Dinsdag 01 Augustus 2017

TWEE MANIERE VAN STERWE

Ons hou ‘n diens omdat ons graag wil hê dat die Woord vir ons lig moet gee op die werklikheid van die dood. Dis ‘n werklikheid wat ons nou vandag weer opnuut in die gesig staar met die afsterwe van...

Die Woord troos ons.

Die Woord waarsku ons ook. 

Die Woord nooi ons ook om betyds gereed te maak vir ons laaste afspraak. 

Almal moet sterwe en daar is net twee maniere van sterwe. Dis twee radikaal verskillende maniere met twee radikaal uiteenlopende gevolge en eindbestemmings. 

Die twee opsies is : “in julle sondes sterwe” of “in die Here sterwe”

OPSIE 1 In Johannes 8:24 lees ons hoe Jesus vir die Jode sê : “Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe."

Natuurlik word ons almal gebore in sonde. Dis ‘n gegewe. Ons is inherent sondaars en ons doen sonde juis omdat ons sondaars is. Ons kan dit nie ontken nie. Ons hoef egter nie in ons sonde te sterwe nie. God het juis vir ons ‘n Verlosser gestuur. Jesus Christus wat aan die kruis sonde, Satan, dood en hel oorwin het. Hoe het Hy dit gedoen? Hy het ons sonde op Hom gevat... die volle straf van God gedra in ons plek. So kan elkeen wat Hom aanvaar het deur die geloof, weet : “My skuld is betaal, my straf is reeds namens my uitgedien, ek is vry, ek het vrede!” (Jesaja 53:5,6)

As ek Jesus egter verwerp, m.a.w. Hom nie doelbewus aanvaar nie (soos wat hierdie Jode gedoen het), bly ek in my sonde en bly God se oordeel op my tot in ewigheid. Dis hulle van wie Paulus in 2 Tessalonisense 1:8,9 praat : "Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag."

Dis my plig (al voel dit vir jou dalk ongemaklik) om jou te vra : “Wat het jy met Jesus gemaak? Het jy Hom tot op vandag verwerp of het jy Hom heelhartig aanvaar?”

Dis gelukkig ook my heerlike voorreg om aan elkeen te verkondig dat daar lewe is in Jesus, ewige lewe! Dit bring ons by die volgende...

OPSIE 2 In Openbaring 14:13 lees ons : Toe het ek ‘n stem uit die hemel hoor sê: "Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe." "Ja," sê die Gees, "hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle."

As mens aan Jesus behoort dan is die dood nie meer ‘n verskrikking nie. Om aan Jesus te behoort beteken dat al my sondes my vergewe is, dat ek vrygespreek is, dat ek ‘n erfgenaam van die ewige erfenis geword het.

Dis opvallend dat hier gepraat word van arbeid/werke. Hoekom? Diegene wat deur Jesus gered is se lewe bring goeie werke voort! As Jesus my Verlosser is, word dit sigbaar in ‘n nuwe lewe – van vergifnis vir ander, van heiligheid, van aanbidding van die Here, liefde vir God, liefde vir my medemens... Goeie werke red ons nie, maar goeie werke is ‘n noodwendige gevolg van redding deur die geloof in Jesus. Hieroor is Efesiërs 2:8-10 baie duidelik :

“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Die troosboodskap van die Woord is baie helder : Vir diegene wat in die Here sterwe is hulle sterwe net ‘n deurgangsroete na ewige heerlikheid. Ewige rus, wat beteken ewige vervulling! Hulle goeie werke sal tot in alle ewigheid beloon word. Hulle lewens was die moeite werd omdat die genade van God in Jesus die groot verskil maak! Daarvoor kan ons God maar net tot in alle ewigheid dank. Amen.

Vrydag 09 Junie 2017

RIP of RIV

“Hoeveel keer moet mens nóg die letters RIP of RIV skryf voor iemand se naam vir wie jy lief was?” vra Jean Oosthuizen, die “verligte” joernalis wat altyd so kwaad is vir die kerk.

Nee, Jean, die vraag moet eerder wees: “Wat is rus en wat is vrede en vir wie is dit beskore?”

Dis gelukkig vrae wat duidelik deur God se Woord geantwoord word en ons is genadiglik nie van Jean en sy bende facebook bewonderaars en bespotters afhanklik vir ware insig hieroor nie!

In Openbaring 14:11-13 lees ons skrikwekkende én heerlike woorde: "Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar."

Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo.

Toe het ek ‘n stem uit die hemel hoor sê: "Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe." "Ja," sê die Gees, "hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle."

Net twee kort opmerkings:

Vir die vyande van die evangelie is daar tot in ewigheid geen rus nie. Facebook, Twitter en Instagram kan oorloop van RIP en RIP en RIP... maar dis ‘n geklike illusie as die betrokke persoon nie Jesus Christus as Heer geken het nie! Vir hulle wat die evangelie verwerp het sal daar tot in ewigheid slegs pyn wees. Daarom is dit angswekkend as P.G du Plessis verklaar : “Ek glo not de moer wat die evangelie sê.” En nou P.G.?

Vir diegene “wat in die Here sterwe” is daar ‘n ewige rus. Dit behels die permanente eer wat al hulle goeie werke aan God sal bring. Die goeie werke van hulle wat slegs uit genade deur die geloof in Jesus gered is!* Dis ook hierdie gelowiges wat getrou volhard in Jesus en sy opdragte uitvoer.

