- maar steeds 'n helder getuienis!
Sy teks vir die vermoordes se roudiens was :
Kliek op Geweerskote
- want ek glo in die EWIGE LEWE!
[Ons lees Johannes 17:1-4]
Ons word vandag gekonfronteer met die harde
werklikheid van sonde en dood. (Net weer ‘n herinnering, dood het in die wêreld
gekom vanweë Adam se sonde.) Maar gelukkig het sonde en dood nie die laaste sê
nie, want Jesus het gekom om vir ons redding te bring. Dit kom so kragtig en
treffend na vore in Jesus se gebed vir sy dissipels kort voor die
kruisiging. Ek gaan net ‘n paar elemente
rakende hierdie redding uitlig vanuit die eerste vier verse.
1. Ons redding
gaan alles oor die verheerliking en eer van God. “Die uur het aangebreek”. (1) Dis die
voorafbepaalde tyd vir Jesus se sterwe en opstanding – sy lyding maar ook sy
verheerliking. Jesus weet hierdie uur gaan vir Hom bittere lyding kos, maar dis
God se wil en dit gaan lei tot God se verheerliking! Die verheerliking van God
is al wat vir Jesus saak maak. In die
hele Bybelse drama en God se wonderlike plan in Jesus gaan dit nie oor die mens as die middelpunt nie,
maar oor God! Jesus se gebed dat die Vader Hom moet verheerlik, is ‘n bewys
en uitdrukking van sy gewilligheid om Homself te onderwerp aan die Vader se
plan van verheerliking nl. die kruis. Jesus
se gesindheid hier het ook vir ons ‘n duidelike boodskap : God het ons
gemaak tot sy eer, God het beplan om ons te red tot sy eer! Daar kan nie ‘n
groter doelwit wees as God self nie,
want God is die hoogste en absolute goedheid en heerlikheid. Ons as mense kan
net vervulling vind as God verheerlik word. Die boodskap van die hele Bybel is
GODGESENTREERD! God is in die middelpunt. Die skepping bestaan om God te eer.
Die mens as die kroon van die skepping is spesifiek geskep om doelbewus God te
eer deur in gemeenskap net hom te leef. Die redding van die gevalle mens gaan
oor die eer van God. Die eer van God is die hoogste doelwit, maar juis ook ons
grootste diepste vreugde! (God se eer en ons vreugde en vervulling bots nie.
Ons is die gelukkigste as ons God eer. En God word juis die meeste geëer as ons
ware geluk in Hom beleef! Kinders van
God kan Hom ook juis op ‘n dag soos hierdie eer, in die skadu van die dood, ook
langs ‘n oop graf!!
2.Ons redding
is moontlik en gebeur omdat Jesus se mag so groot is.
Die Vader het aan Jesus gesag/outoriteit oor die “hele mensdom” gegee!
(2) Alle mag en gesag! Ons redding is
gelukkig dus nie afhanklik van ons krag en vermoëns nie Jesus is die kragtige Verlosser. Vgl. Johannes 10:28 Die duiwel en bose magte en die DOOD het nie
die laaste sê nie, die duiwel (en sy meelopers soos Judas en die Jode) kan nie
Jesus se Verlossingswerk ongedaan maak of belemmer nie. Ja, dit lyk soms so…
die kruis het bewys dat wat soos ‘n oorwinning lyk vir Satan juis sy nederlaag
is!
3. Ons redding
is gegrond op God se ewige plan en wil van voor die skepping af. “sodat Hy aan elkeen wat U
Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.” (2) Dit sluit treffend aan by dit wat Jesus reeds
in Johannes 6:37! “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal
die een wat na My kom, nooit verstoot nie;” Voor die grondlegging van die wêreld
het God ‘n bruid gekies vir sy Seun en aan sy Seun gegee. Die verlostes. Dis
nie ‘n plan B of ‘n laat nagedagte nie, dit was nie ‘n skielike noodplan nie. Dis God se volmaakte en enigste plan tot sy
verheerliking! Die heerlike waarheid is dat Jesus God se ewige plan volledig en
volmaak foutloos uitgevoer het – “Dis volbring.”
4.Ons redding
beteken die ontvangs van die ewige lewe. Ons bely elke Sondag – “Ek glo in ‘n
ewige lewe.” Wat beteken dit? Wie het dit?
