Saterdag 27 Februarie 2016

IMMANUEL SE TROOSVOLLE UITNODIGING

As iemand na aan ons sterf, raak dit mens baie diep, trouens dit raak nie net nie, dit sny, dit maak ons binneste stukkend, flenters... En dis dan dat mens begin wonder waar God in die prentjie pas. Waar is Hy, gee Hy om, verstaan Hy, hoe maak Hy 'n verskil? Die groot troos is dat God nie ver is nie, maar naby is, baie, baie naby! Hoe so? Wel die Matteusevangelie vertel sommer reg aan die begin waar dit oor Jesus se geboorte gaan dat Hy IMMANUEL is, dit wil sê : "God met ons" (Matteus 1:22,23) Jesus is God wat mens geword het, wat as't ware in ons bestaan ingeklim het en alles ervaar en gely het, wat ons ervaar en ly... ja, alle hartseer, swaarkry en dood!

Hierdie Jesus, ja Immanuel is vandag op hierdie hartseer oomblik ook hier waar ons afskeid neem van 'n geliefde...

En Hy is hier met 'n besondere uitnodiging aan elkeen van julle! Kom ons lees dit in Matteus 11:28-30.

"Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.
My juk is sag en my las is lig."

Kom ons bekyk net hierdie kosbare uitnodiging van Jesus :

KOM - dis seker een van die eerste woordjies wat enige kleuter leer. Maklik verstaanbaar. Dis 'n uitnodiging. Elkeen moet daarop reageer..

NA MY - die uitnodig wat Jesus maak is nie 'n uitnodiging bloot om kerk toe te kom of godsdienstig te word of om te probeer om 'n nuwe blaadjie om te slaan nie. Nee, dis baie persoonlik 'n uitnodiging om na HOM te kom, die Lewende Seun van God! Hy roep jou na Homself!

ALMAL - wie mag kom? Wel, Jesus se woorde is baie duidelik - "almal" - dit sluit vir jou en my in. Dit sluit jou in wat dalk op hierie oomblik ver van God is, kwaad is, rebels is, afgedwaal het... Jesus kan nie lieg nie, as Hy sê "almal" dan is dit almal. Almal wat nood het, diegene wat "uitgeput en oorlaai is" (Wat presies hierdie nood is, sal ons beter verstaan as ons verstaan wat Jesus met "rus" bedoel.)

RUS -  Wat sou Jesus met rus bedoel? Dit gaan tog seker nie oor vakansie nie? Ons moet terugggaan na die Skeppingsverhaal om dit reg te verstaan. Ons lees dat God na sy skeppingswerk op die sewende dag "gerus" het. Wat beteken dit God kan mos nie moeg word nie? Nee, hierdie rus beteken dat God tevrede was met sy volmaakte skepping, Hy het sy doel bereik!Alles was soos dit moes wees. Daar was RUS!  Daar was volkome harmonie.  MAAR, toe kom die sondeval en die rus word versteur! Die skepping en baie spesifiek die mens se bestaan word verontrus deur SONDE, SWAARKRY, SIEKTE en STERFLIKHEID!

Hierdie onrus en disharmonie raak ons almal. Ons voel dit aan ons eie lyf. Ons elkeen is besmet met sonde. Die gevolge van sonde raak ons ook almal. Ons beleef swaarkry, ons is blootgestel aan siekte en allerhande ellende en die groot donker wolk van sterflikheid hang dreigend oor elkeen van ons. Ons het nood! Dit put ons uit, dis 'n las wat ons nie kan dra nie!

En nou in hierdie omstandigheid kom nooi Jesus jou na Homself toe uit en bied aan om vir jou rus te gee! Rus as antwoord op die ellende van sonde, swaarkry, siekte en sterflikheid!

So wat beteken die rus prakties? Eerstens dat Hy ons van ons sondeskuld en sondemag bevry! Hy doen dit deurdat Hy aan die kruis die volledige straf vir ons sonde op Hom geneem het! (Jesaja 53:5,6) Elkeen, ja jy ook, wat in die geloof na Hom kom ontvang volkome vryspraak van sonde. Jy word God se kind, jy verkry toegang tot die ewige heerlikheid!

Maar, wat dan nou van die swaarkry, die siekte en die sterflikheid? Jesus bring ook daarvoor die oplossing. Deur sy sterwe en opstanding het Hy nie alleen vergifnis gebring nie, maar ook die waarborg van 'n nuwe skepping! 'n Nuwe hemel en 'n nuwe aarde! Daar sal geen swaarkry, siekte of sterflikheid wees nie! Ons gaan bevry word van alle verganklikheid! Ons gaan nuwe liggame kry sonder enige pyn, smet of rimpel! Dis iets waarna elke ware kind van God uitsien! Dis die troos vir God se kinders in 'n stukkende wêreld, dit maak dat ons nie moed verloor of deur smart oorweldig word nie... daar wag 'n heerlike toekoms vir elkeen wat aan Jesus behoort!

Het jy al na Jesus gekom? Waarom nie? Miskien is jy huiwerig en bang. Jy wonder wat Jesus met jou gaan doen, want jy die ken jou eie boosheid. Jy is bang vir verwyte en veroordeling. Jy is bang vir sy "juk", sy opdragte en standaarde. Bang om jouself aan Hom te onderwerp. Dis asof Jesus ons huiwering aanvoel. Hy verseker ons Hy is "sagmoedig en nederig". Hoe wonderlik! Jesus is nie 'n harde meester of wrede diktator nie. Hy gaan jou nie in die tande skop as jy op die grond lê nie, Hy is sagmoedig! Dis wonderlik dat Jesus self juis hierdie een eienskap uitsonder! Hy moedig jou aan om na Hom te kom. 

Kom, jy het niks te vrees nie! Kom na Hom vir volle vergifnis, rus en vrede. Kom na Hom sodat jy ook verseker kan wees van die ewige rus en daarom nie bang hoef te wees vir die dood nie!