Vrydag 10 Januarie 2025

DIE STERRETOEKOMS

 - wat wag vir God se kinders!



 [Ons lees saam uit God se Woord - Daniël 12:1-3] 

Die Bybel is ‘n boek van sterk teenoorgesteldes en kontraste. Een deurlopende algemene kontras is die verskil tussen regverdiges en die onregverdiges, die wat God gehoorsaam en die wat God nie gehoorsaam nie, diegene wat IN Jesus is en diegene wat BUITE Jesus is! God maak onderskeid tussen mense! Baie algemeen hoor mens as iemand tot sterwe kom : “Hy/sy is nou op ‘n beter plek.” Dis baie waar dat God se kinders wat gesterf het, reeds op ‘n beter plek is, maar dis nie waar van alle mense nie.

God is nie maar OK met alle mense nie. Kom ons blaai so bietjie deur die Bybelse geskiedenis : Kain en Abel (een se offer word verwerp, die ander een s'n aangeneem), Noag en sy familie word gered teenoor die res van die mensdom wat verdrink, die Israeliete in Egipte wat die Paaslam geslag het teenoor die Egiptenare wat nie 'n paaslam geslag het nie,

In die Nuwe Testament word die skeiding al hoe duideliker -  reeds by Jesus se geboorte word die skeiding duidelik – Herodes wil Jesus doodmaak, die herders en wyse manne bring eer aan Hom. Opvallend in die Nuwe Testament is dat baie mense wat godsdienstig was en die Bybel (OT Geskrifte) geken het, Jesus verwerp het, maar dat sondaars en gebroke mense Jesus se boodskap van bekering en vergifnis aangegryp het – Saggeus en Levi – skelm tollenaars, die gebroke Samaritaanse vrou word volgelinge van Jesus. Johannes berei ons in sy evangelie voor vir hierdie skeidng en onderskeid:



Die boek Openbaring is natuurlik ook vol van hierdie kontraste – die prostituut Babilon wat geoordeel word, en die bruid , die nuwe Jerusalem wat gered word. Die onreines en leuenaars moet buite die heerlike stad bly en net diegene met wit klere wat gewas is in die bloed van die Lam mag binnegaan.  Jesus waarsku in  Matteus 25 oor die finale oordeel  en beskryf dit i.t.v. die skeiding tussen die skape en die bokke. En dan verwys Jesus spesifiek na die woorde van Daniël 12 in ons gelese gedeelte. “Hierdie mense (onregverdiges) sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na die ewige lewe.” (Matteus 25:46) Die volmaak liefdevolle Jesus het nooit gesê alle mense sal eendag op ‘n beter plek wees nie!

Terug by Daniël... Jesus het die boek Daniel baie goed geken. Net so terloops – Jesus se titel wat Hy vir Homself gebruik het “Seun van die mens” kom ook uit Daniel (hoofstuk 7) Kom ons gaan net so kortliks deur hierdie drie verse. 

Daniël 12:1-3


1“ ‘ En in dié tyd sal Migael opstaan,
die groot vors, wat die mense
van jou volk bystaan.
Dit sal 'n tyd van verdrukking wees,
soos daar nog nie was
sedert 'n nasie ontstaan het,
en tot in hierdie tyd nie.
Maar in hierdie tyd
sal jou volk gered word,
elkeen wie se naam
gevind word waar dit
in die boekrol opgeskryf is.
2 Baie van hulle wat slaap
in die stof van die aarde,
sal wakker word –
sommige vir die ewige lewe,
en ander tot skande, tot ewige afsku.
3 Die verstandiges sal skyn
soos die glans van die hemelkoepel,
en hulle wat baie gelei het
tot regverdige optrede,
sal skyn soos die sterre –
vir altyd en altyd.

Vers 1 “In dié tyd” verwys na die konflik in die vorige hoofstuk.  Dis die tyd van verdrukking, geweld, martelaarskap. Dis ook die tyd waarin baie van God se mense afvallig sal word. Maar diegene wat waarlik vir God ken sal weerstand bied teen die misleiding en versoekings. Aan die einde van hierdie tyd van verdrukking sal God uitkoms bring. Ons lees van Migael wat ‘n rol sal speel. Migael is die aartsengel wat teen die bose oorlog voer (Openbaring 12:7) Sy taak is die beskerming van God se mense. Die finale verlossing van God se kinders is verseker – elkeen wie se naam in die boekrol opgeskryf is –  die boek van die lewe waarvan ons in Openbaring lees.

Vers 2. Dis na hierdie vers wat Jesus verwys in sy beskrywing van die oordeel (tussen die skape en die bokke)  Kom ons kyk mooi hierna :

In die konflik  wat die finale oordeel voorafgaan (dis nou in hierdie tyd waarin ek en jy ook leef...) sterf beide Godvresendes en goddeloses. Opmerklik. Hulle “slaap”. Dis ‘n metafoor vir die dood en suggereer dat die dood hier op aarde net ‘n tydelike situasie is.  AL die dooies sal opstaan -  Vanuit die Nuwe Testament weet ons Daniëll verwys na die algemene opstanding voor die finale oordeel. “Baie” het hier die betekenis van almal. In die Nuwe Testament leer ons duidelik alle mense van alle tye sal uit die grafte opstaan om geoordeel te word.

Almal wat uit die dood sal opstaan gaan egter nie na dieselfde bestemming nie.  Daar is twee absoluut kontrasterende en uiteenlopende bestemmings vir die mens in die lewe hierna. 

EWIGE LEWE en EWIGE AFGRYSLIKE SKANDE! 

Dis ‘n basiese Bybelse lering – ons vind dit beide in die Ou en die Nuwe Testament. Ons vind dit voor Jesus (soos hier) en na Jesus se koms – Hy leer dit op baie plekke. Die tragedie is dat die algemene publiek, en ook baie kerkmense nie meer hierdie waarheid van die oordeel en skeiding glo nie! En daarom word daar so ligtelik van almal wat sterf gesê – “HY/SY is nou op ‘n beter plek”

Vers 3 Dis opvallend dat Daniel nie verder uitbrei oor die ellende van die goddeloses nie, maar wel die heerlikheid van die verstandiges beklemtoon.  Die verstandiges is diegene wat insig het in God se wil. Die verstandiges (in Nuwe Testamentiese konteks) is diegene wat aan Jesus behoort. Die verstandiges is die wat gereed is om die Bruidegom Jesus te ontmoet (Dink sommer aan die Gelykenis van die tien meisies) 

Vir die getroues wag 'n heerlike toekoms! Daniël vergelyk die heerlikheid wat vir God se kinders wag met die sterreglans van die hemelkoepel. Skitterend, helder en heerlik!

Opmerklik - Die verstandiges hou nie die waarheid vir hulleself nie, maar deel dit met ander. Hulle lei ander om die regte dinge te doen. Geliefde, hoe klink jou woorde en hoe lyk jou voorbeeld – spoor dit ander mense aan om Jesus te volg en Hom te gehoorsaam deur regverdige dade te doen?

 DIE GROOT BOODSKAP

Wat is die hoof boodskap vir ons? Daniel (net soos die boek Openbaring) is in hoofsaak ‘n boodskap van troos en aanmoediging vir God se kinders om te volhard in moeilike tye! Dis om vir jou wat volhard te bemoedig en te sê – moenie moed verloor nie, daar wag vir jou ‘n ewige sterretoekoms in die teenwoordigheid van God. JUIG! 

Tog is hier ook ‘n duidelike boodskap vir die onbekeerdes, die Here waarsku jou om jou nog ‘n kans te gee. Gebruik dit anders wag daar vir jou ‘n afgryslike einde. Amen.

LUISTER GERUS BY STERREHEMEL 

op YouTube.