Maandag 01 Januarie 2018

ROUDIENS IN DIE FEESTYD

“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem." Die naam beteken God by ons.” (Matteus 1:23)



Ons is normaalweg baie opgewonde oor ‘n geboorte of ‘n bruilof hier in die feestyd. Dit pas mos goed in by die vreugde van Kersfees. Maar wat nou van sterftes? Hoe pas dood en hartseer in by die betekenis van Kersfees, by die viering van Jesus se menswording? Juis baie goed. Kom ek verduidelik...

Juis want Jesus is IMMANUEL. God BY ons! Hy is God by ons, in alle fasette en in alle omstandighede, nou en tot in ewigheid! By ons in ons stryd, sonde, hartseer en dood.

Jesus is God by ons, juis om ons te bevry van ons groot vyande en verskrikkinge. Wie of wat is hierdie vyande? 

Sonde, Satan, dood en hel! 

Hy moes ware mens word, mens van vlees en bloed sodat Hy deur sy dood ons van hierdie vyande kon bevry! Hy is volle mens, met ‘n liggaam onderworpe aan hongerkry, swaarkry, lyding en uiteindelik aan die dood. Hy het net nie sonde gehad nie, MAAR God het juis ons sonde op Hom gelaai en Hom as ‘n sondaar veroordeel tot die kruisdood in ons plek sodat ons bevryding en lewe kon ontvang.

Ons lees hierdie dramatiese waarheid duidelik in die Skrif : “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (2 Korintiërs 5:21)

Hoe bevry Jesus, Immanuel ons nou van sonde, satan, dood en hel?

Hy sterf vir ons sonde. Dis waarom Hy mens kom word het, om te kon sterwe. Hy vat aan die kruis ons sonde straf op Hom. Ja, God "behandel" Hom as sondaar deur hom te straf! En ons gaan vry. Hy kry die straf, naamlik die dood en ons kry die lewe. Natuurlik net vir die wat waarlik in Hom glo en hulle volle vertrou op Hom plaas.

Toe Jesus met ons sonde probleem afgereken het, val die ander vyande outomaties een na die ander soos in ‘n domino effek.

As Hy ons sondeskuld wegneem, verloor die Satan sy houvas op ons. Kyk, die duiwel pers ons af met ons sonde. Hy weet ons is skuldig. Hy maak ons daarmee bang. “God, gaan julle straf! Die ewige oordeel wag vir julle!” Maar nou dat Jesus die straf gedra het, is daar mos vir die kind van God geen straf meer oor nie! Die Satan kan ons dus nie meer bang maak nie. Ons het ‘n kragtige argument. "Ja, ek is skuldig, ek is ‘n sondaar, ek erken dit, maar daar was ‘n kruis! Immanuel, het my straf gevat... Van watter sondes wil jy nou praat, Satan?”

As die Satan se afdreiging en afpersing hulle effek verloor, verloor die dood ook sy verskrikking. Mense vrees die dood juis mos omdat hulle weet hulle moet voor God verskyn. Hebreërs 2:14,15 stel dit so duidelik en vat eintlik die betekenis en doel van Kersfees (Jesus se menswording) so mooi saam: “Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.” Jesus se dood bring vir God se kinders bevryding van die slawerny van vrees! Dis die groot doel van sy vleeswording!

Omdat Jesus ons straf gedra het en elke kind van God se straf ten volle voltrek is aan die kruis, hou die hel ook vanselfsprekend nie meer vir ons ‘n verskrikking in nie.

Immanuel is by ons, in ons smarte en hartseer, Hy verstaan ons. Ook vir julle wat vandag van 'n geliefde afskeid neem... Maar baie meer, Hy het as Middelaar tussen God en mens ons bevry van sonde, Satan, dood en hel. Dis die hoop van die Kersboodskap, dis ons hoop op ‘n dag soos hierdie. Daarom kan die kind van God bly wees, altyd, al is dit ook met 'n traan in die oog...

En nou vriende is dit my voorreg, maar ook my Goddelike plig om te vra : Ken jy Immanuel, glo jy in Hom, vertrou jy Hom en wys jou lewe dit? Net Hy het 'n antwoord vir die verskrikking van die dood!

Om meer te verstaan van IMMANUEL, kliek op IMMANUEL.