Woensdag 25 Julie 2018

SOOS ‘N HOND…

[Hierdie verhaal het blykbaar regtig gebeur. Dit sou plaasgevind het op die klein dorpie Eendekuil in die Swartland. Ek kan natuurlik nie persoonlik vir die waarheid daarvan instaan nie. Nietemin, die boodskap is duidelik en die tragiese aspek daarvan is iets wat mens eintlik dikwels beleef…] 

Die plaaslike leraar kry ‘n versoek om iemand te begrawe. Die oorledene was kerklik egter glad nie betrokke nie. ‘n Gesprek met die lidmaat wat kom vra het vir die kerklike begrafnis vind toe plaas. 

Leraar : Sê my, het die oorledene gebid terwyl hy geleef het? 

Lidmaat : Nee, hy het nooit gebid nie. 

Leraar : Goed dan bid ons ook nie by sy begrafnis nie. Het hy darem Bybel gelees? 

Lidmaat : Nee, hy het nooit Bybel gelees nie. 

Leraar : Nou goed, dan sal ons maar ook nie Bybel lees by die begrafnis nie! En sê my, het hy darem gehou daarvan om saam met die gemeente te sing? 

Lidmaat : Nee, hy het nooit saam met die gemeente kom sing nie. 

Leraar : Ek verstaan. Nou ja dan gaan ons ook maar nie sing by sy begrafnis nie! Laat ek net seker maak, het hy hoegenaamd sy voete in die kerk gesit? 

Lidmaat : Nee, hy het nooit kerk toe gekom nie. 

Leraar : Reg, as hy dan soos ‘n hond geleef het, begrawe hom dan soos ‘n hond… 

Die volgende Sondag was daar nie plek vir ‘n muis in die kerk nie. Die plek was oorvol, die mense het selfs by die vensters ingehang… 

[Natuurlik, sal hierdie taktiek nie meer vandag werk nie. Die bygeloof dat ‘n Christelike begrafnis vir jou toegang tot God se koninkryk sal gee ten spyte van ‘n lewe sonder God en sy kerk, sal moeilik uitsterf, veral omdat afvallige lidmate gerieflik met ‘n buurgemeente reël om hulle te begrawe.]

Vrydag 06 Julie 2018

DEEL VAN GOD SE NUWE SKEPPPING

Die dood ruk mens altyd tot stilstand om weer oor ‘n paar basiese vrae na te dink. Die dood van ‘n geliefde is altyd hartseer, maar dis ook weer ‘n geleentheid om ‘n slag voorraadopname te maak en jouself ‘n paar vrae te vra: Waarvandaan kom ons? Waar is ons nou? En waarheen is ons op pad? Gelukkig hoef ons nie oor die antwoorde te raai nie, die Woord gee baie helder antwoorde en insigte. 

2 Korintiërs 5:17 gee baie belangrike inligting, waarheid en troos! Die sleutelwoorde is “in Christus” en “nuwe skepsel”* 

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 

WAARVANDAAN? Ons almal se verlede begin by die paradys. God se skepping. God wat die mens na sy beeld maak en aanstel oor die res van sy skepping. Met sy beeld bedoel ons dat ons ‘n verstand gekry het om God te ken, ‘n hart om Hom lief te hê en ‘n wil om Hom te gehoorsaam. Nou weet ons almal wat het verder gebeur… die beeld is geskend. 

Sedert die val in die tuin van Eden is ons verstand verdorwe en verdof, ons ken God nie en wil Hom nie eens ken nie! 

Ons hart is boos en ongevoelig, daar is geen liefde en respek vir God nie, en daarom ook nie vir ons medemens nie. Ons wil is ook aangetas, sodat ons God en sy gebooie nie meer wil gehoorsaam nie. Elkeen doen mos wat reg is in sy eie oë! Dis hierdie toestand wat elkeen van ons raak of ons dit nou wil erken of nie. Iets moet met hierdie verlede en hierdie slegte erfenis gemaak word, anders het ons moeilikheid. Met hierdie verlede mis ons ons doel as skepsele nou hier op aarde, met hierdie verlede loop ons die gevaar om vir ewig verlore te gaan… 

