Woensdag 05 Mei 2021

'n GELUKKIGE DOOIE!

Skriflesing : Openbaring 14:9-13  (Klem op vers 13)

[Hierdie is 'n opsomming van die preek wat gelewer is by die troosdiens van ons geliefde suster Linda van Wyk wat ons gemeente jare lank met oorgawe bedien het as orreliste. Ons weet haar goeie werke volg haar...]

Sterf is ‘n hartseer saak. Ons weet dit, ervaar dit ook nou weer… En tog word hier gepraat van ‘n "gelukkige" sterf. Gelukkige dooies. En ons moet dit baie ernstig opneem. En as ons dit ernstig opneem en kinderlik God se Woord glo, sal dit vir ons heerlike troos bring op hierdie dag.

Daar is net twee soorte sterwe – om in die Here te sterf of in jou sonde te sterf. Alle dooies sterf nie in die Here nie. (vgl. Johannes 8:24) Jesus maak hierdie geweldige uitspraak teenoor die ongelowige Jode:  “Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.”  'n Groot kontras. In die Here. Of in sonde.

Wie is hierdie gelukkige dooies? Die konteks hier handeloor die oordele van God wat gaan kom. Spesifiek oor diegene wat die dier en sy beeld aanbid. (Dis nie nou die tyd om oor hierdie omstrede saak uit te brei nie.) Kortliks net dit - Dis nie mense wat ‘n inenting of "mikrochip" ontvang het nie. Dis mense wat in kompromie met die sondige wêreld sisteem leef.* Hulle dink (merk op die kop) en doen (merk op die hand) soos die sondige wêreld. Dis hulle wat volgens die wêreld se modes en waardes geleef het en nie volgens God se koninkrykswaardes nie.

Om in die Here te sterwe is die teenoorgestelde van om die merk van die dier te hê. Dis om die merk van God te hê. Dit beteken hier spesifiek om enduit in die geloof te volhard en getrou te bly aan Jesus.  Die Gees word ook spesifiek genoem hier. As iemand in Christus en in die Gees geleef het, sterf hy ook in die Goddelike atmosfeer van Christus en die Gees.

RUS

Waarom is diegene wat in die Here sterf so gelukkig? Hulle gaan die Goddelike rus binne. Rus is 'n heerlike tema van die begin van die Skrif en dwarsdeur. Dink aan  die rus wat God al beleef het na die skepping. Volmaakte vrede, harmonie en vervulling. Dis die rus waarvan die Sabbat ‘n skaduwee was. Dis die rus waarna Jesus mense uitnooi – Matteus 11:28. "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en ek sal julle rus gee..."  (Jy kan dit nou reeds begin ontvang en nou hierin leef – dis die rus van vergifnis, kindskap, vrede met God...) Die volmaakte rus kom egter nog. Hebreërs 4:9,10 verwys na hierdie rus - "Daar wag dus nog steeds ‘n Sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne." Hierdie rus gaan sonder versteuring en sonder belemmering tot in alle ewigheid geniet word deur diegene wat IN die Here sterf. Daar gaan geen sonde, geen Satan en geen verganklikheid wees nie. Die trane sal van ons oë afgevee word. Hierdie rus van die dooies wat in die Here gesterf het, staan sterk in kontras met diegene (met die merk van die dier) wat dag en nag geen rus sal hê nie. (vers 11)

WERKE/DADE

God se kinders gaan spesifiek rus van hulle geswoeg (arbeid - OAV). Geswoeg – dis die gelowiges se opoffering en swaarkry ter wille van Jesus Christus.  God gee erkenning aan ons werke wat in Christus tot die eer van God gedoen is. Ons werke is belangrik! Hulle werke/dade volg hulle! Ja, ons dade op aarde het ewige gevolge – hier positief gestel!

Spesifiek ons dade wat ons aan medegelowiges gedoen het.  Luister bietjie : "Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien."

Mag hierdie afskeidsgeleentheid weer vir ons elkeen die belangrikheid van ons dade (nie net ons geloof nie) onderstreep. Hierdie belangrikheid van ons dade word deur die apostel Paulus pragtig onderstreep -  “Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.” (2 Kor. 5:9, 10)

Ons dade tel tot in alle ewigheid! Petrus druk dit op ons hart. Leef versigtig in ontsag vir God! Luister -  "En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;" (1 Petrus 1:17)

Ons is hartseer – dis te verstane. Maar van ons geliefde broer/suster ...... sê God se Woord – Gelukkig is sy/hy . Inderdaad is sy/hy gelukkig – oor hom/haar hoef ons nie bekommerd te wees nie. 

DIE VRAAG

Die vraag is egter : As ek en jy vandag of more moet sterf, gaan ons ook gelukkig geag word? Gaan ons ook in die Here sterf? Gaan ons onder die gelukkige dooies getel word? Wel, jou dade sal dit nou reeds wys... WAT WYS JOU DADE? Het jy 'n egte geloof in Jesus wat sigbaar is in jou dade?


*Vir meer hieroor , kliek op MERK van die DIER.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking