Dinsdag 01 Maart 2016

KYK NA DIE LAM VAN GOD

- die enigste opsie in 'n bitter donker tyd!

Geliefdes enige persoon se dood is ‘n baie hartseer saak, maar soms maak die spesifieke omstandighede dit nog meer hartseer en moeiliker verstaanbaar. Dis vandag so ‘n geval...

Daarom moet ons mooi dink wat ons eintlik vandag hier wil maak. Ons is nie hier om regter te probeer speel nie – God alleen is die volmaakte en regverdige Regter. Ons is ook nie hier om vas te stel presies wat gebeur het en hoekom dit gebeur het nie – God alleen ken die diepste geheime van elke hart; ook van jou en van my... Ons is ook nie hier om goedkoop of sentimentele troos uit te deel nie, God alleen is die diepste Trooster, die God van alle vertroosting!

Ons is wel hier om die evangelie, die Goeie Nuus te hoor! Ja, en dit kan ons vir mekaar duidelik sê : Die evangelie van Jesus Christus skyn helder in die diepste donkerte. Die evangelie van Jesus bring rus en vrede te midde van die grootste onstuimigheid! Die evangelie bring heling in ‘n wêreld van sonde, pyn en gebrokenheid. Die evangelie bring hoop vir die moedeloses en verlorenes. 

Die evangelie kom vandag na ons in die kragtige woorde van Johannes die Doper toe hy Jesus by die Jordaan gesien het : “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Ons lees dit in Johannes 1:29.

Kom ons kyk net so vinnig na elke faset om die betekenis beter te begryp:

Dáár - Johannes wys weg van homself na ‘n spesifieke persoon, naamlik Jesus as hy sê : “Dáár” Die oplossing vir ‘n sondige stukkende wêreld is nie te vind in onsself nie, nie in bespiegelings nie, nie in ontkenning nie, maar juis om weg te kyk van onsself en Iemand raak te sien, Jesus Christus! Johannes is ‘n wegwyser na Jesus. En dit sien ek ook vandag as my enigste taak. Om net te sê : "Kyk daar, kyk na Jesus, Hy is die antwoord!"

Die Lam van God – Die Lam van God is ‘n heerlike ryk beeld met waarskynlik baie Ou Testamentiese wortels. Dink maar aan God wat die offerlam voorsien het om Isak se lewe te red. Dink aan die Paaslam wat gesterf het in die plek van die eersgebore Israeliete in Egipte. Die paaslam se bloed is dan aan die deurkosyne en drumpel gesmeer sodat die oordeel van God nie die persone binne die huis tref nie. Jesus is die offerlam van God wat in ons plek die straf aan die kruis gedra het. Jesaja 53:5-7 vertel ons van Jesus : “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders--ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie."

Let wel, Hy is die Lam van God. Hy is deur God gegee, deur God voorsien in ons belang! God het Hom gegee as soenoffer sodat ons vrede kan hê met God! Jesus is God se plan vir die stukkende mensdom.

Wat die sonde van die wêreld wegneem – Jesus het spesifiek gekom ons sonde probleem aan te spreek. Jesus het gekom om ons van ons sonde te bevry! As jy nog nooit ernstig geword het nie, nog nooit benoud geword het oor jou sonde nie, was jy ook nog nooit ernstig oor Jesus nie. Die begrip “wêreld” dui op alle soorte mense en alle soorte sondaars. Natuurlik word nie alle mense outomaties gered nie, maar almal wat Jesus aangeneem het as Verlosser. Johannes 1:11,12 maak dit baie duidelik.

Dit bring ons by ‘n laaste groot waarheid wat dwarsdeur die Johannes evangelie deurgaans beklemtoon. Hierdie nuus dat Jesus die Lam van God is wat die sondes van die wêreld wegneem moet persoonlik geglo word! Anders gesê – Niemand kan in die Koninkryk van God ingaan as hy nie weer gebore word nie!!! Dis mos Jesus se duidelike boodskap aan Nikodemus in Johannes 3.

Jesus is nou vandag hier as Redder! Hy sal wel eendag kom as Regter. Johannes 3:17-19 lees ons “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” Baie mense weier om die verlossing in Jesus te aanvaar want hulle is te lief vir die sonde!

Ek weet baie dinge nie. Daar is baie vra waarop niemand sinvolle antwoorde het nie. Wat ek wel weet is dat Jesus die Lam van God is wat die sonde van die wêreld wegneem. Wat ek ook weet is hierdie Jesus nooi mense na Homself. "En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!" (Joh 7:37) Ek weet Hy nooi jou en Hy beloof om as jy na Hom kom jou nie te verwerp nie. (Joh 6:37) Maar jy moet nou kom, want die kragtige uitroep van Johannes oor die identiteit van God se Lam is meer as net ‘n stukkie inligting, dit impliseer dat ek en jy voor ‘n keuse gestel word. Ons is almal of vir of teen Jesus! Jy het nou geleentheid vir die rege keuse, benut dit...