Saterdag 21 November 2015

DIE GROOT FEIT WAT 'N VERSKIL MAAK...

op 'n hartseer dag soos vandag!


(Ons is hier bymekaar omdat die werklikheid van die dood ons hier byeengebring het. Ons kan dit nie wegwens of ignoreer nie; tog is ons ook juis hier voor ’n oop Bybel bymekaar omdat ons glo in die werklikheid van die opgestane Jesus en ’n heerlike finale opstanding )

Ons lees kortliks van twee Bybelfigure wat self voor die werklikheid van die dood gestaan het:

- van koning Hiskia uit Jesaja 38:1-3*
- van die apostel Paulus uit Filippense 1:20-24**

Geliefdes, ek het niks snaaks en buitengewoon om julle te vertel nie, maar ek is oortuig as ons stil word en luister het die Woord baie te sê. Die Woord alleen kan rus en perspektief, kalmte en vertroosting bied. Meer nog as jy die Woord regtig glo sal dit nie net ’n bietjie verligting bring nie, maar ’n vaste en sekere hoop ook vir jou eie sterfdag wat een of ander tyd sal aanbreek.

Ons het nou gelees van twee bekende Bybelfigure wat met die werklikheid van die dood gekonfronteer is : koning Hiskia en die apostel Paulus.

Beide is gelowiges, beide is dienaars van God en tog is daar 'n GROOT VERSKIL oor hoe hulle oor die naderende  dood dink.

Hiskia het bitterlik gehuil en met alle mag probeer vasklou aan die lewe. (die Here was hom toe wel genadig en het sy lewe met 15 jaar verleng)

In skrille kontras kon Paulus sê dat hy eintlik verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees. Hy sien so uit daarna, hy weet eintlik nie wat om te kies nie.

Wat maak die verskil? 

~ In Hiskia se tyd was daar nog geen duidelike verwagting van ’n opstanding nie. Die dood het gelei tot ’n uitsiglose bestaan. (Ps 6:6 sê immers : "Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?"

Jesus het toe nog nie opstaan nie. Die dood was 'n byna onoorkomentlike versperring om die teenwoordigheid van God te beleef.

DIE OPSTANDING VAN JESUS MAAK DIE VERSKIL!

Paulus leef in die tyd na die sterwe en opstanding van Jesus! Hy het dus ’n lewe realistiese hoop op 'n lewe vir ewig saam met die lewende Jesus!

Die kruisiging en die opstanding was die sentrale feite van die evangelie wat Paulus verkondig het. (1 Kor 15 :1-4) Dit handel oor die kruisiging, die begrafnis en die opstanding van Jesus. Die opstanding is die hoogtepunt, maar ook die deurslaggewende van die drie kern evangelie feite. Dis die bevestiging dat Jesus se offer aan die kruis vir ons genoeg was, dat ons sondes inderdaad uitgewis is, maar ook dat daar vir ons 'n nuwe lewe wag. Ja, dat net soos Jesus se liggaam opgewek is, ons liggaame ook opgewek sal word.

Geliefdes mooi trooswoorde het op ’n dag soos hierdie min krag, dit kan so hol en leeg klink. Sentimentele praatjies word deur die wind weggewaai. Daarom wil ek jou opnuut uitdaag om die eenvoudige maar oneindig kosbare evangelie feite te glo. Die feit van die genoegsame kruisdood, maar ook die feit van die heerlike opstanding!

Glo jy hierdie feite? Vind jy troos daarin? Maak dit ’n praktiese verskil? Het God deur die werking van die Heilige Gees dit al ’n werklikheid vir jou gemaak? Is hierdie feite persoonlik vir jou kosbaar?

As die plaasvervangende sterwe en opstanding van Jesus ’n vir jou 'n werklikheid is,  sal daar twee positiewe duidelike effekte in jou lewe wees. Jy sal anders dink oor die lewe en anders dink oor die dood. 

