Woensdag 28 Oktober 2020

VERHUISING : VAN TENT NA VASTE WOONPLEK

 Ons lees  2 Korintiërs 4:16- 5:1-10


Almal van ons ken ‘n tent. Almal van ons ken ‘n vaste geboude huis. ‘n Tent is baie lekker op sy tyd en plek, soos met ‘n vakansie. Maar as permanente woning is ‘n vaste geboude huis darem verreweg die beste. Paulus vergelyk ons aardse bestaan met ‘n tent. Ons ewige nuwe 
heerlike hemelse  bestaan vergelyk hy met ‘n vaste gebou. 

"Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele." ( 2 Korintiërs 5:1)

Hy is baie eerlik en realisties. Ons aardse bestaan gaan afgebreek word. Dis tydelik. Ons ewige hemelse bestaan is ‘n vaste gebou van God en sal vir ewig bestaan. In die taal van Openbaring – daar sal geen siekte, smart, trane of dood meer wees nie. Ons gaan nuwe LIGGAME kry!

Die vaste gebou wat wag vir God se kind is baie beter as die tent waarin ons ons nou bevind! Dis ‘n basiese leerstelling van ons geloof.

Maar Paulus is baie eerlik as hy oor die dood praat. Dit lyk asof hy hier wil sê dat  hy (en ons seker ook!) sal verkies om tot by die wederkoms te lewe en dan onmiddellik nuwe liggame te kry. Sonder om ‘n tyd na ons dood deur te gaan wanneer ons nie liggame het nie. Ja, kom ons wees baie eerlik - die dood bly iets vreemds en as ons sou kon kies sou ons eerder direk na God wou gaan sonder om eers deur die dood “ontklee” te word.

Maar Paulus se doel in hierdie en die voorafgaande hoofstuk is om God se kinders moed in te praat.  (16) Ons vergaan, maar word dag tot dag vernuwe. Dis waar van elke kind van God. 

Ons kyk nie net na ons huidige omstandighede nie, maar na die onsigbare werklikheid. En dis die hoop op die vaste woonplek. 

En die basis vir die hoop op ‘n beter toekoms is die feit dat die Heilige Gees nou reeds in God se kinders woon. Die feit dat die Heilige Gees in ons woon is ‘n WAARBORG dat God hierdie liggaam nie sal afskryf of sal vergeet nie, maar sal opwek by die wederkoms! Dis die waarborg dat almal wat nou voor die wederkoms sterf in Jesus, sowel as diegene wat op die dag van die wederkoms nog leef, nuwe verheerlikte liggame sal kry!

Maar wat nou belangrik is – ongeag of ons gaan sterf en of ons nog by die wederkoms gaan leef, is om ‘n lewe te leef soos wat God wil hê! En dis ‘n dringende belangrike saak, want ook Christene gaan voor die regterstoel van Christus verskyn.  

"Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad." (2 Korintiërs 5:10)

LW – ons ALMAL. Ja, ons word gered deur geloof sonder werke, sonder prestasies – NET GENADE!, maar die Skrif is baie duidelik dat ook kinders van God se dade gaan beoordeel word. Die lewe van geloof onthef ons nie van ‘n lewe van gehoorsaamheid nie! Wat ons nou doen is baie belangrik! Leef jy vir God of leef jy net vir jouself? Is jy besig met die werk wat God jou gegee het in die gemeente waarin jy God jou geplaas het. En terloops – elke kind van God het ‘n gemeente – Hy voeg mense wat gered is by ‘n gemeente. En ELKE kind van God het ‘n taak op aarde – om God lief te hê en jou naaste soos jouself – dis die basis, maar dit kristalliseer in spesifieke take binne die gemeente as liggaam van Christus!

Die hoofboodskap van hierdie gedeelte is dat daar hoop is vir die Christen, hetsy of ons nou by die wederkoms lewe of reeds dood is. Maar hierdie hoop moet ons nie passief maak nie, hierdie hoop moet ons juis aanmoedig om NOU ‘n lewe te leef wat eer aan God bring, want ons gaan verantwoording doen. 


Hierdie boodskap kom dus nou na ons in die vorm van twee vrae: Is jy ‘n kind van God wat ‘n toekoms het na die graf?  Leef jy op so ‘n manier dat jy sal kan verskyn voor Jesus dat jou dade as Christen getoets kan word?