Saterdag 27 Augustus 2022

KAN DIT WAAR WEES? JA, BESLIS!


[Vooraf - Besef ons wat ’n voorreg dit is om op ’n oomblik soos hierdie God se Woord te hê? As dit oor die dood gaan staan ons as mense maar sprakeloos - wat sal ons nou kan sê? Ons staan ook magteloos - wat kan die slimste of sterkste van ons daaraan doen? Niemand van ons kan regtig iets sinvols sê of doen nie, maar nou is ons bevoorreg om te hoor wat God die lewende God self vir ons in ’n situasie soos hierdie sê.] 

Maak assbelief die Woord oop by Filippense hoofstuk 1. Ons lees van vers 20 tot 24.

Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,
want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie.
Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;
maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.

Ons is vandag hier bymekaar omdat die werklikheid van die dood van ’n geliefde ons bymekaar gebring het. Ek sê werklikheid van die dood - want al hou ons nie van die dood nie, al praat ons nie graag daaroor nie - dit bly ’n feit. Dis die een poort waardeur ons almal moet gaan. (tensy ons sou leef by die  wederkoms) Die dood is onlosmaaklik deel van ons verganklike wêreld en ons brose bestaan. Ons praat so maklik van die “land van die lewendes” - iemand het gesê “this world is the world of the dying - the next is the land of the living.” Ons almal hier bymekaar is inderdaad sterflinge - ons is sterwend ons weet nog net nie wanneer die proses voltooi sal word nie.

Vir Paulus was die dood ook ’n werklikheid. Hy het voortdurend in die skaduwee van die dood geleef: sy lewe is juis bedreig is as gevolg van sy evangelieverkondiging. As hy hierdie brief aan die Filippense skryf is hy juis weer in die tronk en hy hou rekening met die feit dat hy dalk kan sterf. En dis nou juis so merkwaardig - in hierdie situasie maak hy ’n baie radikale uitspraak oor die dood ; “om te sterwe is vir my wins!” Kom ons kyk net kortliks na hierdie uitspraak vanuit twee hoeke: Wat bedoel hy hiermee? En hoekom kan hy so ’n radikale ding sê?

1) Wat bedoel Paulus?

Sterwe is wins! Die dood is tot my voordeel! Ek wen op hierdie transaksie. Met respek wil mens tog vra : "Paulus is jy regtig eerlik? Is dit nie dalk sommer nou net sedige predikantspraatjies nie? Aangeplakte vroomheid?"  Wees verseker, Paulus bedoel wel wat hy sê. Dis nie ’n wilde halsoorkop stelling nie. Ons sal sien wat hy hier sê is weldeurdag en hy het grondige redes daarvoor. Dis ook nie ’n vroom stuk teorie, wat by ’n lessenaar in ’n gerieflike kantoor uitgedink word nie. Nee, dis ’n glashelder oortuigde waarheid wat hom verbly daar binne in sy tronksel!

So wat bedoel hy met die sterwe is wins? Hy bedoel inderdaad dat die baie voordelig sal wees as hy doodgaan. Hoekom sou die dood vir hom voordelig wees? Mens sou ’n hele paar redes uit sy geskrifte kon aflei:

~ die dood bring vir Paulus ’n einde aan lyding en stryd. Ja, vir elke opregte Christen beteken dit die einde van gespot en uitstoting, van lyding op baie maniere - vir Paulus ook einde aan fisiese lyding ter wille van die evangelie.

~ die dood bring ook vir die kind van God die einde van die stryd teen sonde en onvolmaaktheid. Dis immers die daaglikse stryd waarvan elke kind van God goed weet - ek moet stry teen versoekings en sonde! Teen die lsite en aanvegtinge van Satan. En dis 'n uitputtende stryd!