1.Anders dink oor die lewe. Wat bedoel ek? Die gemiddelde mens leef vir homself. Slegs vir die hier en die nou. Sy lewe gaan oor bymekaarmaak en versamel - partykeer baie subtiel - partykeer onder die dekmantel van “dis die Here wat ons seën” Die normale gemiddelde mens redeneer soos die ryk dwaas in Lukas 12 (vers 18-19). Ek wil vir myself 'n lewe skep tot my voordeel en dis waar alles eindig. Ek wil maar net eet, drink en vrolik wees en dis al... Maar as Jesus se opstanding vir jou 'n werklikheid geword het en jy besef Hy is MY ENIGSTE HOOP dan sê mens soos Paulus : "vir my is die lewe Christus!" My lewe begin rondom Jesus draai. Jesus en om Hom te dien gee sin aan my lewe. Hy word my eerste prioriteit.  Kan jy dit al sê? Of moet jy sê (eerlik) vir my is die lewe plesier, sukses, prestasie...? 

2.Anders dink oor die dood. Wat jy oor die lewe dink, gaan ook bepaal wat jy oor die dood dink. Paulus het anders gedink oor dood. Juis en net omdat Paulus kon sê "vir my is die lewe Christus", kon hy ook sê - "is die sterwe vir my wins." Sterwe wins? Was die dood dan vir hom voordelig? Het ons reg gehoor? Paulus is jy ernstig, bedoel jy dit? Of is jy dalk ’n freak wat met jou kop in die wolke gesweef het? 

Oor die algemeen is die dood iets waaraan mense nie wil dink nie. En tog, Paulus was ernstig. Hy was regtig positief oor die dood.

Maar nou hoekom kon Paulus so iets radikaal sê? Jy sien daar was 'n dag in Paulus se lewe toe hy die lewende Jesus ontmoet het en dit het alles verander. Van toe af het hy 'n nuwe visie gehad op die toekoms. Hy het geweet dat sy sonde vergewe is en dat hy kon uitsien na 'n lewe saam met sy Verlosser. Die dood was nie meer 'n verskrikking nie. Dit was nou net 'n deurgang na heerlikheid!

Maak seker dat jy ook kan sê : "Die lewe draai vir my om Jesus" Dan sal jy ook met vertroue die dood tegemoet kan gaan en dit eintlik as 'n wins beskou! AMEN

(Terloops, ons glo dat wanneer 'n kind van God sterf sy gees onmiddellik by Jesus is. Dis duidelik Paulus se verwagting hier. Maar met Jesus se wederkoms sal ons sterflike liggame ook vernuwe word en sal ons 'n verheerlikte liggaam soos Jesus kry. Lees Filippense 3:21)

*JESAJA 38:1 In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: "So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie."
2 Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here:
3 "Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë." Hiskia het bitterlik gehuil.

**FILIPPENSE 1:20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,
21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie.
23 Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;
24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe

BELANGRIK : As jy twyfel oor Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood of net meer daaroor wou weet, kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)




Saterdag 07 November 2015

LOOF GOD SE GOEDHEID!

- Ja, ook op ‘n dag soos hierdie. 


[Lees Psalm 118]

Hierdie psalm is ’n lofpsalm. Die tema van hierdie psalm baie duidelik : God is goed! (die psalm begin en eindig immers met hierdie stelling) Miskien sal iemand vra - Is dit gepas by ’n begrafnis? Is dit sinvol om by ’n hartseer geleentheid te praat oor die goedheid van God? Met respek gesê, op hierdie oomblik voel baie dalk nie so seker dat God goed is nie. Ek sal sê dis juis baie sinvol en noodsaaklik om by ‘n geleentheid soos hierdie te besin oor GOD SE GOEDHEID!! Ongetwyfeld is daar op ’n dag soos hierdie baie hartseer gemoedere, moontlik selfs baie skeptiese vrae en heelwat onsekerhede in sommige se binneste. Juis daarom is dit nodig dat ons ’n vaste punt sal hê en na ‘’n vaste waarheid sal kyk! (wat groter en meer betroubaar is as ons gevoelens) 