Vrede of nie, rus of nie, hang van een saak af. Sterwe jy in die Here of sonder Hom? Hy die gekruisigde, opgestane Heer. Ja, inderdaad is ons enigste troos in lewe en sterwe dat ons aan Jesus Christus behoort. Behoort jy aan Hom? Indien wel, kan ons oor jou die gelowige hoop uitspreek : Geseënd is jy! (Nou reeds, maar ook as ons die dag van jou afskeid neem en jou lewe vier!)

*Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. (Efesiërs 2:8-10)

Vrydag 12 Mei 2017

BEGRAFNIS SONDER BYBEL

Ons lees nie die Bybel nie.

Ons sing nie.

Ons bid nie.

Ons glo nie in God nie.

Ons het geen hoop in Jesus Christus nie.

Ons vertel hoe goed hy rugby gespeel het, hoe hy gejag het en hoe gewild hy op skool was... Die "slideshow" wys sy "selfies", sy meisie(s), sy eerste rugbyspanoorwinning, sy kortstondige lewe...

Ons maak ‘n lawaai, ‘n salvo skote word geskiet, die motorfietse jaag brullend in die straat af... daarna gaan almal "bar" toe, want hy sou dit so wou gehad het...

Ons rumoer en lag en swets, want die alkohol moet help om die sorge te verdrink... dis alles 'n groot "slukses!"

Ons glo in onsself, die mens is sy eie meester en bepaler van sy eie lot... Hol eksistensialisme, al ken ons nie daai groot woord nie...

Ons oortuig onsself hy speel nou rugby in die hemel, hy jaag met sy motorfiets in die goue strate en die engele moet maar aanpas...  "Hy was 'n goeie seun..."

Die “event” is verby en die harte is leeg... mense “sonder hoop en sonder God in hierdie wereld.”
En ‘n ewige duisternis weg van die aangesig van God! 


“Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte,..” (2 Tessalonissense 1:9)

Woensdag 01 Maart 2017

TROOS WAT LEI TOT LOFPRYSING

NAGEDINK UIT PSALM 103 

Psalm 103 is die bekendste en seker ook die bemindste lofpsalm. Die vraag is nou seker net of dit by ‘n roudiens hoort? Ja, beslis, want hierdie lofpsalm raak juis aan die twee grootste bedreigings wat ons as mense ervaar – ons sondige gebrokenheid en ons verganklikheid – die harde feit dat ons bestaan hier op aarde so kortstondig en onseker is.

Psalm 103 is baie eerlik oor ons kort lewensbestaan. “Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. 
Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. 
Die mens- soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. 
As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.” (13-16) 

Die troos is dat God bewus is van ons kwesbaarheid en verganklikheid. God weet ons is mense. Hy ken ons – ons is tipies soos die agt dae grassie van die Namibwoestyn. Gou-gou is als verby… so kort, so vinnig, so nietig is ons lewens!

Maar daar is nog ‘n groter troos! “Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, 
vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.” (17,18) 

Hier word ‘n heerlike kontras gestel tussen ons verganklike tydelike bestaan en God se onverganklike ewige liefde. Ons bestaan is kort en klein, maar God se liefde is ewig en groot, oneindig groot... God se liefde is ‘n ewige liefde tot anderkant die graf! Natuurlik is hierdie ewige liefde nie vir almal bedoel nie. Ons moet ook eerlik wees met ons teks... (dis net vir diegene wat sy verbond hou en sy voorskrifte nakom) Dit maak ons onrustig (as ons eerlik is), dit behoort ons onrustig te maak…

Geliefdes, maar dis hier waar die evangelie van Jesus Christus inkom. Ons kry reeds hier in hierdie Ou Testamentiese psalm die helder lig en troos van die evangelie. “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. 
Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. 
Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. 
Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. 
So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (8-12)

Hoe is dit moontlik dat God ons sondes nie toereken nie, hoe is dit moontlik dat God ons ongeregtigheid nie vergeld nie? JESUS HET GEKOM...

Jesus het gekom en Hy het twee dinge gedoen. As Verbondshoof van die Nuwe Verbond het Hy in ons plek die volmaakte lewe geleef wat ek en jy eintlik moes geleef het. Jesus het die Verbondseise, die opdragte van God se wet volmaak gehoorsaam. Hy het dit namens ons gedoen! Maar Hy het natuurlik nog iets gedoen. Hy het ook ons straf gevat. Die straf wat ek en jy vir ons oortredings van sy verbond verdien, was op Hom. (Jesaja 53:5,6)

Jesus se plaasvervangende lewe en sterwe het heerlike gevolge vir hulle wat aan Hom behoort :

As ek Jesus ken as my persoonlike Here en Verlosser is daar geen veroordeling meer nie. Ons hoor dit in Romeine 8:1. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”

As ek Jesus in my lewe het, het ek die ewige lewe en geen skepsel of dood kan dit van my wegneem nie… die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Johannes 5:12 sê : "Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.”

Godsdienstigheid, mooi lewens, goeie maniere, kerklike betrokkenheid is natuurlik alles goeie dinge, maar die kruks van die saak is, die afsnypunt is : Is Jesus in jou lewe? Behoort jy aan Hom? 

Waar Jesus is, is daar lofprysing en troos, ook in die aangesig van die dood. Dis nie ‘n vreemde waarheid nie – dit staan onverbeterlik opgesom in die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 1 :

Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? (Let op lewe én sterwe! Hierdie troos word nou reeds deur die kind van God beleef, maar dit gaan verder verby die dood...)

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Met elke vesel van energie en passie in my, wil ek jou vra : “Vriend, behoort jy aan Jesus Christus?”

Wie die troos beleef van behoort aan Christus het altyd rede tot lofprysing, ook op ‘n hartseerdag soos hierdie wanneer die feit van ons verganklikheid so voelbaar onderstreep word!