se aangesig. Mag elkeen van ons betyds reageer op die evangelie uitnodiging en deel in hierdie heerlike verwagting waarvan Petrus hier praat. Amen.


Vir 'n insiggewende video oor ons huidige smart, maar ook die heerlikheid wat wag, kliek op HEERLIKHEID