Woensdag 28 Oktober 2020

VERHUISING : VAN TENT NA VASTE WOONPLEK

 Ons lees  2 Korintiërs 4:16- 5:1-10


Almal van ons ken ‘n tent. Almal van ons ken ‘n vaste geboude huis. ‘n Tent is baie lekker op sy tyd en plek, soos met ‘n vakansie. Maar as permanente woning is ‘n vaste geboude huis darem verreweg die beste. Paulus vergelyk ons aardse bestaan met ‘n tent. Ons ewige nuwe 
heerlike hemelse  bestaan vergelyk hy met ‘n vaste gebou. 

"Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele." ( 2 Korintiërs 5:1)

Hy is baie eerlik en realisties. Ons aardse bestaan gaan afgebreek word. Dis tydelik. Ons ewige hemelse bestaan is ‘n vaste gebou van God en sal vir ewig bestaan. In die taal van Openbaring – daar sal geen siekte, smart, trane of dood meer wees nie. Ons gaan nuwe LIGGAME kry!

Die vaste gebou wat wag vir God se kind is baie beter as die tent waarin ons ons nou bevind! Dis ‘n basiese leerstelling van ons geloof.

Maar Paulus is baie eerlik as hy oor die dood praat. Dit lyk asof hy hier wil sê dat  hy (en ons seker ook!) sal verkies om tot by die wederkoms te lewe en dan onmiddellik nuwe liggame te kry. Sonder om ‘n tyd na ons dood deur te gaan wanneer ons nie liggame het nie. Ja, kom ons wees baie eerlik - die dood bly iets vreemds en as ons sou kon kies sou ons eerder direk na God wou gaan sonder om eers deur die dood “ontklee” te word.

Maar Paulus se doel in hierdie en die voorafgaande hoofstuk is om God se kinders moed in te praat.  (16) Ons vergaan, maar word dag tot dag vernuwe. Dis waar van elke kind van God. 

Ons kyk nie net na ons huidige omstandighede nie, maar na die onsigbare werklikheid. En dis die hoop op die vaste woonplek. 

En die basis vir die hoop op ‘n beter toekoms is die feit dat die Heilige Gees nou reeds in God se kinders woon. Die feit dat die Heilige Gees in ons woon is ‘n WAARBORG dat God hierdie liggaam nie sal afskryf of sal vergeet nie, maar sal opwek by die wederkoms! Dis die waarborg dat almal wat nou voor die wederkoms sterf in Jesus, sowel as diegene wat op die dag van die wederkoms nog leef, nuwe verheerlikte liggame sal kry!

Maar wat nou belangrik is – ongeag of ons gaan sterf en of ons nog by die wederkoms gaan leef, is om ‘n lewe te leef soos wat God wil hê! En dis ‘n dringende belangrike saak, want ook Christene gaan voor die regterstoel van Christus verskyn.  

"Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad." (2 Korintiërs 5:10)

LW – ons ALMAL. Ja, ons word gered deur geloof sonder werke, sonder prestasies – NET GENADE!, maar die Skrif is baie duidelik dat ook kinders van God se dade gaan beoordeel word. Die lewe van geloof onthef ons nie van ‘n lewe van gehoorsaamheid nie! Wat ons nou doen is baie belangrik! Leef jy vir God of leef jy net vir jouself? Is jy besig met die werk wat God jou gegee het in die gemeente waarin jy God jou geplaas het. En terloops – elke kind van God het ‘n gemeente – Hy voeg mense wat gered is by ‘n gemeente. En ELKE kind van God het ‘n taak op aarde – om God lief te hê en jou naaste soos jouself – dis die basis, maar dit kristalliseer in spesifieke take binne die gemeente as liggaam van Christus!

Die hoofboodskap van hierdie gedeelte is dat daar hoop is vir die Christen, hetsy of ons nou by die wederkoms lewe of reeds dood is. Maar hierdie hoop moet ons nie passief maak nie, hierdie hoop moet ons juis aanmoedig om NOU ‘n lewe te leef wat eer aan God bring, want ons gaan verantwoording doen. 