WAAR IS ONS NOU? Dis ‘n vraag wat elkeen persoonlik moet antwoord. Die antwoord hang af wat jy met Jesus Christus gemaak het? As jy Hom aanvaar het is jy ‘n nuwe skepsel! ‘n Nuwe mens (met ‘n nuwe verstand, hart en wil), inderdaad ‘n nuwe skepping! Hoe werk dit? Jesus is die ware beeld van God. Hy ken sy Vader volkome, Hy het sy Vader volkome lief, Hy is volkome gehoorsaam aan die wil van Sy Vader! In die eerste Adam en in alle mense na Hom is die beeld van God versteur, maar Jesus is die Tweede Adam. Wie in Hom is, aan Hom behoort, is ‘n nuwe skepping in wie die beeld van God herstel is en besig is om herstel te word. Is jy al nuutgemaak? Vertoon jy die beeld van God? Is jy nog in Adam of is jy in Christus? Iemand het gesê : Voor God is net daar eintlik net twee mense : Adam of Christus en alle ander mense hang aan hulle gordels! Aan wie hang jy? 

WAARHEEN IS ONS OP PAD? Die begrip nuwe skepping gee ‘n belangrike leidraad. Die term nuwe skepping gaan oor meer as net persoonlike vergifnis en verlossing vir die mens wat deur geloof en bekering deel gekry het aan Jesus. 

As iemand in Christus is, is hy reeds deel van die nuwe skepping as geheel. Dis die toekomstige bedeling van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde! 

Die Satan het groot verwoesting aangerig in God se skepping. In die mens, maar ook die natuur. Vanweë die sonde is die aarde vervloek. God het egter nooit sy skepping prysgegee of laat vaar nie. Sy bedoeling is die herstel van die hele skepping! Deur Jesus het God reeds begin met ‘n herskepping wat finaal sal uitloop op ‘n nuwe hemel en aarde. Ons lees in 2 Petrus 3:13 soos volg : “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” Dis alreeds deur die profeet Jesaja voorspel. In Jesaja 65:17 lees ons : “Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie.” Hierdie herskepping vind nou reeds plaas in elke mens wat aan Jesus behoort maar sal voltooi word by die finale opstanding wanneer ons as mense met nuwe verheerlikte liggame op die nuwe aarde sal woon! ( Ons bely mos : “Ek glo in die opstanding van die vlees!”) 

Almal wat in Christus behoort is deel van God se nuwe skepping en kan nou reeds uitsien na die ewige heerlikheid. Verheerlikte mense met verheerlikte liggame op ‘n volmaakte aarde sonder sonde en stryd en trane en dood! 

Net weereens wat van nou? Is ons lewens nou vol sin en betekenis of moet ons net wag vir die eendag? Almal wat aan Christus behoort leef nou reeds as nuwe mense terwyl ons nog onvolmaak en in ‘n onvolmaakte wêreld is. Ons leef dus nie net met die oog op eendag nie. Wat ons nou doen is belangrik. Juis omdat ons glo in die opstanding wanneer ons verheerlikte volmaakte liggame sal kry moet ons nou voluit werk aan dit wat die Here ons gegee het om te doen. Paulus sluit sy heerlike hoofstuk oor die opstanding af met hierdie aanmoediging. “Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.” (1 Korintiërs 15:58) 

As nuwe skepsele moet ons werk doen wat by die nuwe skepping pas, nou reeds! 

Ons verstaan nie altyd hoe dit wat ons doen inpas by God se ewige plan nie, maar ons moet ywerig en geduldig volhard… Die teoloog NT Wright gebruik die pragtige voorbeeld van werkers in ‘n steengroef. Hulle swoeg en sweet van die klippe kap. Dag na dag...Dis meestal ongeletterde mense wat nie verstaan waarom en hoekom nie. Hulle het nie altyd begrip van die groter prentjie nie. Hulle weet nie van die pragtige en imposante kasteel of katedraal wat hulle werkgewer in gedagte het nie! Tot op die dag wanneer die gekapte klippe in plek geplaas word en daar tot hulle verbasing ‘n meesterbouwerk verrys onder die bekwame hand van die boumeester... Elke kind van God, wat herstel is na God se beeld is besig met God se werk... Moenie moeg word en ophou nie! Jou werk is nie tevergeefs nie! AMEN!

* Die Griekse woorde ktisis kan ook vertaal word met skepping/creation.