God se Woord is so ‘n vaste vertrekpunt en fondasie. Spesifiek dan nou Psalm 118. Dit handel oor die kort en kragtige stelling : God is goed! Dis ’n wesenswaarheid. As ons nie glo in die goedheid van God nie, dan glo ons nie in die ware God nie, want die ware lewende God is goed en Hy is altyd goed en net goed. God is goed! Dit bly waar al word ons ook met onverklaarbare lyding, onverstaanbare ellende, ja met die dood self gekonfronteer.

God is goed! Dis nie maar net ’n vroom frasetjie nie. Dis nie maar ’n flou gedagtetjie waarmee mense hulleself probeer troos nie. Dis ’n praktiese konkrete werklikheid. God is goed! Dis ’n waarheid wat enige toets kan deurstaan. Dit word op baie maniere sigbaar.

Dink maar aan die skepping... Al die ingewikkelde skoonheid, grootsheid en heerlikheid! Leer ken iets van kunstenaar uit sy werk.....kyk na God se skeppingswerk...die ryk verskeidenheid van klank, kleur, geur.....die wonder van lewe... Maar ons het nog beter getuienis oor God se goedheid as sy skepping. Ons het die woorde van die Skepper... soos hier in Psalm 18.

Uit hierdie psalm wil ek twee sake noem wat die goedheid van God bo alle twyfel bevestig:

~ God is ’n reddende helpende God. Dis die getuienis van alle kinders van God deur alle eeue. God se goedheid kom na vore deurdat Hy sy kinders in liefde help en red. God se kinders kan getuig van gebedsverhoring, van versorging, vertroosting, uitredding... Nou vra jy miskien : Maar wat dan van die swaar tye, bittere beproewinge en hartseer wat dikwels op die pad van God se kinders kom? God beloof nêrens dat ons as sy kinders in hierdie stukkende wêreld alle ellende sal vryspring nie, maar Hy beloof om by ons te wees en finaal te red! Daarvan getuig die psalmis so duidelik: “Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig. Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie.” (Vers 17,18!) Die volle betekenis hiervan word eers in die nuwe Testament verstaanbaar as ons hoor wat Jesus belowe : “Toe sê Jesus vir haar: "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;” Weens Jesus se sterwe en opstanding sal die dood nie die laaste sê hê oor God se kinders nie. Ons sal die ewige dood (hel) vryspring en deel in die ewige lewe in die teenwoordigheid van God!

~ Dit bring ons by die grootste bewys van God se goedheid, Jesus self! “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.” (Vers 22!) Die lewe en werk van Jesus is die finale en duidelikste bewys van God se goedheid! As u twyfel oor die goedheid van God kyk na Jesus ... Hy is deur almal verwerp, sy eie familie, sy eie volk, sy eie dissipels ....maar God het Hom uitgekies as die hoeksteen, die belangrikste klip, die enigste Middelaar tussen God en mens. Die goedheid en die liefde van God is vir eens en altyd bewys aan die kruis. Kyk na Hom daar waar Hy hang.... Waar sien ons God se goedheid? Daar waar Hy besmeer met ons sondes aan kruis hang. (Jes 53:5,6) Waar sien ons God se goedheid? Daar waar Jesus die straf in my plek kry. Waar sien ons God se goedheid? Daar waar Jesus uitroep : "Dis volbring!" (my sondeskuld is dus volledig betaal!) Geliefdes, ’n mens smaak en besef die goedheid van God eers werklik as mens die betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding begin verstaan.

