Maandag 23 September 2019

FEITE VIR 'N DAG SOOS VANDAG...

'N NUWE SIENING OOR DIE DOOD, NIE GEBOU OP GEVOELENS NIE, MAAR OP FEITE!


Feite oor die dood en wat daarna gebeur is skaars; fiksie is volop! Ons lees uit God se Woord (die enigste bron van ware feite oor die DOOD) en wel uit Filippense 1:20-26.

Soos almal seker weet is Paulus in die tronk en dis nie heeltemal seker dat hy wel lewend daar sal uitkom nie. Wat egter opvallend is, is sy positiewe houding en gesindheid. Hy kla nie, hy vrees nie, inteendeel hy skryf 'n brief aan die gemeentelede van Filippi en sy hooftema is : BLYDSKAP!

Nie eers die moontlikheid van 'n naderende dood kon hom neerslagtig maak nie! Binne hierdie konteks maak hy 'n radikale stelling: "om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is wins!" (vers 21)

Dis 'n uiters bevrydende en positiewe siening oor die die dood. Wat is JOU siening vandag by hierdie geleentheid oor die dood? Daar bestaan mos verskeie opinies en gesindhede rondom die dood:


VERSKEIE SIENINGS

VREES. Dis die groot vyand, die donker, onbekende, skrikwekkende einde, waaraan ek liewers nie eens wil dink nie. Ek weier om eers daaroor te dink dat ek die volgende een gaan wees wie se roudiens ons sal bywoon... Dit kan mos nie regtig met my gebeur nie!

GELATE AANVAARDING. “Ag, almal moet maar doodgaan... Wat kan mens daaraan doen? Wie gee om...?” 

DAPPER HOUDING. Ek sal nie bang wees nie en sal nie wys ek is bang nie. Amper ‘n uitdagende minagtingtende houding. Mens hoor dit soms: “My ou toppie het mos die emmer geskop. Fanie het die lepel in die dak gesteek...”

SENTIMENTELE NAÏWITEIT. Mens hoor dit deesdae baie algemeen by roudienste en huldeblyke... (veral by die sogenaamde beroemdes) “John speel nou rugby in die hemel vir die eerste span, James jaag nou “rally” in die goue strate, Jakes is seker stout soos altyd en die engele moet maar net aanpas en probeer byhou...” Sentimentele snert, uitgespreek deur mense wat totaal onkundig is oor die Bybel se boodskap!

Die evangeliese siening oor die dood:

DIS WAARLIK WINS!

Die Christen se siening, soos Paulus dit in die werklike lewe verwoord het, is iets heel anders : Die sterwe is wins! Nie net die afwesigheid van vrees nie, maar ‘n positiewe uitsien. Maar dis ook ‘n nugtere berekende uitsien, gebou op feite! Bybelse feite, Goddelike waarheidsfeite. Wat beteken hierdie wins nou prakties?

Paulus verklaar : “...ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;” (Fil.1:23)

Twee sleutelbegrippe is belangrik in vers 23: “heengaan, by Christus”

Wat sou hy bedoel met heengaan? 2 Kor. 5:1 gee vir ons ‘n leidraad. “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.” Die dood is nie meer ‘n verskrikking nie, dis nie ‘n donker einde nie, dis ‘n verhuising van ‘n tydelike woning na ‘n ewige woning. Dis net ‘n oppak en vertrek na my finale blyplek. As jy vanuit die Woord weet wat is jou bestemming, behoort die verhuising geen verskrikking te wees nie!


Die kernrede vir Paulus se blydskap is dat hy by Christus sal wees. Van aangesig tot aangesig sal ek Hom sien wat my liefgehad en sy lewe vir my gegee het. Onbelemmerde en onverstoorde gemeenskap met die volmaak liefdevolle Jesus Christus. Geen pyn, geen sonde, geen twyfel, geen stryd, net die volmaakte teenwoordigheid van onbeskryflike liefde! ‘n Tuiskoms by my ware vaderland en my ware Redder-Koning! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Fil. 3:20)

Let Wel : Paulus se positiewe siening oor die dood beteken allermins dat hy swartgallig oor die lewe was! Inteendeel, hy straal 'n positiewe gees uit selfs hier binne die tronk. Hy sien die lewe as 'n geleentheid vir "vrugbare arbeid" en 'n kans om "Christus te verheerlik." Hy het nie 'n selfbejammerende houding van, "ag, dit gaan so sleg, ek wil maar liewers doodgaan," nie! Paulus leef positief voluit, maar hy besef, as hy moet sterwe is dit ook positief. Weereens, 'n wen-wen situasie.

Die kind van God het ‘n unieke beskouing van die lewe en van die dood! 

“Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Die “en” is baie belangrik. Dit koppel die twee helftes aanmekaar. NET mense wat kan verklaar “Vir my is die lewe Christus”, kan ook met vertroue sê : “die sterwe is wins.” Kan jy dit sê?