Dinsdag 17 Junie 2025

DIE DOOD HET NIE DIE LAASTE WOORD NIE!

 - want ek glo in die EWIGE LEWE!

[Ons lees Johannes 17:1-4]

Ons word vandag gekonfronteer met die harde werklikheid van sonde en dood. (Net weer ‘n herinnering, dood het in die wêreld gekom vanweë Adam se sonde.) Maar gelukkig het sonde en dood nie die laaste sê nie, want Jesus het gekom om vir ons redding te bring. Dit kom so kragtig en treffend na vore in Jesus se gebed vir sy dissipels kort voor die kruisiging.  Ek gaan net ‘n paar elemente rakende hierdie redding uitlig vanuit die eerste vier verse.

1. Ons redding gaan alles oor die verheerliking en eer van God.  “Die uur het aangebreek”. (1) Dis die voorafbepaalde tyd vir Jesus se sterwe en opstanding – sy lyding maar ook sy verheerliking. Jesus weet hierdie uur gaan vir Hom bittere lyding kos, maar dis God se wil en dit gaan lei tot God se verheerliking! Die verheerliking van God is al wat vir Jesus saak maak.  In die hele Bybelse drama en God se wonderlike plan in Jesus gaan dit nie oor die mens as die middelpunt nie, maar oor God! Jesus se gebed dat die Vader Hom moet verheerlik, is ‘n bewys en uitdrukking van sy gewilligheid om Homself te onderwerp aan die Vader se plan van verheerliking nl. die kruis.  Jesus se gesindheid hier het ook vir ons ‘n duidelike boodskap : God het ons gemaak tot sy eer, God het beplan om ons te red tot sy eer! Daar kan nie ‘n groter doelwit wees as God  self nie, want God is die hoogste en absolute goedheid en heerlikheid. Ons as mense kan net vervulling vind as God verheerlik word. Die boodskap van die hele Bybel is GODGESENTREERD! God is in die middelpunt. Die skepping bestaan om God te eer. Die mens as die kroon van die skepping is spesifiek geskep om doelbewus God te eer deur in gemeenskap net hom te leef. Die redding van die gevalle mens gaan oor die eer van God. Die eer van God is die hoogste doelwit, maar juis ook ons grootste diepste vreugde! (God se eer en ons vreugde en vervulling bots nie. Ons is die gelukkigste as ons God eer. En God word juis die meeste geëer as ons ware geluk in Hom beleef! Kinders van God kan Hom ook juis op ‘n dag soos hierdie eer, in die skadu van die dood, ook langs ‘n oop graf!!

2.Ons redding is moontlik en gebeur omdat Jesus se mag so groot is.  Die Vader het aan Jesus gesag/outoriteit oor die “hele mensdom” gegee! (2) Alle mag en gesag!    Ons redding is gelukkig dus nie afhanklik van ons krag en vermoëns nie  Jesus is die kragtige Verlosser.  Vgl. Johannes 10:28  Die duiwel en bose magte en die DOOD het nie die laaste sê nie, die duiwel (en sy meelopers soos Judas en die Jode) kan nie Jesus se Verlossingswerk ongedaan maak of belemmer nie. Ja, dit lyk soms so… die kruis het bewys dat wat soos ‘n oorwinning lyk vir Satan juis sy nederlaag is!

3. Ons redding is gegrond op God se ewige plan en wil van voor die skepping af. “sodat Hy aan elkeen wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.” (2)   Dit sluit treffend aan by dit wat Jesus reeds in Johannes 6:37! “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie;” Voor die grondlegging van die wêreld het God ‘n bruid gekies vir sy Seun en aan sy Seun gegee. Die verlostes. Dis nie ‘n plan B of ‘n laat nagedagte nie, dit was nie ‘n skielike noodplan nie.  Dis God se volmaakte en enigste plan tot sy verheerliking! Die heerlike waarheid is dat Jesus God se ewige plan volledig en volmaak foutloos uitgevoer het – “Dis volbring.”

4.Ons redding beteken die ontvangs van die ewige lewe. Ons bely elke Sondag – “Ek glo in ‘n ewige lewe.” Wat beteken dit? Wie het dit?  Jesus “gee” die ewige lewe. (2)   Ons ontvang dit as geskenk.  Wat is dit? Dit behels nie bloot ‘n lang lewe nie of aardse bestaan nie.  (3) Dis om die ware God en sy seun Jesus te ken. LW – nie net van te weet nie!  Daarom is die hoofdoel van ons lewe hier op aarde om God en sy Seun Jesus te leer ken – dit moet ons fokus wees! Ewige lewe is ‘n lewe saam met God. Dit begin nou reeds, die oomblik wanneer ek Jesus aanvaar as Here en so met die Vader versoen word. Lewe sonder God, sonder Jesus is nou reeds die dood, dis ‘n doodsbestaan, dis sinneloos.

5.Ons redding word gewaarborg deur Jesus se volmaakte werk aan die kruis. Sonde is my probleem, sonde is dit wat maak dat ek nie voor God kan verskyn nie, nie ‘n heilige God kan aanbid nie, maak dat ek die regverdige wraak van God moet vrees. Jesus bid hierdie gebed kort voor sy kruisiging. Dis die fokus en klimaks van sy aardse werk. Sy kruisdood, is die genoegsame offer wat vir my vrede en gemoedsrus bring! Om Jesus te ken as Verlosser is my enigste troos in lewe en sterwe.

Ons kan bietjie wegkyk van onsself en ons hartseer en ons verheug oor God se wonderlike verlossingswerk in Jesus! Dit vul ons harte met vastigheid en sekerheid en blydskap ook in die aangesig van die dood. Ja, al huil ons trane kan ons tussen deur die trane juig oor die ewige lewe. Die dood het nie die finale sê nie!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking