Saterdag 09 Oktober 2021

RUS IN VREDE!

 


Die vrede en rus wat God ons gee in Jesus is 'n wonderlike troos ook as ons by die graf van 'n geliefde staan. Dis egter 'n boodskap wat ook so maklik vals en hol kan klink...

Kliek op RUS IN VREDE

Woensdag 18 Augustus 2021

JESUS SKENK LEWE!

[Ons kry vastigheid en ware troos alleenlik uit God se Woord op 'n hartseer dag soos hierdie.]

Johannes 5:25-29

Ons vind hier ‘n groot TROOS, maar ook ‘n ernstige WAARSKUWING!

Dit hang saam met die twee groot feite wat hier na vore kom : 1. Jesus gee lewe.
2. Jesus sal eendag oordeel.

Altwee hierdie aspekte is in die Johannes evangelie ‘n duidelike bewys van die Godheid van Jesus! Jesus is God wat mens geword het. Vlees… (vleis!) Jesus stel Homself gelyk aan God die Vader. 

Vers 21 -  Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil.

Vers 22 -   Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat.

Jesus skenk lewe. Dit word in hierdie deel in ‘n dubbele sin gebruik.

NOU en EENDAG met die wederkoms.

NOU – "Ek verseker julle: Daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe." (25)   Wie is hierdie dooies? Dis mense wat nou leef, wat springlewendig is, maar geestelik dood is. As jy van God afgesny is, is jy dood. (soos ‘n tak wat van 'n boom afgebreek is) Dood in jou sonde… dood in jou ongehoorsaamheid, hoerery, diefstal, dronkenskap, rebelsheid, in jou beloftes wat jy voor God verbreek het.… noem maar op. Hier onder ons kan sulkes  wees… Hoe word sulke mense lewendig? 

Jy word geestelik lewendig as jy die stem van Jesus hoor en reageer! 

Sy stem wat jou uitnooi… "Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai en Ek sal jou rus gee…” Sy stem wat verklaar :”Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” Sy stem wat belowe : “Elkeen wat die Vader my gee sal na my toe kom en Ek sal die een wat na My toe kom nooit uitwerp nie." Sy stem wat aan die kruis uitroep : "Dis volbring!"  

Saamgevat - Sy stem wat gehoor word as die kruisevangelie verkondig word en ons oproep tot geloof en bekering! Jesus skenk lewe, ja die ewige lewe wanneer ons sy woorde hoor en met geloof en bekering daarop reageer. Johannes maak dit baie duidelik dat hierdie ewige lewe iets is waaraan ons NOU reeds deel kry. Hierdie ewige lewe kan nooit deur die dood uitgewis word nie. Daarom glo ons as iemand aan Jesus behoort en hy/sy sterf is daardie persoon dadelik by Jesus. Sy lewe saam met Jesus wat die kind van God nou reeds op aarde ervaar, gaan net ongehinderd aan. Ons sien Hom nou net van aangesig tot aangesig. Heerlik. Dis hoekom Paulus nie bang was vir die dood nie- hy noem die dood ‘n WINS!*

Ek wil vir jou vra : het jy al Jesus se stem gehoor en die ewige lewe as geskenk ontvang?

EENDAG – "Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word." (28,29)  Hier verwys dit na die wederkoms. Almal sal opstaan. Ons sal opstaan met nuwe liggame. God se kinders bely dit mos elke Sondag saam. Ek glo in...



Dan gaan mense in twee groepe gedeel word. Vir sommige sal dit wees die opstandig tot die lewe… ‘n lewe met ‘n nuwe liggaam (sonder brille en pille, sonder siektes en skete, sonder sonde) in die nuwe skepping – ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde!

Vir ander sal dit wees ‘n opstanding tot veroordeling.

Wat gaan die kriterium vir die onderskeid wees? Hoekom gaan sommiges die lewe tegemoet en ander die veroordeling? Die klem hier is op dade. Die wat goed gedoen het en die wat verkeerd gedoen het. (29) Hoe nou? Word ons deur dade gered? Johannes is in sy evangelie baie duidelik dat ons deur geloof in Jesus gered word. Maar ware geloof maak dat jou dade anders gaan begin lyk. Ware geloof in Jesus lei tot ‘n heilige lewe… dit maak dat mens God se opdragte in Sy Woord begin gehoorsaam, dat mens ‘n nuwe lewe volgens God se standaarde en nie Hollywood en Huisgenoot standaarde begin lei nie. Ware geloof lei tot nuwe begeertes en nuwe passies byv. ‘n honger na God se Woord, ‘n verlange om saam met ander kinders van God Hom te aanbid en te prys! 

Wat van ons? Is ek en jy besig om goed te doen of is ons besig om verkeerd te doen? Mag ons gewaarsku wees - dade tel. Hoor wat sê Jesus oor die oordeelsdag : “Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree." (Matteus 7:23)

Openbaring bevestig dit ook - dit gaan oor dade!




Glo jy in Jesus? Maak ons geloof 'n verskil aan ons dade?

Kom ons kry die troos in Jesus se woorde – maar kom ons maak ook erns met sy waarskuwing! AMEN

*Filippense 1:21 "want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins."

Vrydag 28 Mei 2021

Jesus is nie meer in sy graf nie!

 Dis waarom ons 'n heerlike vaste hoop mag hê by die dood van 'n geliefde wat in Jesus gesterf het! Die hoop op die opstanding van die liggaam en die vooruitsig van 'n nuwe hemel en nuwe aarde!

