Donderdag 27 Augustus 2015

'N BEGRAFNISSTOET KOM TOT STILSTAND

- wanneer Jesus die dood konfronteer en oorwin! 


Die dood maak ons hartseer en wek altyd maar vrae by ons – “Waarom nou Here?” of “Here, kon U dit nie maar gekeer het nie? Hy/sy was nog so jonk!” Die dood laat ontstaan dikwels ‘n verslaentheid of selfs woede by ons. Ja, ons almal as mense staan stom en magteloos voor die wrede werklikheid van die dood. Ons skram maar almal weg van die dood en veral van ons eie nader komende dood. 

Daar is net een Uitsondering. Die mens Jesus Christus. Hy skram nie weg van die dood nie, Hy konfronteer die dood! (LUKAS 7:11-17) Hy vat die dood onbevrees aan! Hier buite die dorpie Nain gebeur dit op ‘n dramatiese manier. Probeer jou die prentjie voorstel... Jesus stop in effek ‘n begrafnisstoet! Dis waarlik net Jesus wat sou waag om dit te doen... Dit lyk amper so voorbarig en byna disrespekvol. Die beste wat ander mense kan doen in die teenwoordigheid van so ‘n treurige prosessie is om eerbiedig toe te kyk of saam te stap. Nie Jesus nie, Hy gryp in!

Twee eienskappe van Jesus is opvallend in hierdie gebeurtenis. Sy medelye en sy almag. 

Jesus het hierdie vrou innig jammer gekry. Hy het opregte meegevoel en medelye. Hierdie was natuurlik ‘n besondere hartseer geval. Hierdie vrou het reeds haar man aan die dood afgestaan en nou word haar enigste seun na die graf gedra. Sy is totaal weerloos en alleen. Jesus is in sy binneste geraak deur die lot van hierdie diep bedroefde weduwee. Hy verstaan ook hoe elke hartseer persoon hier voel...

Opvallend is nie net Jesus se besondere medelye nie, maar ook sy almag. Ja, die hele dorpie voel saam met die vrou en probeer haar ondersteun, maar net Jesus kan regtig ‘n praktiese verskil maak! Hy maak deur sy Goddelike en onbeperkte almag hierdie seun lewend. Nie net Jesus se meegevoel en simpatie bring vir ons hoop nie, maar juis sy almag sluit vir ons die lewe oop! 

Jesus konfronteer die dood en oorwin! Die jongman word terugbesorg aan sy weduwee moeder.

Wat is die betekenis? Beteken dit dat ons nou links en regs vir dooies moet bid en hulle probeer opwek? Nee, ook Jesus self het dit nie gedoen nie. (Die finale opwekking van die dooies met nuwe liggame sal eers by die wederkoms plaasvind.) Nee, hierdie was ‘n demonstrasie van Jesus se almag en ‘n voorskou dat Hyself die dood finaal sou oorwin deur sy opstanding. Hierdie was ‘n teken sodat ons kan begryp wie Jesus is en ons tot Hom kan bekeer.

Die effek van Jesus se opwekkingswonder, maar juis ook die betekenis daarvan kry ons in vers 16. “En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.”

Jesus is God se finale boodskapper (Profeet), maar ook God se finale besoek aan sy volk. (Hebreërs 1:1) Jesus self is God se finale woord van hoop en bevryding aan ons. Jesus bring die oplossing, die verlossing van sonde en dood. Reeds in Lukas 1:68 kry ons hierdie begrip "besoek" in verband met God se ingrype deur Jesus in die lofsang van Sagaria. "Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het," Dit gaan oor verlossing!  God het deur Jesus naby aan ons gekom, na ons toe gekom. Hy kom besoek ons in ons sondenood, gebrokenheid, hartseer en verganklikheid. Ja, Hy besoek ons weereens ook vandag hier by die werklikheid van die dood en die graf! Hy kom vestig God se Koninkryk in hierdie stukkende wêreld, ‘n koninkryk waar daar uiteindelik geen sonde en dood sal wees nie, soos Openbaring ons so duidelik leer. Dis net Jesus wat ‘n antwoord het vir die dood. Dis net die evangelie van Jesus wat ware hoop kan bring vir ‘n sterwende wêreld.

Daarom is dit so hartseer dat mense antwoorde op ander plekke soek.

God het ons deur Jesus besoek. God se genade en verlossing het naby gekom. Maar ons moet dit gelowig aanvaar. Ons moet daaroor bly wees! En tog gebeur dikwels die teenoorgestelde... Jesus word geïgnoreer deur mense wat leef soos hulle wil, Jesus se opstandingsdag wat die Sondag is en met blydskap gevier moet word, word vertrap, die evangelie word verwerp. Mag die Heilige Gees tog ons oë open vir wie Jesus werklik is! God wat ons besoek deur Sy Seun. Hy is die antwoord op ons diepste nood ook op hierdie oomblik. Glo in Hom en jy sal sy troos en sy bevryding ervaar. Nou reeds...