Jesus “gee” die ewige lewe. (2) Ons
ontvang dit as geskenk. Wat is dit? Dit
behels nie bloot ‘n lang lewe nie of aardse bestaan nie. (3) Dis om die ware God en sy seun Jesus te
ken. LW – nie net van te weet nie!
Daarom is die hoofdoel van ons lewe hier op aarde om God en sy Seun
Jesus te leer ken – dit moet ons fokus wees! Ewige lewe is ‘n lewe saam met
God. Dit begin nou reeds, die oomblik wanneer ek Jesus aanvaar as Here en so
met die Vader versoen word. Lewe sonder God, sonder Jesus is nou reeds die dood,
dis ‘n doodsbestaan, dis sinneloos.
5.Ons redding
word gewaarborg deur Jesus se volmaakte werk aan die kruis. Sonde is my probleem, sonde
is dit wat maak dat ek nie voor God kan verskyn nie, nie ‘n heilige God kan
aanbid nie, maak dat ek die regverdige wraak van God moet vrees. Jesus bid
hierdie gebed kort voor sy kruisiging. Dis die fokus en klimaks van sy aardse
werk. Sy kruisdood, is die genoegsame offer wat vir my vrede en gemoedsrus
bring! Om Jesus te ken as Verlosser is my enigste troos in lewe en sterwe.
Ons kan bietjie wegkyk van onsself en ons hartseer en
ons verheug oor God se wonderlike verlossingswerk in Jesus! Dit vul ons harte
met vastigheid en sekerheid en blydskap ook in die aangesig van die dood. Ja,
al huil ons trane kan ons tussen deur die trane juig oor die ewige lewe. Die
dood het nie die finale sê nie!
- wat wag vir God se kinders!
[Ons lees saam uit God se Woord - Daniël 12:1-3]
Die Bybel is ‘n
boek van sterk teenoorgesteldes en kontraste. Een deurlopende algemene kontras
is die verskil tussen regverdiges en die onregverdiges, die wat God gehoorsaam
en die wat God nie gehoorsaam nie, diegene wat IN Jesus is en diegene wat BUITE
Jesus is! God maak onderskeid tussen mense! Baie algemeen hoor mens as iemand
tot sterwe kom : “Hy/sy is nou op ‘n beter plek.” Dis baie waar dat God se
kinders wat gesterf het, reeds op ‘n beter plek is, maar dis nie waar van alle
mense nie.
God is nie maar OK met alle mense nie. Kom ons blaai so bietjie deur die Bybelse geskiedenis : Kain en Abel (een se offer word verwerp, die ander een s'n aangeneem), Noag en sy familie word gered teenoor die res van die mensdom wat verdrink, die Israeliete in Egipte wat die Paaslam geslag het teenoor die Egiptenare wat nie 'n paaslam geslag het nie,
In die Nuwe Testament word die skeiding al hoe duideliker - reeds by Jesus se geboorte word die skeiding duidelik – Herodes wil Jesus doodmaak, die herders en wyse manne bring eer aan Hom. Opvallend in die Nuwe Testament is dat baie mense wat godsdienstig was en die Bybel (OT Geskrifte) geken het, Jesus verwerp het, maar dat sondaars en gebroke mense Jesus se boodskap van bekering en vergifnis aangegryp het – Saggeus en Levi – skelm tollenaars, die gebroke Samaritaanse vrou word volgelinge van Jesus. Johannes berei ons in sy evangelie voor vir hierdie skeidng en onderskeid:
Die boek Openbaring is natuurlik ook vol van hierdie kontraste – die prostituut Babilon wat geoordeel word, en die bruid , die nuwe Jerusalem wat gered word. Die onreines en leuenaars moet buite die heerlike stad bly en net diegene met wit klere wat gewas is in die bloed van die Lam mag binnegaan. Jesus waarsku in Matteus 25 oor die finale oordeel en beskryf dit i.t.v. die skeiding tussen die skape en die bokke. En dan verwys Jesus spesifiek na die woorde van Daniël 12 in ons gelese gedeelte. “Hierdie mense (onregverdiges) sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na die ewige lewe.” (Matteus 25:46) Die volmaak liefdevolle Jesus het nooit gesê alle mense sal eendag op ‘n beter plek wees nie!