Natuurlik, na dit alles twyfel ons nog soms oor God se goedheid. Worstel jy nog oor die feit van God se goedheid, wonder jy of God altyd regverdig is? Wel, dis nie reg nie, maar dit gebeur, dis menslik, want ons sien nog nie die volle prentjie nie, ons verstaan nie God se besluite en werke nie, maar ek kan u verseker al God se kinders wat reeds in die hemel is, is volkome oortuig dat God net goed is en altyd goed is. As ons daar kom sal saamstem! Nou terwyl ons nie volmaak is nie, lyk God se optrede partykeer nie vir ons goed nie; daarom is die belydenis van God se goedheid ’n saak van GELOOF! Ons sien dit nie altyd nie, maar ons glo in sy goedheid , want die Woord sê so. Eendag sal ons God se goedheid volledig sien en besef. Die waarheid van God se goedheid sal die toets van die ewigheid deurstaan - dan sal ons volmaak geheiligde harte en verstand saamstem en ons stemme uitjubel: God is goed! God is volmaak goed! God is net goed! God was en is altyd goed! 

Ons het nou gehoor : God is goed! Maar wat daarvan? Wat moet ons reaksie wees?

~ Ons moet God loof en prys! “U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing. Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie." (28,29) In alle omstandighede Malligheid? Nee, dis nugterheid. U sien Christene is realistiese mense - ons kyk na die ware feite. Ons prys nie ons hartseer omstandighede opsigself nie, nee ons huil daaroor (“ween saam met die wat ween”, sê die Bybel) Maar daar is ook op hierdie oomblik ’n ander feit wat ’n groter feit is as ons hartseer : God is goed! Dis die rede vir ons lof! Dink aan Paulus en Silas in die tronk! (Handelinge 16) Hoe snaaks dit ook al mag klink - ’n tyd van droefheid is ’n tyd om gelowig te bely en te juig : God is goed! 

~ Romeine 2:4 meld ook ’n ander reaksie wat God se goedheid by ons moet oproep. “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” God se goedheid roep ons tot bekering. Geliefde, God was en is goed vir jou. Sy goedheid skyn oor jou, miskien al vir 60,70, meer as 80 jaar! Wat het jy daarmee gemaak? Het dit jou al tot bekering gelei? Het God se goedheid jou daartoe gebring om Jesus persoonlik te omhels?

Die goedheid van God is ’n vaste heerlike realiteit, nou op hierdie oomblik. Geliefdes ons moenie die goedheid van God ligtelik opvat nie! Dit plaas ’n verantwoordelikheid op ons elkeen. Ons moet God loof. God se goedheid gee vir ons ‘n ander perspektief, ook op ’n dag waar ons afskeid neem van ‘n geliefde! Ons huil, maar ons huil word getemper deur die vaste wete, GOD IS GOED!


Ons beleef iets van God se goedheid in sy pragtige skepping, maar ons sien dit die duidelikste in die kruis en opstanding van Jesus ter wille van ons...




Donderdag 27 Augustus 2015

'N BEGRAFNISSTOET KOM TOT STILSTAND

- wanneer Jesus die dood konfronteer en oorwin! 


Die dood maak ons hartseer en wek altyd maar vrae by ons – “Waarom nou Here?” of “Here, kon U dit nie maar gekeer het nie? Hy/sy was nog so jonk!” Die dood laat ontstaan dikwels ‘n verslaentheid of selfs woede by ons. Ja, ons almal as mense staan stom en magteloos voor die wrede werklikheid van die dood. Ons skram maar almal weg van die dood en veral van ons eie nader komende dood. 

Daar is net een Uitsondering. Die mens Jesus Christus. Hy skram nie weg van die dood nie, Hy konfronteer die dood! (LUKAS 7:11-17) Hy vat die dood onbevrees aan! Hier buite die dorpie Nain gebeur dit op ‘n dramatiese manier. Probeer jou die prentjie voorstel... Jesus stop in effek ‘n begrafnisstoet! Dis waarlik net Jesus wat sou waag om dit te doen... Dit lyk amper so voorbarig en byna disrespekvol. Die beste wat ander mense kan doen in die teenwoordigheid van so ‘n treurige prosessie is om eerbiedig toe te kyk of saam te stap. Nie Jesus nie, Hy gryp in!

