Donderdag 28 Mei 2020

TROOS BY DIE DOOD VAN 'N JONG KIND

"Laat die kindertjies na My toe kom…"

[Ons lees uit God se onfeilbare Woord uit Lukas 18:15-17]



‘n Jong kind se onverwagse dood is vir ons ekstra hartseer. Dit laat ons nie net met seer harte nie, maar ook met vraende harte. Ons verstaan net nie. Dis net so onwerklik, so vreemd, so onbeskryflik hartverskeurend. In hierdie bekende gedeelte wil ek net drie feite uitlig, wat as ons dit glo tog ‘n reuse verskil gaan maak. Nie net vandag nie, maar in elkeen van ons lewens vir ewig. 

1.Kinders leef in ‘n vyandige stukkende wêreld, ‘n wêreld vol sonde, swaarkry, siekte en dood. Kinders is nie gevrywaar van die vreeslike effek van die sondeval gebeure in die tuin van Eden nie. Daarom doen kinders ook sonde, daarom sterf kinders ook, daarom het kinders ook met ander mense se sondige vyandelikheid te doen.  “Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas.” (15) Selfs Jesus se eie dissipels dink dat kindertjies nie belangrik genoeg is om aandag en tyd van Jesus te ontvang nie. 'n Sondige bevooroordeeldheid. Sondige diskriminasie. Mense gee nie altyd regtig om vir kinders nie. Kinders se welsyn is nie altyd regtig vir ons belangrik nie. Selfs by ouers kry ons dit dat hulle kinders net vir hulle belangrik is omdat dit status en roem vir die ouers bring! Kindertjies word dikwels mishandel.

Die ergste vorm van kindermishandeling is dat sommige ouers keer dat hulle kinders na Jesus toe kom! 

Hulle hou nie huisgodsdiens vir hulle kinders nie, hulle bring hulle nie kerk en Sondagskool toe nie… Hulle stel nie ‘n voorbeeld nie. Sommige kinders sien hulle pa net ‘n wynbottel vashou , maar nooit ‘n Bybel nie… Skrikwekkend, hartseer. Maar Jesus gee om. Jesus laat kinders nie in die steek nie. Mag dit vir ons almal ook ‘n wekroep wees om met die oë van Jesus na ons kinders te kyk! Mag ons Jesus se woorde duidelik hoor : “Verhinder hulle nie om na My te kom nie!” 

2.Jesus gee om vir kindertjies en ontvang hulle met ope arms. "Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: "Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” (16) Jesus se omgee is meer as net sentimenteel. Meer as net drukkies. Sy liefde beteken dat Hy van sy kosbare tyd aan kindertjies afstaan om hulle te seën. Hierdie is nie ‘n leë gebaar soos ‘n presidentskandidaat voor ‘n verkiesing wat kleintjies optel vir propaganda doeleindes nie. Dis evangeliese seën, evangeliese aanraking. 


Jesus se liefde vir kindertjies beteken juis dat Hy ook vir kindertjies se sonde gesterf het. 

Vir kindertjies deur die vernedering van die graf gegaan het. Vir kindertjies uit die dood opgestaan het, sodat kindertjies wat in Hom sterwe liggaamlik weer sal opstaan met nuwe liggame. Jesus se liefde wat Hy hier aan kinders bewys is ‘n verlossende liefde! Want Jesus het immers gekom om sy volk van hulle sondes te verlos – kindertjies is deel van sy volk! 

3.Die koninkryk van God is die enigste vaste troos en sekerheid wat daar bestaan en dis juis ook vir kindertjies bedoel. Jesus gaan nog verder – en maak ‘n geweldige uitspraak : “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie." (17) . Wat sou Hy hiermee bedoel? Bedoel Hy dat kindertjies onskuldig is? Ons weet tog dat alle mense sondaars is. Ook klein kindertjies. Nee, dit gaan oor die begrip ontvang. Die Koninkryk van God is nie iets wat ons verdien of wat ons kry weens ons eie goedheid of prestasies nie. Ons ontvang dit. Kinders is maklike ontvangers. Hulle besit niks nie, hulle het nie bedingingsmag of invloed nie. Hulle kan maar net hulle handjies uitsteek om te ontvang. Hulle is volkome van ander se goedheid en genade afhanklik. As jy vir ‘n klein kindjie iets gee dan vat hy dit. Grootmense is dikwels te hoogmoedig en vra vrae en voorsien alle probleme en stel voorwaardes. Maak verskonings. Die evangelie van Jesus kom na ons, maar mense het allerhande verskonings om nie te glo en nie te bekeer nie. God se geskenk van die ewige lewe is heeltemal gratis, want Jesus het met sy bloed daarvoor betaal. Maar wat doen die meeste mense? Hulle weier om dit net te ontvang… Ons is te besig, te belangrik, te slim. Vriend as jy nie in volkome nederigheid en afhanklikheid voor Jesus buig en sy koninkryk en vergifnis in geloof aanvaar nie, sal jy nooit daarin gaan nie! 

Om deel te wees van die koninkryk is die hoogste vorm van geseënd wees. Dis veral bedoel vir kindertjies en mense wat soos kindertjies geword het. Want in die koninkryk gaan dit volledig oor GENADE! 

Ons is hartseer! Ons huil vandag. En dis nie verkeerd nie. Jesus het self ook by Lasarus se graf geween. Maar ons vind ook troos. Troos in Jesus se liefde vir sondaars. Troos in Jesus se liefde juis ook vir klein kindertjies. Troos in die feit dat Jesus deur sy sterwe en opstanding die koninkryk verwerf het en dit uitdeel as ‘n geskenk ook en juis vir kindertjies!