Kliek op OPSTANDINGSHOOP vir 'n volledige boodskap op YouTube.



Vrydag 07 Mei 2021

EK GLO IN DIE OPSTANDING...

 As God se kinders kan ons maar nugter en realisties wees. Wat is die  ware feite rondom hartseer, lyding en dood?  Het ons nog steeds rede tot vreugde? Is daar hoop as ons by 'n sterfbed of graf staan?


Kliek op OPSTANDINGSVREUGDE vir 'n klankboodskap.




Woensdag 05 Mei 2021

'n GELUKKIGE DOOIE!

Skriflesing : Openbaring 14:9-13  (Klem op vers 13)

[Hierdie is 'n opsomming van die preek wat gelewer is by die troosdiens van ons geliefde suster Linda van Wyk wat ons gemeente jare lank met oorgawe bedien het as orreliste. Ons weet haar goeie werke volg haar...]

Sterf is ‘n hartseer saak. Ons weet dit, ervaar dit ook nou weer… En tog word hier gepraat van ‘n "gelukkige" sterf. Gelukkige dooies. En ons moet dit baie ernstig opneem. En as ons dit ernstig opneem en kinderlik God se Woord glo, sal dit vir ons heerlike troos bring op hierdie dag.

Daar is net twee soorte sterwe – om in die Here te sterf of in jou sonde te sterf. Alle dooies sterf nie in die Here nie. (vgl. Johannes 8:24) Jesus maak hierdie geweldige uitspraak teenoor die ongelowige Jode:  “Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.”  'n Groot kontras. In die Here. Of in sonde.

Wie is hierdie gelukkige dooies? Die konteks hier handeloor die oordele van God wat gaan kom. Spesifiek oor diegene wat die dier en sy beeld aanbid. (Dis nie nou die tyd om oor hierdie omstrede saak uit te brei nie.) Kortliks net dit - Dis nie mense wat ‘n inenting of "mikrochip" ontvang het nie. Dis mense wat in kompromie met die sondige wêreld sisteem leef.* Hulle dink (merk op die kop) en doen (merk op die hand) soos die sondige wêreld. Dis hulle wat volgens die wêreld se modes en waardes geleef het en nie volgens God se koninkrykswaardes nie.

Om in die Here te sterwe is die teenoorgestelde van om die merk van die dier te hê. Dis om die merk van God te hê. Dit beteken hier spesifiek om enduit in die geloof te volhard en getrou te bly aan Jesus.  Die Gees word ook spesifiek genoem hier. As iemand in Christus en in die Gees geleef het, sterf hy ook in die Goddelike atmosfeer van Christus en die Gees.

RUS

Waarom is diegene wat in die Here sterf so gelukkig? Hulle gaan die Goddelike rus binne. Rus is 'n heerlike tema van die begin van die Skrif en dwarsdeur. Dink aan  die rus wat God al beleef het na die skepping. Volmaakte vrede, harmonie en vervulling. Dis die rus waarvan die Sabbat ‘n skaduwee was. Dis die rus waarna Jesus mense uitnooi – Matteus 11:28. "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en ek sal julle rus gee..."  (Jy kan dit nou reeds begin ontvang en nou hierin leef – dis die rus van vergifnis, kindskap, vrede met God...) Die volmaakte rus kom egter nog. Hebreërs 4:9,10 verwys na hierdie rus - "Daar wag dus nog steeds ‘n Sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne." Hierdie rus gaan sonder versteuring en sonder belemmering tot in alle ewigheid geniet word deur diegene wat IN die Here sterf. Daar gaan geen sonde, geen Satan en geen verganklikheid wees nie. Die trane sal van ons oë afgevee word. Hierdie rus van die dooies wat in die Here gesterf het, staan sterk in kontras met diegene (met die merk van die dier) wat dag en nag geen rus sal hê nie. (vers 11)

WERKE/DADE

God se kinders gaan spesifiek rus van hulle geswoeg (arbeid - OAV). Geswoeg – dis die gelowiges se opoffering en swaarkry ter wille van Jesus Christus.  God gee erkenning aan ons werke wat in Christus tot die eer van God gedoen is. Ons werke is belangrik! Hulle werke/dade volg hulle! Ja, ons dade op aarde het ewige gevolge – hier positief gestel!

Spesifiek ons dade wat ons aan medegelowiges gedoen het.  Luister bietjie : "Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien."

Mag hierdie afskeidsgeleentheid weer vir ons elkeen die belangrikheid van ons dade (nie net ons geloof nie) onderstreep. Hierdie belangrikheid van ons dade word deur die apostel Paulus pragtig onderstreep -  “Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.” (2 Kor. 5:9, 10)

Ons dade tel tot in alle ewigheid! Petrus druk dit op ons hart. Leef versigtig in ontsag vir God! Luister -  "En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;" (1 Petrus 1:17)

Ons is hartseer – dis te verstane. Maar van ons geliefde broer/suster ...... sê God se Woord – Gelukkig is sy/hy . Inderdaad is sy/hy gelukkig – oor hom/haar hoef ons nie bekommerd te wees nie. 

DIE VRAAG

Die vraag is egter : As ek en jy vandag of more moet sterf, gaan ons ook gelukkig geag word? Gaan ons ook in die Here sterf? Gaan ons onder die gelukkige dooies getel word? Wel, jou dade sal dit nou reeds wys... WAT WYS JOU DADE? Het jy 'n egte geloof in Jesus wat sigbaar is in jou dade?


*Vir meer hieroor , kliek op MERK van die DIER.