Twee eienskappe van Jesus is opvallend in hierdie gebeurtenis. Sy medelye en sy almag. 

Jesus het hierdie vrou innig jammer gekry. Hy het opregte meegevoel en medelye. Hierdie was natuurlik ‘n besondere hartseer geval. Hierdie vrou het reeds haar man aan die dood afgestaan en nou word haar enigste seun na die graf gedra. Sy is totaal weerloos en alleen. Jesus is in sy binneste geraak deur die lot van hierdie diep bedroefde weduwee. Hy verstaan ook hoe elke hartseer persoon hier voel...

Opvallend is nie net Jesus se besondere medelye nie, maar ook sy almag. Ja, die hele dorpie voel saam met die vrou en probeer haar ondersteun, maar net Jesus kan regtig ‘n praktiese verskil maak! Hy maak deur sy Goddelike en onbeperkte almag hierdie seun lewend. Nie net Jesus se meegevoel en simpatie bring vir ons hoop nie, maar juis sy almag sluit vir ons die lewe oop! 

Jesus konfronteer die dood en oorwin! Die jongman word terugbesorg aan sy weduwee moeder.

Wat is die betekenis? Beteken dit dat ons nou links en regs vir dooies moet bid en hulle probeer opwek? Nee, ook Jesus self het dit nie gedoen nie. (Die finale opwekking van die dooies met nuwe liggame sal eers by die wederkoms plaasvind.) Nee, hierdie was ‘n demonstrasie van Jesus se almag en ‘n voorskou dat Hyself die dood finaal sou oorwin deur sy opstanding. Hierdie was ‘n teken sodat ons kan begryp wie Jesus is en ons tot Hom kan bekeer.

Die effek van Jesus se opwekkingswonder, maar juis ook die betekenis daarvan kry ons in vers 16. “En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.”

Jesus is God se finale boodskapper (Profeet), maar ook God se finale besoek aan sy volk. (Hebreërs 1:1) Jesus self is God se finale woord van hoop en bevryding aan ons. Jesus bring die oplossing, die verlossing van sonde en dood. Reeds in Lukas 1:68 kry ons hierdie begrip "besoek" in verband met God se ingrype deur Jesus in die lofsang van Sagaria. "Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het," Dit gaan oor verlossing!  God het deur Jesus naby aan ons gekom, na ons toe gekom. Hy kom besoek ons in ons sondenood, gebrokenheid, hartseer en verganklikheid. Ja, Hy besoek ons weereens ook vandag hier by die werklikheid van die dood en die graf! Hy kom vestig God se Koninkryk in hierdie stukkende wêreld, ‘n koninkryk waar daar uiteindelik geen sonde en dood sal wees nie, soos Openbaring ons so duidelik leer. Dis net Jesus wat ‘n antwoord het vir die dood. Dis net die evangelie van Jesus wat ware hoop kan bring vir ‘n sterwende wêreld.

Daarom is dit so hartseer dat mense antwoorde op ander plekke soek.

God het ons deur Jesus besoek. God se genade en verlossing het naby gekom. Maar ons moet dit gelowig aanvaar. Ons moet daaroor bly wees! En tog gebeur dikwels die teenoorgestelde... Jesus word geïgnoreer deur mense wat leef soos hulle wil, Jesus se opstandingsdag wat die Sondag is en met blydskap gevier moet word, word vertrap, die evangelie word verwerp. Mag die Heilige Gees tog ons oë open vir wie Jesus werklik is! God wat ons besoek deur Sy Seun. Hy is die antwoord op ons diepste nood ook op hierdie oomblik. Glo in Hom en jy sal sy troos en sy bevryding ervaar. Nou reeds...

Maandag 13 Julie 2015

GOEIE NUUS OP ‘N SLEGTE DAG!