Terug by Daniël... Jesus het die boek Daniel baie goed geken. Net so terloops – Jesus se titel wat Hy vir Homself gebruik het “Seun van die mens” kom ook uit Daniel (hoofstuk 7) Kom ons gaan net so kortliks deur hierdie drie verse.
Daniël 12:1-3
Vers 1 “In dié tyd” verwys na
die konflik in die vorige hoofstuk. Dis
die tyd van verdrukking, geweld, martelaarskap. Dis ook die tyd waarin baie van
God se mense afvallig sal word. Maar diegene wat waarlik vir God ken sal
weerstand bied teen die misleiding en versoekings. Aan die einde van hierdie
tyd van verdrukking sal God uitkoms bring. Ons lees van Migael wat ‘n rol sal
speel. Migael is die aartsengel wat teen die bose oorlog voer (Openbaring 12:7) Sy
taak is die beskerming van God se mense. Die finale verlossing van God se kinders
is verseker – elkeen wie se naam in die boekrol opgeskryf is – die boek van die lewe waarvan ons in
Openbaring lees.
Vers 2. Dis na hierdie vers wat Jesus verwys in sy beskrywing
van die oordeel (tussen die skape en die bokke)
Kom ons kyk mooi hierna :
In die konflik wat die finale oordeel voorafgaan (dis nou in hierdie tyd waarin ek en jy ook leef...) sterf beide Godvresendes en goddeloses. Opmerklik. Hulle “slaap”. Dis ‘n metafoor vir die dood en suggereer dat die dood hier op aarde net ‘n tydelike situasie is. AL die dooies sal opstaan - Vanuit die Nuwe Testament weet ons Daniëll verwys na die algemene opstanding voor die finale oordeel. “Baie” het hier die betekenis van almal. In die Nuwe Testament leer ons duidelik alle mense van alle tye sal uit die grafte opstaan om geoordeel te word.
Almal wat uit die dood sal opstaan gaan egter nie na dieselfde bestemming nie. Daar is twee absoluut kontrasterende en uiteenlopende bestemmings vir die mens in die lewe hierna.
EWIGE LEWE en EWIGE AFGRYSLIKE SKANDE!
Dis ‘n basiese Bybelse
lering – ons vind dit beide in die Ou en die Nuwe Testament. Ons vind dit voor Jesus (soos
hier) en na Jesus se koms – Hy leer dit op baie plekke. Die tragedie is dat die
algemene publiek, en ook baie kerkmense nie meer hierdie waarheid van die
oordeel en skeiding glo nie! En daarom word daar so ligtelik van almal wat
sterf gesê – “HY/SY is nou op ‘n beter plek”
Vers 3 Dis opvallend dat Daniel nie verder uitbrei oor die ellende van die goddeloses nie, maar wel die heerlikheid van die verstandiges beklemtoon. Die verstandiges is diegene wat insig het in God se wil. Die verstandiges (in Nuwe Testamentiese konteks) is diegene wat aan Jesus behoort. Die verstandiges is die wat gereed is om die Bruidegom Jesus te ontmoet (Dink sommer aan die Gelykenis van die tien meisies)
Vir die getroues wag 'n heerlike toekoms! Daniël
vergelyk die heerlikheid wat vir God se kinders wag met die sterreglans van
die hemelkoepel. Skitterend, helder en heerlik!
Opmerklik - Die verstandiges hou nie die waarheid vir
hulleself nie, maar deel dit met ander. Hulle lei ander om die regte dinge te
doen. Geliefde, hoe klink jou woorde en hoe lyk jou voorbeeld – spoor dit ander
mense aan om Jesus te volg en Hom te gehoorsaam deur regverdige dade te doen?
Wat is die hoof boodskap vir ons? Daniel (net soos die boek Openbaring) is in hoofsaak ‘n boodskap van troos en aanmoediging vir God se kinders om te volhard in moeilike tye! Dis om vir jou wat volhard te bemoedig en te sê – moenie moed verloor nie, daar wag vir jou ‘n ewige sterretoekoms in die teenwoordigheid van God. JUIG!
Tog is hier ook ‘n duidelike boodskap
vir die onbekeerdes, die Here waarsku jou om jou nog ‘n kans te gee. Gebruik
dit anders wag daar vir jou ‘n afgryslike einde. Amen.
LUISTER GERUS BY STERREHEMEL
op YouTube.