Hierdie boodskap kom dus nou na ons in die vorm van twee vrae: Is jy ‘n kind van God wat ‘n toekoms het na die graf?  Leef jy op so ‘n manier dat jy sal kan verskyn voor Jesus dat jou dade as Christen getoets kan word?

 

Saterdag 20 Junie 2020

LUKAS NEL


[Oom Lukas Nel van Tsumeb was 'n veteraan uit die Tweede Wêreld Oorlog en het ook 'n groot rol in die bosoorlog in die noorde van die destydse Suidwes gespeel. 1922-2020]



Niemand van ons kan op ‘n hartseer dag soos hierdie goeie nuus uitdink of opmaak nie... Want alle goeie stories wat ons kan saamslaan (al is dit wonderlike kleurryke verhale) is nie goed genoeg om die sleg en die hartseer uit te kanselleer nie! Maar... daar is wel een GOEIE NUUS wat sterker is as die slegte nuus van die dood, naamlik die EVANGELIE. Dis wat ek graag met julle almal wat hier is wil deel.

Paulus vat die evangelie vir ons baie duidelik, kort en kragtig saam in 1 Korintiërs 15:1-4 

“Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 

Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. 

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 

Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” 

Daar is veral twee redes hoekom hierdie GOEIE NUUS inderdaad goeie nuus is vir ons as mense. Dit spreek ons twee groot probleme of krisisse aan. Die twee groot monsters waarmee ons te doen het is : ons sonde en ons verganklikheid. (die feit dat ons almal sterflik is) Hierdie twee monsters is ‘n tweeling, hulle gaan altyd saam! 

SONDE. Die Bybel sê ons is almal sondaars wat ver van God is. Dis die Goddelike waarheid of ons nou daarvan hou of nie. Die implikasie is, ons kan nie soos ons is in God se teenwoordigheid kom nie, die hemel is vir ons geslote, ons sonde maak ‘n skeiding en ‘n muur tussen ons en God. “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” (Jesaja 59:1,2) Maar die evangelie behels nou juis dat God ‘n oplossing vir hierdie probleem voorsien het. Jesus het die volle straf gedra. Hy het die pak gevat, die boete betaal sodat ons vry kan wees. Dis ook in Jesaja waar ons reeds hierdie goeie nuus verneem. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jesaja 53:5) Hoe kry ons dit? Deur geloof en bekering. Om doelbewus en persoonlik die genade in Jesus te aanvaar. 

VERGANKLIKHEID. Ons ander groot probleem is ons verganklikheid Die Bybel leer dat ons lewens kort is, dat ons maar soos gras is. Dis die harde werklikheid. Almal van ons is sterwend, of die dood nou skielik kom soos met ‘n hartaanval of ongeluk en of dit nou stadig kom soos deur geleidelike aftakeling van die ouderdom... of ‘n kleuter sterf en of ‘n honderdjarige sterf die dood dit kom beslis! Vir elkeen van ons is daar ‘n vaste afspraak op God se almanak. (ons ken net nie vooraf die datum nie) Dis nie vir ons lekker nie, ons hele wese kom in opstand teen die monster van die dood. Die Bybel praat van die laaste vyand. Maar ook vir hierdie probleem het God ‘n oplossing gebring. Deur Jesus se opstanding uit die dood, is de dood oorwin en kan God se gereinigde kinders uitsien na ‘n ewige heerlike bestaan met ‘n nuwe liggaam. (Dis terloops die groot tema wat Paulus hier in 1 Korintiërs 15 aanspreek en in detail verduidelik. En Paulus beskryf op triomfantelike wyse hoe die dood die onderspit gedelf het. Hy spot eintlik met die dood. “Dood, waar is jou oorwinning?”) Die feit van Jesus se oorwinning oor die dood is dié groot troos vir God se kinders. Dis hierdie troos wat gemaak het dat Paulus nie eers in ‘n Romeinse tronk bang geword en moed opgegee het nie. Hoor bietjie hoe hy hieroor praat... “God het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. ( 1 Timoteus 1:9,10) 