Niemand van ons kan op ‘n hartseer dag soos hierdie goeie nuus uitdink of opmaak nie... Want alle goeie stories wat ons kan saamslaan is nie goed genoeg om die sleg en die hartseer uit te kanseleer nie! Maar, inderdaad is daar  wel GOEIE NUUS wat sterker is as die slegte nuus van die dood, naamlik die EVANGELIE. Kom ons luister...

Paulus vat die evangelie vir ons baie duidelik, kort en kragtig saam in 1 Korintiërs 15:1-4.

"Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan.
Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.
Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;
Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte."

Daar is veral twee redes hoekom hierdie GOEIE NUUS inderdaad goeie nuus is vir ons as mense. Dit spreek ons twee groot probleme of krisisse aan. 


Die twee groot monsters waarmee ons te make het  is : sonde en dood.

1.Die Bybel sê  ons is almal sondaars wat ver van God is. (Rom 3:23) Dis die Goddelike waarheid of ons nou daarvan hou of nie. Die implikasie is, ons kan nie soos ons is in God se teenwoordigheid kom nie, die hemel is vir ons geslote, ons sonde maak ‘n skeiding en ‘n muur tussen ons en God.  “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” (Jesaja 59:1,2) Maar die evangelie behels nou juis dat God ‘n oplossing vir hierdie probleem voorsien het. Jesus het die volle straf gedra. Hy het die pak gevat, die boete betaal sodat ons vry kan wees. Hoe kry ons dit? Deur geloof en bekering.

2.Ons ander groot probleem is ons sterflikheid. Die Bybel leer dat ons lewens kort is, dat ons maar soos gras is. Dis die harde werklikheid. Almal van ons is sterwend, of die dood nou skielik kom soos met ‘n hartaanval of ongeluk en of dit nou stadig kom soos deur geleidelike aftakeling van die ouderdom... dit kom beslis! Dis nie vir ons lekker nie, ons hele wese kom in opstand teen die monster van die dood. Die Bybel praat van die laaste vyand. Maar ook vir hierdie probleem het God ‘n oplossing gebring. Deur Jesus se opstanding uit die dood, is die dood oorwin en kan God se gereinigde kinders uitsien na ‘n ewige heerlike bestaan met ‘n nuwe liggaam. (Dis terloops die groot tema wat Paulus hier in 1 Korintiërs 15 aanspreek en in detail verduidelik) Die feit van Jesus se oorwinning oor die dood is dié groot troos vir God se kinders. Dis hierdie troos wat gemaak het dat Paulus nie eers in ‘n Romeinse tronk bang geword en moed opgegee het nie. “God het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring." (2 Timoteus 1:9,10)


DIE EVANGELIE IS DIE GOEIE NUUS DAT JESUS JUIS HIERDIE TWEE WREDE MONSTERS VERSLAAN HET!

God se GOEIE NUUS is waarlik goeie nuus! Dit kom na ons hier wat lewe, want ons moet dit aanvaar terwyl ons lewe. Wat van jou, glo jy dit? Glo jy dit regtig, het dit al ‘n sigbare verskil in jou lewe gemaak, jou tot bekering gebring?

Kom ek probeer prakties verduidelik wat beteken geloof en bekering. Gestel jy is brandarm en voer ‘n sukkelbestaan deur uitskot groente en vrugte langs die straat te verkoop. Jy oorleef maar net-net... elke dag is vol ellende en swaarkry. Eendag onverwags kom daar iemand met ‘n koevert in die hand... Hy is bly om jou te kry en sê hy het goeie nuus vir jou. Jy het ‘n spog wynplaas in die Boland geërf van ‘n oom wat jy nie eers geken het nie. “Hier, meneer is al die dokumente, jy moet net teken en dan afreis Kaap toe om als in besit te neem....” Jy kyk deur als, dit lyk eg...Nou staan jy voor ‘n keuse, gaan ek dit glo of nie? Wel, as jy dit glo, gaan jy daardie lamlendige groentestalletjie net so los en jou haas om die plaas in besit te neem.... As jy die EVANGELIE glo, die evangelie van die vergifnis van sondes en die oorwinning oor die dood, sal jy onmoontlik net soos gewoonlik met jou ou lewe kan aangaan... Jy gaan nuut word, nuut dink, jou lewe gaan verander...