~ die dood is nie ’n verskrikking vir die kind van God wat getrou gebly het nie. Daar wag ’n heerlike beloning by die wederkoms! *

~ daar is egter nog iets wat Paulus kan mens amper sê opgewonde maak oor die dood - hy weet hy gaan nou by Christus wees (23) Terloops, hieruit kan ons duidelik aflei dat Christene wat sterwe onmiddellik in Christus se teenwoordigheid is - al sal ons liggame eers by die wederkoms opgewek word. Paulus is vas oortuig, hy gaan sy lewende Verlosser persoonlik sien sodra hy sterf! Die Jesus wat in sy plek al sy skuld gedra het en daarvoor gestraf het. Hy gaan kyk in die oë van Jesus wat hom oneindig liefgehad het, hy gaan die spykermerke in sy hande en voete sien wat Jesus moes ontbeer vir sy aaklige sonde! Kan jy dit insien? Om hierdie rede is Paulus nie meer net nie bang nie, nee hy sien selfs uit na die dood, hy verlang daarna. (daarom praat hy van ’n tweestryd - weet hy het nog werk twv die Christene, maar eintlik wil hy eerder by Christus wees)

2) Waarom kon Paulus so seker wees dat die dood al hierdie genoemde voordele vir hom sou bring? 

Dis tog duidelik dat nie alle mense rede het om uit te sien na die dood nie. trouens vir baie mense is die dood ’n verskrikking, ’n angswekkende maar onvermydelike ontmoeting. So waarom kan Paulus so positief wees? Ons kry die antwoord in die eerste helfte van die vers. "om te lewe is vir my Christus". Nou in die vorige vers sê hy wat hy hiermee bedoel. Sy lewe draai daarom om Christus te verheerlik. (20) Wat beteken dit om Christus te verheerlik? Hoekom en hoe verheerlik mens Christus? Ons kry die leidrade in Paulus se lewe en sy briewe.

Alles het begin daar op pad na Damaskus. Jy ken mos die verhaal in Handelinge 9. Jesus self het daar beslag gelê op Paulus lewe, hom geroep en Paulus het met nederige onderwerping geantwoord. Almal van ons hoor nie ’n stem nie, almal sien nie ’n lig nie - maar ek is seker almal van ons hier is al gekonfronteer met Jesus! Jy weet wie Hy is, jy het al baie van Hom gehoor. Het jy al in oorgawe gebuig? 

Die punt is maar net dit : slegs mense wat persoonlik Jesus se heerskappy aanvaar het en aan Hom behoort sal eendag die dood as voordelig beleef. Ons sien Paulus het ’n verlange en sekerheid  - die twee sake hou verband met mekaar. 

Dis tog net logies. Dis net as ek seker is dat my sonde vergewe is, dat ek sal kan uitsien om Christus te sien. As my sonde en skuld nog aan my kleef sal ek nie Christus wil sien nie. As my gewete belas en my siel nog met boosheid besmet is, sal die wete om voor die heilige Jesus te verskyn my verskrik. Nou kan mens verstaan waarom Paulus met vreugde uitsien om Christus te ontmoet - Hy het vergifnis ontvang, hy is vrygespreek van al sy sondeskuld. Hoe het dit gebeur? Ons vind die antwoord in dieselfde brief - “en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (3:9) Hy het persoonlik in Jesus sy vertroue gestel. U sien dis die basis van Paulus se sekerheid en verlange - hy het ’n persoonlike vertroue op die gekruisigde Jesus. Hy roem in die kruis!

Paulus het verlossing en vergifnis, ja lewe in Jesus gevind. Dit gaan egter nog verder. Dit beteken dat Jesus die einddoel en die sin van sy lewe was. Die middelpunt van sy bestaan. Sy lewe het gesentreer rondom Jesus. Sy lewe was ’n offer aan Christus. Dit word so pragtig uitgespel in 3:10. (NAB -1983) “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,”

Hy sê hierdie woorde natuurlik as iemand wat Christus reeds geken en ontmoet het. Dis ‘n beskrywing van sy ideaal as Christen, dis sy lewensmoto. Vriend kan jy sê - “om te lewe is vir my Christus?” Ken jy Hom as Verlosser of spartel jy nog in die duisternis? Is dit jou ideaal om vir Hom te leef of leef jy net vir jou selfsugtige materialistiese belange? Wat is jou eerlike antwoord? Vandag is miskien ’n baie gepaste tyd om hieroor te dink? 

Onthou - net as jy kan sê “om te lewe is vir my Christus” sal jy ook in die aangesig van die dood kan sê “om te sterwe is vir my wins.”

AMEN

*Sien 2 Timoteus 4:6-8 “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.”

En verder - beleef jy tans depressie, ongemak of selfs vrees en paniek oor die dinge wat jy rondom jou sien? Kliek op DIE HEERLIKE ONSIGBARE WERKLIKHEID!