God se GOEIE NUUS is waarlik goeie nuus! Dit kom na ons hier wat lewe, want ons moet dit aanvaar terwyl ons lewe. Wat van jou, glo jy dit? Glo jy dit regtig, het dit al ‘n sigbare verskil in jou lewe gemaak? 

Kom ek probeer prakties verduidelik wat beteken geloof en bekering. Gestel jy is brandarm en voer ‘n sukkelbestaan deur uitskot groente en vrugte langs die straat te verkoop. Jy oorleef maar net-net... elke dag is vol ellende en swaarkry. Eendag onverwags kom daar iemand met ‘n koevert in die hand... Hy is bly om jou te kry en sê hy het goeie nuus vir jou. Jy het ‘n spog wynplaas in die Boland geërf van ‘n oom wat jy nie eers geken het nie. “Hier, meneer is al die dokumente, jy moet net teken en dan afreis Kaap toe om als in besit te neem....” Jy kyk deur als, dit lyk eg...Nou staan jy voor ‘n keuse, gaan ek dit glo of nie? Wel, as jy dit glo, gaan jy daardie lamlendige groentestalletjie net so los en jou haas om die plaas in besit te neem.... As jy die EVANGELIE glo, die evangelie van die vergifnis van sondes en die oorwinning oor die dood, sal jy onmoontlik net soos gewoonlik met jou ou lewe kan aangaan... Jy gaan nuut word, nuut dink, jou lewe gaan verander... Jy sal nie kan aangaan met bitterheid, onvergewensgesindheid en gierigheid nie! 

Dis ‘n hartseer dag, maar ons het elkeen die voorreg om GOEIE NUUS te hoor... wat maak jy hiermee? Die aanvaarding van hierdie Goeie Nuus moet ons elkeen se prioriteit wees! Heel eerste. “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matteus 6:33)


Donderdag 28 Mei 2020

TROOS BY DIE DOOD VAN 'N JONG KIND

"Laat die kindertjies na My toe kom…"

[Ons lees uit God se onfeilbare Woord uit Lukas 18:15-17]



‘n Jong kind se onverwagse dood is vir ons ekstra hartseer. Dit laat ons nie net met seer harte nie, maar ook met vraende harte. Ons verstaan net nie. Dis net so onwerklik, so vreemd, so onbeskryflik hartverskeurend. In hierdie bekende gedeelte wil ek net drie feite uitlig, wat as ons dit glo tog ‘n reuse verskil gaan maak. Nie net vandag nie, maar in elkeen van ons lewens vir ewig. 

1.Kinders leef in ‘n vyandige stukkende wêreld, ‘n wêreld vol sonde, swaarkry, siekte en dood. Kinders is nie gevrywaar van die vreeslike effek van die sondeval gebeure in die tuin van Eden nie. Daarom doen kinders ook sonde, daarom sterf kinders ook, daarom het kinders ook met ander mense se sondige vyandelikheid te doen.  “Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas.” (15) Selfs Jesus se eie dissipels dink dat kindertjies nie belangrik genoeg is om aandag en tyd van Jesus te ontvang nie. 'n Sondige bevooroordeeldheid. Sondige diskriminasie. Mense gee nie altyd regtig om vir kinders nie. Kinders se welsyn is nie altyd regtig vir ons belangrik nie. Selfs by ouers kry ons dit dat hulle kinders net vir hulle belangrik is omdat dit status en roem vir die ouers bring! Kindertjies word dikwels mishandel.

Die ergste vorm van kindermishandeling is dat sommige ouers keer dat hulle kinders na Jesus toe kom! 