Dis ‘n hartseer dag, maar ons het elkeen die voorreg om GOEIE NUUS te hoor... wat maak jy hiermee?

Maandag 01 Junie 2015

DIE SKERPIOEN SE ANGEL IS AF

- die dood het sy verskrikking vir God se kinders verloor!


[AS JY AAN JESUS BEHOORT HOEF JY NIE MEER VIR DIE DOOD BANG TE WEES NIE!]

Ons almal moet sterwe. Daar kom vir elkeen 'n dag vir doodgaan.  So seker elkeen ‘n geboortedatum het, so seker het jy ‘n (onbekende) sterfdatum!

Die dood is nie ‘n lekker ding nie - dis vir ons pynlik, onbekend, grusaam, bitter hartseer en van nature maak dit ons bang. Dit bring afskeid, dit maak diep seer, dit voel so finaal.

Ons kan sê die dood is soos ‘n skerpioen. (Is jy al gesteek deur ‘n skerpioen? Wel, dan sal jy weet dis vrek seer! Bitter pynlik!) Geen wonder dat ‘n skerpioen by die meeste mense vrees en afgryse wek nie! 

Maar nou sê Paulus iets wonderliks in 1 Korintiërs 15:55-57.  (lees dit) "Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? "Hy spot amper met die dood!

Dit kom daarop neer, die dood is nou soos ‘n skerpioen sonder angel!

In hierdie hoofstuk gaan dit oor die feit en sekerheid van Jesus se opstanding. Dit gaan hier oor die verskil wat die opstanding van Jesus uit die dood gebring het :

Jesus se opstanding sê vir ons minstens twee dinge :

· God het Jesus se offer aan die kruis aanvaar, ons sondeskuld is betaal, daarom hoef God se kinders nie meer bang te wees vir die dood, oordeel en hel nie. As ek weet my sonde is klaar gestraf, dan hoef ek mos nie bang te wees dat dit weer gestraf sal word nie. Dan hou die oordeel geen vrees meer in nie.

· Jesus het fisies uit die dood opgestaan met ‘n nuwe liggaam. God se kinders sal ook by die wederkoms nuwe liggame kry en so vir altyd op die nuwe aarde woon. Die dood is dus nie die einde van ons bestaan nie. God se kinders kan uitsien na ‘n nuwe verheerlikte liggaam, ‘n liggaam sonder gebreke, pyne en hartseer!

Dis duidelik dat dit juis die feit van ons sonde is, en die straf op sonde naamlik die ewige hel wat die dood ‘n verskrikking maak. Die sonde is by wyse van spreke die angel van die doodskerpioen! Maar as ek nou weet dat my sonde vergewe is, weens die feit van Jesus se kruisdood en die opstanding as bewys dat sy kruisdood ‘n genoegsame betaling was vir my sonde, dan verloor die dood mos sy angel. Die ding wat dood erg gemaak het, naamlik sonde en oordeel, is mos nou deur Jesus se kruis en opstanding weggeneem! Die skerpioen is nou sonder ‘n angel en dit maak ‘n heerlike verskil!

Die betekenis en heerlike gevolg van Jesus se opstanding uit die dood, laat ons dus anders na die dood kyk. Die dood is nog steeds hartseer (ons mag maar huil), grillerig en grusaam (as jy dit so wil stel), maar onthou dis soos ‘n skerpioen wat sy angel verloor het. Dit hou nie meer ‘n werklike bedreiging in nie! Maak seker dat jy aan Jesus behoort, dan hoef jy nie die dood te vrees nie!