TREUR, maar onthou ons treur anders as die wêreld!
Ons lees uit Romeine 12:9-15 (15)
Ons fokusvers is vers15!
Ons treur saam met almal wat geraak word deur ........ se dood! Ons kan nie daarvan wegkom of dit ontken nie – die dood en veral die dood van ‘n jong kind of jeugdige in die fleur van sy/haar lewe bring onbeskryflike pyn en droefheid. En dis baie duidelik ‘n Bybelse opdrag om saam te treur, saam hartseer te wees met die wat gepynig word deur hierdie groot verlies. As ons kyk na die konteks – is hierdie opdrag ‘n opdrag aan God se kinders as deel van ons dankbaarheidslewe vir God se genade! (Rom. 12:1-2)
Ons mag dus maar treur. Ons hoef nie skaam te voel daaroor of te dink dis onvanpas vir God se kinders nie! Dwarsdeur die eeue het die grootste geloofshelde, mense wat na aan God gewandel het, droefheid beleef en getreur. Uit ons eie geskiedenis ken ons ‘n aangrypende voorbeeld. Dis die voorbeeld van die bekende Totius (Prof. JD du Toit) – bekend as pionier Afrikaanse Bybelvertaler, maar ook ‘n digter van formaat. ‘n Onbeskryflike ramp en hartseer het hulle gesin getref toe hulle eers in Novenber1920 hulle babaseuntjie deur breinvliesontsteking verloor het en kort daarna in Desember nog ‘n ramp hulle tref toe die oudste dogtertjie deur ‘n weerligstraal binne in hulle huis doodgeslaan is. Totius het diep en pynlike rou beleef – hy het ‘n aangrypende gedig daaroor geskryf:
O die Pyn-gedagte
Totius was ‘n man van God, maar hy was eerlik
oor sy pyn. Hy het die geloof behou, maar dit het nie die pyn weggevat nie.
Ons moet realisties wees en rou!
Maasr realisme vir God se kinders bring ook 'n ander waarheid en werklikheid na vore...
Daar is ook vandag vir God se mense blydskap en dankbaarheid saam met die rou.
Miskien skok dit jou! Kan sterwe en blydskap in een asem genoem word? Ja, die kind van God kan dit doen, nie die onbekeerde wêreldling nie! (Onthou Rom. 12:2 gee die duidelik opdrag om nie aan die wêreld gelykvormig te word nie- anders gestel : God se kinders moet anders dink en doen as die ongelowige wêreld!)
Ja, as gelowiges kan ons t.s.v. van ons
pyn en trane, steeds troos en blydskap ervaar! Paulus doen dit so treffend in die Filippense brief (onthou hy sit in die tronk en skryf in die aangesig van die dood
– maar sy tema is blydskap) –
Ja,
ek sal voortdurend bly wees, want ek weet dat dit alles tot my verlossing
sal lei, omdat julle vir my bid, en die Gees van Jesus Christus my
ondersteun. Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige
opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou,
soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of
deur my dood is. (Filippense
1:18c-20)
Vir die kind van God is die lewe – ‘n blye
geleentheid om Jesus te verheerlik deur ons liggame, maar ook ons sterwe is ‘n
geleentheid om Jesus te verHEERLIK! – m.a.w. vir almal te wys Jesus is die HERE! (Ons weet ........ het dit
gedoen...en hy doen dit vandag!) In hierdie opsig kan ons ook die Here loof en
prys – Hy word vandag verheerlik. Ons loof Hom al is dit met ‘n bewende stem en
‘n traan in die oog!
Ons treur, maar dis nie ‘n wanhopige en
uitsiglose treur nie.
Ons ervaar troos en vreugde, want Jesus word verheerlik.
Maar daar is nog ‘n rede tot troos. Jesus het
die dood oorwin, Hy het liggaamlik opgestaan en almal wat aan Hom behoort sal
ook met verheerlikte liggame opstaan. Ons weet die gees van ‘n gelowige is
onmiddellik na die dood by die Here Jesus, maar die Bybelse boodskap is so
duidelik – Jesus se liggaamlike
opstanding waarborg ons wat aan Hom behoort se liggaamlike opstanding. Daarom
bely ons elke Sondag – Ek glo aan die opstanding van die vlees!
Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet
wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander
mense wat nie hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf het en
opgestaan het – God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom
saamneem. (1 Tessalonisense 4:13,14)
Ons is getroos en bly reeds vandag, maar ons is veral opgewonde van vreugde oor die eendag! Ons het vreugde met 'n traan in die oog, eendag sal al die trane afgevee word!




Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking