Woensdag 01 Maart 2017

TROOS WAT LEI TOT LOFPRYSING

NAGEDINK UIT PSALM 103 

Psalm 103 is die bekendste en seker ook die bemindste lofpsalm. Die vraag is nou seker net of dit by ‘n roudiens hoort? Ja, beslis, want hierdie lofpsalm raak juis aan die twee grootste bedreigings wat ons as mense ervaar – ons sondige gebrokenheid en ons verganklikheid – die harde feit dat ons bestaan hier op aarde so kortstondig en onseker is.

Psalm 103 is baie eerlik oor ons kort lewensbestaan. “Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. 
Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. 
Die mens- soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. 
As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.” (13-16) 

Die troos is dat God bewus is van ons kwesbaarheid en verganklikheid. God weet ons is mense. Hy ken ons – ons is tipies soos die agt dae grassie van die Namibwoestyn. Gou-gou is als verby… so kort, so vinnig, so nietig is ons lewens!

Maar daar is nog ‘n groter troos! “Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, 
vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.” (17,18) 

Hier word ‘n heerlike kontras gestel tussen ons verganklike tydelike bestaan en God se onverganklike ewige liefde. Ons bestaan is kort en klein, maar God se liefde is ewig en groot, oneindig groot... God se liefde is ‘n ewige liefde tot anderkant die graf! Natuurlik is hierdie ewige liefde nie vir almal bedoel nie. Ons moet ook eerlik wees met ons teks... (dis net vir diegene wat sy verbond hou en sy voorskrifte nakom) Dit maak ons onrustig (as ons eerlik is), dit behoort ons onrustig te maak…

Geliefdes, maar dis hier waar die evangelie van Jesus Christus inkom. Ons kry reeds hier in hierdie Ou Testamentiese psalm die helder lig en troos van die evangelie. “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. 
Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. 
Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. 
Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. 
So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (8-12)

Hoe is dit moontlik dat God ons sondes nie toereken nie, hoe is dit moontlik dat God ons ongeregtigheid nie vergeld nie? JESUS HET GEKOM...

Jesus het gekom en Hy het twee dinge gedoen. As Verbondshoof van die Nuwe Verbond het Hy in ons plek die volmaakte lewe geleef wat ek en jy eintlik moes geleef het. Jesus het die Verbondseise, die opdragte van God se wet volmaak gehoorsaam. Hy het dit namens ons gedoen! Maar Hy het natuurlik nog iets gedoen. Hy het ook ons straf gevat. Die straf wat ek en jy vir ons oortredings van sy verbond verdien, was op Hom. (Jesaja 53:5,6)

Jesus se plaasvervangende lewe en sterwe het heerlike gevolge vir hulle wat aan Hom behoort :

As ek Jesus ken as my persoonlike Here en Verlosser is daar geen veroordeling meer nie. Ons hoor dit in Romeine 8:1. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”

As ek Jesus in my lewe het, het ek die ewige lewe en geen skepsel of dood kan dit van my wegneem nie… die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Johannes 5:12 sê : "Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.”

Godsdienstigheid, mooi lewens, goeie maniere, kerklike betrokkenheid is natuurlik alles goeie dinge, maar die kruks van die saak is, die afsnypunt is : Is Jesus in jou lewe? Behoort jy aan Hom? 

Waar Jesus is, is daar lofprysing en troos, ook in die aangesig van die dood. Dis nie ‘n vreemde waarheid nie – dit staan onverbeterlik opgesom in die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 1 :

Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? (Let op lewe én sterwe! Hierdie troos word nou reeds deur die kind van God beleef, maar dit gaan verder verby die dood...)

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Met elke vesel van energie en passie in my, wil ek jou vra : “Vriend, behoort jy aan Jesus Christus?”

Wie die troos beleef van behoort aan Christus het altyd rede tot lofprysing, ook op ‘n hartseerdag soos hierdie wanneer die feit van ons verganklikheid so voelbaar onderstreep word!