Hulle hou nie huisgodsdiens vir hulle kinders nie, hulle bring hulle nie kerk en Sondagskool toe nie… Hulle stel nie ‘n voorbeeld nie. Sommige kinders sien hulle pa net ‘n wynbottel vashou , maar nooit ‘n Bybel nie… Skrikwekkend, hartseer. Maar Jesus gee om. Jesus laat kinders nie in die steek nie. Mag dit vir ons almal ook ‘n wekroep wees om met die oë van Jesus na ons kinders te kyk! Mag ons Jesus se woorde duidelik hoor : “Verhinder hulle nie om na My te kom nie!” 

2.Jesus gee om vir kindertjies en ontvang hulle met ope arms. "Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: "Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” (16) Jesus se omgee is meer as net sentimenteel. Meer as net drukkies. Sy liefde beteken dat Hy van sy kosbare tyd aan kindertjies afstaan om hulle te seën. Hierdie is nie ‘n leë gebaar soos ‘n presidentskandidaat voor ‘n verkiesing wat kleintjies optel vir propaganda doeleindes nie. Dis evangeliese seën, evangeliese aanraking. 


Jesus se liefde vir kindertjies beteken juis dat Hy ook vir kindertjies se sonde gesterf het. 

Vir kindertjies deur die vernedering van die graf gegaan het. Vir kindertjies uit die dood opgestaan het, sodat kindertjies wat in Hom sterwe liggaamlik weer sal opstaan met nuwe liggame. Jesus se liefde wat Hy hier aan kinders bewys is ‘n verlossende liefde! Want Jesus het immers gekom om sy volk van hulle sondes te verlos – kindertjies is deel van sy volk! 

3.Die koninkryk van God is die enigste vaste troos en sekerheid wat daar bestaan en dis juis ook vir kindertjies bedoel. Jesus gaan nog verder – en maak ‘n geweldige uitspraak : “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie." (17) . Wat sou Hy hiermee bedoel? Bedoel Hy dat kindertjies onskuldig is? Ons weet tog dat alle mense sondaars is. Ook klein kindertjies. Nee, dit gaan oor die begrip ontvang. Die Koninkryk van God is nie iets wat ons verdien of wat ons kry weens ons eie goedheid of prestasies nie. Ons ontvang dit. Kinders is maklike ontvangers. Hulle besit niks nie, hulle het nie bedingingsmag of invloed nie. Hulle kan maar net hulle handjies uitsteek om te ontvang. Hulle is volkome van ander se goedheid en genade afhanklik. As jy vir ‘n klein kindjie iets gee dan vat hy dit. Grootmense is dikwels te hoogmoedig en vra vrae en voorsien alle probleme en stel voorwaardes. Maak verskonings. Die evangelie van Jesus kom na ons, maar mense het allerhande verskonings om nie te glo en nie te bekeer nie. God se geskenk van die ewige lewe is heeltemal gratis, want Jesus het met sy bloed daarvoor betaal. Maar wat doen die meeste mense? Hulle weier om dit net te ontvang… Ons is te besig, te belangrik, te slim. Vriend as jy nie in volkome nederigheid en afhanklikheid voor Jesus buig en sy koninkryk en vergifnis in geloof aanvaar nie, sal jy nooit daarin gaan nie! 

Om deel te wees van die koninkryk is die hoogste vorm van geseënd wees. Dis veral bedoel vir kindertjies en mense wat soos kindertjies geword het. Want in die koninkryk gaan dit volledig oor GENADE! 

Ons is hartseer! Ons huil vandag. En dis nie verkeerd nie. Jesus het self ook by Lasarus se graf geween. Maar ons vind ook troos. Troos in Jesus se liefde vir sondaars. Troos in Jesus se liefde juis ook vir klein kindertjies. Troos in die feit dat Jesus deur sy sterwe en opstanding die koninkryk verwerf het en dit uitdeel as ‘n geskenk ook en juis vir kindertjies!