Dinsdag 01 Augustus 2017

TWEE MANIERE VAN STERWE

Ons hou ‘n diens omdat ons graag wil hê dat die Woord vir ons lig moet gee op die werklikheid van die dood. Dis ‘n werklikheid wat ons nou vandag weer opnuut in die gesig staar met die afsterwe van...

Die Woord troos ons.

Die Woord waarsku ons ook. 

Die Woord nooi ons ook om betyds gereed te maak vir ons laaste afspraak. 

Almal moet sterwe en daar is net twee maniere van sterwe. Dis twee radikaal verskillende maniere met twee radikaal uiteenlopende gevolge en eindbestemmings. 

Die twee opsies is : “in julle sondes sterwe” of “in die Here sterwe”

OPSIE 1 In Johannes 8:24 lees ons hoe Jesus vir die Jode sê : “Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe."

Natuurlik word ons almal gebore in sonde. Dis ‘n gegewe. Ons is inherent sondaars en ons doen sonde juis omdat ons sondaars is. Ons kan dit nie ontken nie. Ons hoef egter nie in ons sonde te sterwe nie. God het juis vir ons ‘n Verlosser gestuur. Jesus Christus wat aan die kruis sonde, Satan, dood en hel oorwin het. Hoe het Hy dit gedoen? Hy het ons sonde op Hom gevat... die volle straf van God gedra in ons plek. So kan elkeen wat Hom aanvaar het deur die geloof, weet : “My skuld is betaal, my straf is reeds namens my uitgedien, ek is vry, ek het vrede!” (Jesaja 53:5,6)

As ek Jesus egter verwerp, m.a.w. Hom nie doelbewus aanvaar nie (soos wat hierdie Jode gedoen het), bly ek in my sonde en bly God se oordeel op my tot in ewigheid. Dis hulle van wie Paulus in 2 Tessalonisense 1:8,9 praat : "Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag."

Dis my plig (al voel dit vir jou dalk ongemaklik) om jou te vra : “Wat het jy met Jesus gemaak? Het jy Hom tot op vandag verwerp of het jy Hom heelhartig aanvaar?”

Dis gelukkig ook my heerlike voorreg om aan elkeen te verkondig dat daar lewe is in Jesus, ewige lewe! Dit bring ons by die volgende...

OPSIE 2 In Openbaring 14:13 lees ons : Toe het ek ‘n stem uit die hemel hoor sê: "Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe." "Ja," sê die Gees, "hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle."

As mens aan Jesus behoort dan is die dood nie meer ‘n verskrikking nie. Om aan Jesus te behoort beteken dat al my sondes my vergewe is, dat ek vrygespreek is, dat ek ‘n erfgenaam van die ewige erfenis geword het.

Dis opvallend dat hier gepraat word van arbeid/werke. Hoekom? Diegene wat deur Jesus gered is se lewe bring goeie werke voort! As Jesus my Verlosser is, word dit sigbaar in ‘n nuwe lewe – van vergifnis vir ander, van heiligheid, van aanbidding van die Here, liefde vir God, liefde vir my medemens... Goeie werke red ons nie, maar goeie werke is ‘n noodwendige gevolg van redding deur die geloof in Jesus. Hieroor is Efesiërs 2:8-10 baie duidelik :

“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Die troosboodskap van die Woord is baie helder : Vir diegene wat in die Here sterwe is hulle sterwe net ‘n deurgangsroete na ewige heerlikheid. Ewige rus, wat beteken ewige vervulling! Hulle goeie werke sal tot in alle ewigheid beloon word. Hulle lewens was die moeite werd omdat die genade van God in Jesus die groot verskil maak! Daarvoor kan ons God maar net tot in alle ewigheid dank. Amen.