Vrydag 17 April 2026

BEVRY VAN DIE VREES VIR DIE DOOD

 [Troosdiens van Reinhard Friederich, bekende boer van Namibië en kenner van die natuur en die Hei//om Boesmans]



 Hebreërs 2:10-15 LEES*

Ons het nou onlangs Paasfees gevier – Jesus se oorwinning oor sonde, Satan, dood en hel. Maar ek wil nou eers begin met ‘n Kersverhaaltjie. Kersfees en Paasfees gaan eintlik mos baie nou saam. Op 'n koue winternag in die Noordelike halfrond, het 'n eenvoudige boer bewus geword van die voëltjies buite wat so ontsettend koud gekry het. Hy dink toe hy aan 'n goeie plan en maak die deur van sy skuur oop. Dit was 'n heerlike warm skuur waar die voëltjies sou kon skuil teen die biuttere koue. Gou vind hy uit daar is 'n probleem, hulle wil nie in die skuur inkom nie. Miskien was hulle bang of net vreemd. En toe dink hy, "Ag as ek ook maar net gou 'n voëltjie kon word, soos hulle en hulle veilig na die skuur toe lei." En skielik verstaan hy die betekenis van Kersfees. Dis presies wat Jesus kom doen het - Hy het een van ons geword, waarlik mens juis om ons te red en na die heerlikheid van God te lei.

God se groot doel met sy mense, sy kinders is om ons tot heerlikheid te lei. (10) Ons dink dikwels te negatief oor God se verlossingsplan – asof Hy net wil sorg dat ons nie hel toe gaan nie. Ja, natuurlik, Hy red ons van die hel, maar sy doel is soveel groter. Hy wil ons laat deel in sy heerlikheid, sy volmaakte glorie, sondeloosheid, vrede en vreugde! God het ons gemaak om sy heerlikheid te aanskou, te bewonder en te geniet. (Man's chief end is to glorify God and enjoy Him forever.)**

Maar nou weet ons almal, ook uit eie bittere ondervinding, daar is hindernisse,  dinge wat keer dat ons hierdie heerlikheid kan bereik of deelagtig word – ons is sondaars en ons is daarom juis ook sterflik! Sonde en dood keer ons...

God het egter besluit om vanweë sy groot liefde ons nie in ons ellende te los, maar Iemand te stuur om ons uit ons ellende en verslawing uit te lei na heerlikheid. Hiervoor moes Hy een van ons word (dink weer aan die voëltjies) en moes Hyself juis ook ly om ons Leidsman te word.

Die meegevoel en solidariteit van Jesus met ons het logiese, praktiese implikasies. Ons, sy broers/kinders is gewone mense, mense van vlees en bloed, sterflike mense en om dus waarlik ons Verlosser en Hoëpriester te wees moes Hy ook ‘n mens van vlees en bloed word. Onthou Johannes 1:14 – Die Woord (Jesus) vlees geword”. Belangrikheid van ons belydenis is baie duidelik – Jesus is waarlik mens, waarlik God! Hoekom is dit belangrik? Hy moes waarlik sterf! Hoekom sterf? 

Om die mag van die duiwel, wat mag het oor die dood te verbreek.

Wat beteken die mag van die duiwel oor die dood? In watter opsig? Hier moet ons nou versigtig trap. Dit beteken nie die duiwel kan links en regs mense doodmaak soos hy sou wou nie – Net God se self beskik in absolute sin oor lewe en dood.  Jesus herinner ons immers in Openbaring “Ek het die sleutels van die dood en die doderyk”

Die duiwel se mag in terme van die dood beteken dat Hy ons laat sondig en aankla omdat ons gesondig het.(Openb. 12:10). Die duiwel het dus ‘n greep op ons as sondaars omdat ons gesondig het.   Hy kan ons afpers – Hy beskuldig en teister jou : "Jy is ‘n sondaar en daarom bring die dood vir jou oordeel en verskrikking." 

Verder - Deur te sondig het ons aan die Satan ‘n wettige gesag oor ons gegee. Hy is nou ‘n tiran in hierdie wêreld wat ons met vrees oorheers. HY voer ‘n skrikbewind deur sy vervalsings en verdraaiing van die waarheid. Ons lewens word beïnvloed deur vrees en angs. Hierdie vrees is so erg – dit maak van ons slawe, dit beroof ons van vreugde en vryheid en hoop. 

Jesus sterf nou in ons plek, Hy vat ons straf vir ONS sonde en verbreek die duiwel se houvas en greep op ons! Dis die paradoks – Jesus vernietig die dood deur self te sterf. Jesus se uniekheid word weereens duidelik – ander helde se dood bring einde aan hulle oorwinnings en loopbaan, Jesus se dood is juis Sy oorwinning! 

Die wapen van die duiwel is ons sonde – maar Jesus vat die wapen weg. So bevry Hy ons dus uit die slawerny van vrees. (15) Onthou nou - Vrees vir die dood en oordeel, kom voort uit die besef ons is skuldig voor God! As Jesus ons skuld wegneem en ons glo dit, verdwyn die vrees.

Ons sterf nog steeds – die finale heerlikheid moet nog kom, maar die dood het nou sy angel verloor. Die skerpkant, die verskrikking van die dood is nou weg. Dis nie ons goedheid nie, maar die sterwe en opstanding van Jesus maak die verskil. Die dood is deur Jesus getransformeer, heeltemal omgekeer en verander.

Die dood is nou nie meer ‘n bestemming van vrees en

 ewige skeiding nie, maar die deurgang na 'n vreugdevolle

 gemeenskap met Jesus self.

Daarom kan Paulus sê – vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.

Die dood van ‘n geliefde is altyd hartseer vir ons as mense. Ons treur, maar nie soos mense sonder hoop nie. Dis Jesus se oorwinning oor Satan en dood wat ons hierdie hoop gee.

Ons elkeen moet ook sterf. Maar dis nie nodig om te vrees nie. Die evangelie bevry ons van die slawerny van vrees. Die evangelie moet aanvaar word deur bekering en geloof. Jesus word hier genoem die Leidsman. Jesus wil jou ook na heerlikheid lei – volg Hom, Hy het voor gestap! AMEN

10God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog:
“Ek sal u Naam aan my broers bekend maak,
in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.”
13Ook sê Hy:
“Ek sal altyd op Hom vertrou.”
En verder:
“Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.”
14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. 
** Westminster Shorter Cathechism